Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jong man maak spogrokke
30 Oktober 2019


Elke meisie droom van kleins af oor haar matriekafskeid- en trourok. Die ontwerp verander dalk oor die jare, maar die opgewondenheid, drome van jou ridder op sy wit perd of lang, slap kar word net sterker – al is dit net vir een aand. Dagdrome oor die perfekte rok is gewoonlik ’n meisiekind-ding. Of só het Gabrio Swartz (24), van Ceres altyd gedink.

Van kleins af was een van sy gunstelingaktiwiteite om saam met sy ma, Elizabeth Jakobs (45), deur die deftige winkelsentrums van Pretoria, waar hy gebore is, te loop en homself te vergaap aan veral die pragtige trourokke – die fyn detail, die uniekheid. “Al wat vir my uitgestaan het, was die trourokke. Dit het my nog altyd gefassineer,” lag hy.

Tog het hy sy belangstelling in klere onder die mat ingevee, “want dis mos nie goed vir ’n ou nie”, lag die aantreklike man met sy modieuse hare in die wendy wat hy saam met sy ma en haar man deel. ’n Noodkreet in 2016 van sy niggie, wat nie baie geld gehad het vir haar matriekafskeidrok nie, het uiteindelik vir Gabrio geïnspireer om te begin eksperimenteer met iets wat hy van kleins af net van die kantlyne af bewonder het. “Sy wou iets spesifieks gehad het en ek het besluit ek gaan daardie kans vat, die uitdaging met albei hande aangryp. Sy was desperaat, so sy moes my vertrou,” vertel hy.

Leer homself

Van Gabrio se unieke skeppings.

Hoewel hy nog altyd baie handig en kuns-tig was, het Gabrio op daardie stadium nog nooit met ’n naald gewerk nie. Hy moes ’n ou naaldwerkmasjien by iemand leen en ’n antie moes hom wys hoe om die ding te bedraad. Sy niggie het ook nie ’n patroon vir haar idee gehad nie, so Gabrio moes ook die hele rok ontwerp. “Ek het nie ’n patroon gehad nie, ek het nie ’n clue gehad nie!” verklap hy.

Hy het homself stuk vir stuk geleer en selfs uitgewerk dit werk vir hom makliker om sy patrone uit plastieksakkies te maak. En dít, al het hy niks van ’n naat of ’n steek geweet nie! “Dit is iets waarmee ek gebore is, glo ek. Dit kom al vandat ek klein was,” vertel Gabrio met ’n trotse glimlag en oë wat skitter. Gelukkig vir hom en sy niggie, was die rok ’n sukses! “Die sleep, wat jy kon afhaal, was amper drie meter lank, so dit was groter as my kamer. Ek moes plan maak hoe ek daai patroon gaan uitsny en die rok maak!”

Tot vandag toe is dit steeds sy gunstelingskepping. Hy was op ’n stadium ’n assistent by ’n laerskool en het ook bemarkingsbestuur begin swot. “Maar toe die gogga my byt, toe být hy my,” lag Gabrio. En dag ná dag werk hy nou onverpoos man-alleen daaraan om sprokiesrokke vir vroue te skep. Dit is duidelik Gabrio is nie iemand wat daaraan glo om klein en eenvoudig te begin nie, want sy tweede skepping was sy eie ma se trourok – wat hy van begin tot einde op sy eie ontwerp en gemaak het.

“Dis my passie, en as iets jou passie is, gebeur dinge makliker. Ek sê nie dis nie moeilik nie, maar passie help beslis,” verduidelik hy. Hy wou aanvanklik sy talent anoniem hou, maar sy trotste ma wou niks weet nie en vertel vir almal wat sal luister van Gabrio se pragtige skeppings.

“Ek wou eintlik net een keer probeer en klaar, maar my ma is iets anders! Ek kan haar nie blameer nie, want sy is maar net ’n trotse ma,” lag hy. Sy pa is ook baie trots op sy ontwerper-seun. Vir Gabrio het dit aanvanklik gevoel dit is nie ’n werk vir ’n man nie en vroue sal nie na hom toe wil kom nie. “Dit het vir my ’n bietjie ongemaklik gevoel om die afmetings te doen aan die begin, maar snaaks genoeg was die mense nooit sku vir my nie,” onthou hy.

Werk hard

Hy het ook sy ma se trourok gemaak.

Die woord het versprei en Gabrio het intussen al 15 unieke rokke gemaak. Dit neem hom gewoonlik so tussen twee tot drie weke per skepping, waar hy dag in en dag uit werk om volmaaktheid te bereik. “Dis van materiaal koop, die rok ontwerp, ’n patroon uitsny, passings tot die finale produk . . . Dis harde werk, maar ek dink die ontwerp-gedeelte is my gunsteling.”

Hy verduidelik dit is amper soos om geboorte te gee – die pyn en lyding, die twyfel of jy dit kan doen, maar as die baba (of die rok) eers daar is, vergeet jy van al die sukkel, laat nagte en moedeloosheid en is hy net so verras oor die eindproduk as die kliënt. Gabrio hou daarvan om sy kliënte tevrede te stel – selfs al moet hy sy vingers stompies werk.

“Jy kan mos nie ’n vrou op haar spesiale dag in die steek laat nie.” Só het hy beslis bewys nadat hy sy antie se rok van scratch af binne ’n dag gemaak het – die dag voor haar troue! – omdat sy probleme opgetel het met haar oorspronklike rok. “As ’n mens in só ’n loopbaan is, dan is dit amper meer as net voltyds, want dit vat nogal baie tyd. Ek werk soms nagte om om ’n rok betyds klaar en net reg te kry,” verduidelik Gabrio.

Die jong man, met sy eenvoudige begin, se droom is om eendag sy eie boutique, studio en fabriek te hê, vir ander werk te skep, om ’n ontwerper in Ceres te wees en om vir Beyoncé in een van sy skeppings te sien. “Ek wil mense tevrede stel, ek wil gróót gaan,” vertel hy skaam. “Dit wat ek tot nou gedoen het, is maar net die begin . . .” Hy staan skielik op en gaan haal ’n dik boek vol sketse. “Saans, as ek op my bed lê, kom daar net rok ná rok in my gedagtes op en dan moet ek dit net teken. Ek kry inspirasie uit ’n boomstam, ’n veertjie op die grond, enigiets uit die natuur.”

Só duidelik is sy “visioene” dat hy dadelik presies weet watter kleur en watter materiaal die rok moet wees, alles tot die laaste detail. Hy kan homself nie indink dat hy ooit iets anders sal doen nie – in sy hart is hy ’n ontwerper, finish en klaar. So met die agterkant van ’n kas wat hy neerlê bo-op sy bed as werkoppervlak, droom hy groot.

Hoewel Gabrio met ’n ou, eenvoudige naaldwerkmasjien met min gereedskap in sy klein kamertjie werk, het hy geen twyfel oor sy toekoms nie en laat hy nie toe dat enigiets hom terughou nie. Hy is egter versigtig om te veel kliënte aan te vat en homself uit te brand, terwyl hy nie die regte toerusting het nie. Sonder ’n steek opleiding, toegerus met net passie en deursettingsvermoë, doen Gabrio elke dag sy deel om die wêreld ’n mooier plek te maak.

As ’n mens in só ’n loopbaan is, dan is dit amper meer as net voltyds, want dit vat nogal baie tyd. Ek werk soms nagte om om ’n rok betyds klaar en net reg te kry.
Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.