Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jong onnie suksesvol ná gesukkel
19 Februarie


Een van sy eerste herinneringe as kind, was die dag toe sy ouma gesterf het terwyl hy op haar skoot gesit het. Tog het ’n leeftyd van hartseer en terugslae nie Dillon Seals (25) se passie vir die lewe gekelder nie en hy het ook nie homself toegelaat om dit as verskoning te gebruik om te gaan lê nie.

As kind van Eersterivier buite Kaapstad het Dillon reeds ’n liefde vir wiskunde en wetenskap gehad en sy droom was altyd om ’n onder-wyser te word. “Op hoërskool was ek altyd die topstudent, selfs in matriek,” vertel hy.

Dillon het BSc. Veekunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna het hy ook ’n nagraadse kwalifikasie in onderwys behaal. Hy het cum laude (met lof) geslaag – dit ten spyte van die groot hartseer wat sy familie in daardie tyd getref het.

“In my eerste jaar (2013) het my oupa, Abraham, aan wie ek baie geheg was, skielik afgesterf. Dit was baie heavy,” erken Dillon. Die man na wie hy so opgekyk het, is oorlede aan komplikasies van diabetes. Tog het Dillon sy eerste jaar met vlieënde vaandels geslaag.

Dillon is nou ’n onderwyser in Eersterivier.

Pa in groot gevaar

Dít nadat sy geliefde ouma voor sy oë gesterf het aan ’n massiewe hartaanval toe hy maar vier jaar oud was. “Ek het in die kar op haar skoot gesit. Sy het begin siek voel en toe jaag my ouers dokter toe, maar dit was te laat . . .” onthou Dillon.

Die lewe se storms was egter nog nie klaar met Dillon en sy familie nie. Tydens die eindeksamen van sy tweede jaar het hy weer deur donker dieptes gegaan. Sy pa, Herman (54) ’n kolonel in die polisie, sukkel al jare met hoë bloed en diabetes.

“Hy was opgeneem in die hospitaal en toe roep hulle my in om te sê my pa het daai dag twee hartaanvalle gehad en as hy nie ingekom het nie, sou hy dood gewees het.”

Dokters het aan hulle verduidelik die diabetes het al vier are rondom sy pa se hart blokkeer en daaraan begin wegvreet. “Hulle kon nie vir hom stents insit om die are te verbreed nie, maar moes ’n volle heart bypass doen en al vier are vervang.”

Volgens Dillon moes medici sy borskas oopmaak en twee are daaruit haal, een uit sy arm en een uit sy been om die opgebruikte are van sy hart mee te vervang. “Dokters het gewaarsku die kans is groot dat hy dit nie sou maak nie en as ons dit só sou los, sou ons hom verloor. Omdat ons baie gelowig is, het ons eers gebid daaroor en die Here vertrou daarmee.” Die operasie het langer as 10 ure geduur.

“Toe hulle sy borskas weer toemaak, het die hoofslagaar losgekom en my pa het vir amper ’n minuut bloed verloor en sy brein moes vir daai tyd sonder suurstof klaarkom,” vertel Dillon saggies en raak ’n oomblik stil. Volgens die dokters was sy pa toe op life support en hulle het nie geweet of hy sal kan hoor of sien nie, want hy het nie onmiddellik gereageer nie. Hoewel hulle dadelik tuis ’n biduur gehou het, het sy ma, Theresa (54), ’n adjunk-offisier in die weermag, en sy suster die nuus baie swaar gevat.

“Ek moes maar sterk wees as die man van die huis,” sê hy. Hy erken hy het tuisgekom en vir ’n paar oomblikke alleen in sy kamer gaan huil. Dillon staar vir ’n rukkie by die venster uit terwyl hy daai uitmergelende dae onthou. Hy vee ’n traan af en gesels aan. “Sorry, man, dat ek só raak. Dis seker omdat ’n mens nooit hieroor praat nie.” Sy pa was baie siek.

Sy liggaam wou nie die nuwe are aanvaar nie en sy bloeddruk en suiker het die hoogte ingeskiet. “Hulle het regtig gedog hy gaan dit nie maak nie.” Dis in hierdie tyd wat Dillon met sy eksamens moes begin.

“Ek het gevoel dis wat my pa sou wou gehad het.” Hy vertel trots sy ma het hom grootgemaak dat hulle moet werk vir dit wat hulle wil bereik en nooit tou opgooi nie. Stadig maar seker is hul gebede verhoor. In die tweede week het Herman se sig begin terugkeer – iets wat dokters as ’n wonderwerk beskryf het.

Hy moes weer van voor af leer loop en goed vashou. Hy moes ook terapie kry om sy long, wat platgeval het, te versterk. Hoewel dit ’n moeilike jaar was vir die Seals-gesin, het almal oorleef en Dillon het ondanks alles sy jaar suksesvol voltooi. In die middel van sy derde jaar is Herman weer opgeneem vir hartversaking, maar wonder bo wonder het hy dit oorleef.

Maar as gevolg van die siektes, het Dillon baie klasse gemis in sy derde jaar, wat beteken het sy vakke het opgehoop. Hy kon nie vir al sy vakke registreer in sy vierde en finale jaar nie aangesien hy reeds 13 vakke moes voltooi en drie vakke het oorgestaan na die volgende jaar.

Siekte tref hom

“En toe raak ek verskriklik siek,” onthul hy. Hoewel hy sy lewe lank met hoofpyne gesukkel het, het dit skielik intens vererger en vermeerder. Dokters kon nie verstaan wat aangaan nie. “Ek kon glad nie konsentreer nie en dit het gelyk asof my visie self weggaan.”

Ek het net vir myself gesê ek het te ver gekom om nou handdoek in te gooi. Jy moet veg vir dit wat jy weet joune is, want as jy nie vir jouself veg nie, gaan niemand nie.

Dillon is uiteindelik gediagnoseer met intrakraniale hipertensie – ’n toestand wat oënskynlik sonder rede verskyn en is gewoonlik as gevolg van ’n ander siekte. Dit is hoë bloeddruk met ’n skielike en groot toename in breindruk en die algemeenste simptome is hoofpyn, sigprobleme, ’n gesuis in jou ore en skouerpyn. Komplikasies kan tot blindheid lei.

“Die senuwees op my oog was so vernou dat die bloed nie reg daardeur kon vloei nie. Dit kon nie reg vloei na die brein nie en dis hoekom ek sulke intense hoofpyne ervaar het,” sê hy. Wat hom bekommer het, was toe hy saans nie meer kon bestuur nie omdat hy nie behoorlik kon sien nie. Dokters het gewaarsku daar is ’n groot kans vir blindheid.

“Op 21 was dít ’n groot emosionele skok. Ek moes dadelik aggressiewe behandeling ontvang en elke drie tot ses maande gaan vir lumbar punctures sodat hulle die vog van my brein af kon dreineer. Die lumbar punctures het elke keer my hele lyf in ’n spasma in laat gaan. Maar ek het selfs toe besef die Here het ’n plan met my.”

Omdat hy elke paar maande vir ’n paar maande in die hospitaal moes bly, moes hy noodgedwonge sy studies opsy skuif. Aanvanklik wou die universiteit nie hê hy moes later terugkom om sy uitstaande drie vakke te voltooi nie omdat hy te veel klasse gemis het. Ná ’n appèlproses is Dillon nie net toegelaat om sy BSc-graad voort te sit nie, maar hy het ook terselfdertyd in 2019 sy PGCE-nagraadse onderwyskwalifikasie cum laude voltooi. Dit beteken hy het in dieselfde jaar beide kwalifikasies (met agt onderskeidings) verwerf!

“Ek het net vir myself gesê ek het te ver gekom om nou handdoek in te gooi. Jy moet veg vir dit wat jy weet joune is, want as jy nie vir jouself veg nie, gaan niemand nie,” sê hy vasbeslote.

Vir eers is sy toestand onder beheer (met mediese behandeling), maar Dillon glo as dit die Here se wil is, sal hy binnekort alle medikasie kan staak. In Januarie vanjaar het Dillon begin as opvoeder by Apex Hoërskool in Eersterivier waar hy wiskunde gee vir graad agt tot 11. Hy het sy passie vir onderwys ontdek toe hy ná skool gratis tutoring-klasse vir minderbevoorregte kinders aangebied het. Dit is Dillon se hoop en wens dat sy verhaal ander mense, maar veral studente, sal aanmoedig en motiveer wanneer hulle die aanslae van die lewe trotseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.