Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mening: Jou kind bly jou prioriteit
01 Mei 2019

Teen hierdie tyd is die opspraakwekkende dokumentêre programme oor R. Kelly en Michael Jackson se beweerde seksuele misbruik van onderskeidelik minderjarige meisies en seuns, al in baie se agterkop. Want dis net die tye waarin ons vandag lewe – ’n storie is groot totdat nóg ’n grote gebreek word en nuushooftrekke oorheers.

Maar ek is nie een van daardie mense wat sommer iets kan laat gaan nie, veral nie as dit aan my binneste krap of wanneer dit kinders of vroue betref nie. Want ek is ’n vrou én ek is ’n ma.

Die dokumentêre programme – Surviving R. Kelly en Leaving Neverland (oor Michael) – krap stééds aan my. Die argument oor of ons steeds na hul musiek moet luister, is iets waaroor baie al gepraat het en dalk nog oor verdeeld voel.

Maar dís nie waaroor ek wakker lê nie. Sedert hierdie bewerings en nadat ek beide programme gekyk het, wil ek weet: waar was die kinders se ma’s?

Ja, ek weet alles is in dié stadium bewerings omdat nie R. Kelly of Michael, toe hy gelewe het, al deur ’n hof skuldig bevind is aan wandade teenoor minderjariges nie. Dit was vir aanhangers net té ongelooflik om te dink R. Kelly en Michael sou vieslike seksuele dade met kinders pleeg.

Enigeen wat al gewaag het om hul beweerde storie van seksuele misbruik deur dié musiek-ikone te vertel, is as geldgierig en aandagsoekeriguitgebeeld. Maar ek het al te veel in die lewe gesien en weet die ondenkbare ís moontlik, selfs van mense van wie jy nooit iets slegs sal verwag nie.

Ek hou nie daarvan om vinger na enigeen te wys as ek nog nie self in iemand se skoene was nie, maar ek is jammer, in hierdie gevalle is dit vir my baie moeilik om my mond te hou.

In die geval van R. Kelly kan ek van die ma’s se situasie nog verstaan, want een van sy beweerde slagoffers het vertel dit was makliker vir haar om sonder haar ma se medewete na sy huis te gaan omdat haar (enkel-)ma so baie gewerk het.

Moederinstink is nie 'n opgemaakte ding nie - dis eg.
Ernusta Maralack

Dis ook ’n realiteit vir ma’s in die Kuier-gemeenskap – selfs dié wat getroud is. En as jy jonk is, sal jy ’n manier vind om uit te sluip en jou dinge geheim te hou vir solank as wat jy kan. En ’n mens kan dié ma’s nie hiervoor judge nie; ook nie regtig die tieners nie, want hulle is in ’n fase waar hulle wil eksperimenteer.

Ernusta Maralack Foto: Donna Lewis

Vir mans soos R. Kelly, wat boonop kinders van sy eie het, raak ek boos, want hy is die volwassene wat moet weet minderjarige meisies is off limits. Punt. Trek die lyn! Maar hy het sy status as “R&B-koning” heeltemal tot sy voordeel gebruik om meisies te manipuleer en te misbruik.

En Michael dieselfde. Die argument dat “hyself nie ’n kinderlewe gehad het nie en daarom so lief was vir kinders” kon ek nog opeet toe ek jonk en naïef was, maar toe ek ’n ma word, het ek in ’n leeuwyfie verander wat my welpies met alles in my sal beskerm. ’n Ma ken haar kind beter as enigeen. Moederinstink is nie ’n opgemaakte ding nie – dis eg. Jy kan aanvoel as iets nie reg is nie en in sommige gevalle kan jy selfs aanvoel iets gaan of het met jou kind gebeur.

Dis hoekom ek nie kon verstaan dat Wade Robson en Jimmy Safechuck, wat die “hoofkarakters” is in Leaving Neverland, se ma’s nie Michael se verhouding met hul seuns Z wat toe baie jonk was Z vreemd gevind het nie. Dis een ding om vriendelik met ’n kind te wees, maar om toe te laat dat ’n groot man saam met jou kind in ’n bed slaap, is net vir my een te veel. In haar onderhoud in deel een van Leaving Neverland vertel Wade se ma, Joy, hoe sy en Wade se suster op ’n tyd in ’n vertrek was terwyl Michael en Wade alleen in ’n slaapkamer was. Op meer as een geleentheid. As dit regtig onskuldig was, hoekom was die deur altyd toe?

Ek kan hierdie ma’s verskoon dat hulle meegevoer was deur Michael se ikoonstatus en spesiaal gevoel het dat hy húlle gekies het om deel te wees van sy binnekring. Maar vir my het hulle net hier hul kinders gefaal. Ek glo hulle het hul instinkte geïgnoreer. As ma is jou eerste en grootste verantwoordelikheid om jou kind te beskerm, teen enigeen – ongeag hul status in die lewe of in jóú lewe.

’n Kenner het eendag vir my gesê, selfs al het jy net ’n een persent krappigheid oor iemand se optrede teenoor jou kind, stap weg, tree in, doen iets, maar moenie hulle netso blindelings vir die wolwe gooi nie. As ma is dít jou plig; nie om die vrede te bewaar of eendag te kan sê, “ek het iemand famous geken” nie!

Meer oor:  Kuier  |  Ouerskap  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.