Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Dís hoe jy tantrums kan hanteer
18 Maart 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images


Jou kleuter begin ruk en pluk aan jou mou en skree sy wil ’n sjokolade hê – in die middel van ’n besige winkel. En as jy nee sê, bars sy los met en gooi ’n tantrum wat die dak van die supermark laat lig. Jy wil jou oë uit jou kop uit skaam. Jy is nie alleen nie.

Menige ouer was al met hul hande in hul hare wanneer hul engelkind skielik in die publiek in ’n klein duiwel verander. Veral as omstanders jou half-veroordelend, half-jammerhartig aankyk.

Die bekende radio- en TV-persoonlikheid Elana Afrika-Bredenkamp, ma van Esther Beth (4) en Annabelle (3), sê dis onregverdig om te verwag dat kinders altyd sal weet hoe om hul emosies te beheer. “Volwassenes weet dan nie eens hoe nie,” sê sy. Elana het ’n “emosie-kaart” (met emojis) op drie plekke in haar huis opgeplak: in die slaapkamer, op die yskas en teen die voordeur.

“Wanneer ons daar is, moet hulle wys hoe hulle voel. Hulle druk dan op die emojis. Enigiets van gelukkig, hartseer, kwaad, bang . . .” En ja, sy glo tantrums is oukei, dit is kinders se manier om uiting aan hul gevoelens te gee. “Ek verduidelik wel daar is gevolge wanneer hulle dit doen en sê byvoorbeeld hulle moet dié sin voltooi: ‘As ek ’n vloermoer gooi omdat Mamma nie vir my ’n speelding koop nie, dan sal XYZ (hulle moet invoeg) gebeur.’ “Dit leer hulle dat sekere gedrag gevolge inhou. As hulle dít verstaan, sal hulle ook begryp hoekom jy hulle straf as hulle nie mooi optree nie.”

Elana wíl weet wat haar kinders kwaad maak. “Ek gesels baie met hulle, want dan begryp ek wat in hul koppies aangaan. Hulle het nog nie so ’n groot woordeskat om te verduidelik wat hulle ervaar nie.”

Haar man en bestuurder, die entrepreneur Ian Bredenkamp, stem saam. Net so hou klein Sophia (5) en Nina (8) van Brigetta en Warren Joubert van Stellenbosch, hul ouers ook op hul tone. Brigetta is ’n senior koshuisplasingsbeampte in die afdeling vir studentetoegang aan die Universiteit Stellenbosch en Warren is ’n wetenskaplike navorser in oseaan-en-atmosferiese wetenskap.

Sy sê: “Kinders volg dikwels die voorbeeld van hul ouers. As uitgeputte werkende ma, stel ek soms ’n slegte voorbeeld deur met hulle te raas wanneer hulle stout is. Eerstens moet ek aan myself – my eie emosies – werk en dis ’n daaglikse leerproses.”

Brigetta reken om woede en frustrasie in te hou, is ongesond. “Ek probeer my dogters leer daar is altyd oplossings vir probleme en dit is belangrik om daaroor te praat, eerder as om dit te ontken.” Sy vind soms wanneer die twee baklei en baie ongeduldig met mekaar is, is dit juis omdat hulle sukkel om op ’n gesonde manier met hul emosies te deal.

“Soms laat ek hulle eers ’n ruk begaan om te kyk of hulle self maniere vind om die konflik te ontlont, maar wanneer hulle op mekaar begin skree, gryp ek of Warren gewoonlik in en vra wat pla.” Wanneer haar kinders ongeskik met mekaar (of hul ouers is), word hulle toegang tot die geliefde televisie of hul tablet (iPad) verbied. “Kinders wil gehoor word, so ouers moet mooi luister na hul emosionele behoeftes,” meen Brigetta.

Hanteer emosies

Ouer kinders sukkel ook soms om emosies te hanteer. Chrizelda van Reenen, ’n bankbestuurder, getroud met Craig, ’n adjunk-brandweerhoof, van Stellenbosch sê dit is belangrik dat hul seuns daagliks vertel wat hulle gelukkig en ongelukkig maak. “Daniel (13) het gewoonlik ‘stilstuipe’ as dinge nie glad verloop nie, terwyl Adam (9) graag sy storie(s) deel,” vertel Chrizelda. Daar is dae wat Chrizelda aanvoel dat hulle gefrustreerd is en ander dae moet sy bietjie “woel” om uit te vind wat broei.

“Adam is baie aktief en ná hy van sy energie in die tuin ontslae geraak het, hanteer hy sy frustrasie beter. Daniel vat sy tyd voor hy met ons praat, maar hy weet hy kán altyd.” Chrizelda glo kinders wat weet hoe om hul emosies reg te bestuur, het ’n gesonde grondslag om as volwassenes die hantering van konflik te bemeester. Om dié rede glo sy aan die beginsels van “emosionele intelligensie” – empatie en die belangrikheid om ander se standpunte in te sien. “Dis moeilik om kinders dié dinge te leer, want ons leef in ’n vinnige wêreld met sosiale media en elektronika. Alles gaan oor kitsbevrediging. Maar ek probeer.”

Dié ouerpaar glo aan dissipline en stuur duidelike boodskappe sodat hul seuns presies weet wat hul grense is. “Dit laat hulle veilig voel. Anders vat hulle kanse. Hulle mag altyd sê wat hulle voel en dink. Dít keer emosionele ‘ontploffings’. ”

Noudat haar seuns ouer is, leer sy hulle die gevaar van impulsiewe besluite. “Tree eerder terug en probeer lastige situasies verwerk. Dit is nie die moeite werd om onnodige energie te vermors op dinge wat jou ontstel nie.” Chrizelda glo jy moet eienaarskap vir emosies (en probleme) vat. “Deur self hul eie emosies te bestuur, word hulle bemagtig. Ons is altyd daar as hulle wil raad vra.”

WAT SÊ DIE KENNERS?

Lenka de Villiers-van Zyl, ’n berader en spelterapeut van Kaapstad:

• Spandeer daagliks minstens twintig minute met jou kind en gesels in ’n ontspanne omgewing. Dít bevredig hul emosionele behoeftes, wat moontlike ontploffings keer. Haal diep asem en leer kinders dit maak jou rustig.

• Moenie onttrek as jou kind ’n tantrum gooi nie. Sy wil voel jy verstaan haar. Soms ruk kinders hand-uit en stamp hul kop, gooi goed rond of slaan of byt ander kinders tydens tantrums. Probeer haar gesig- en lyftaal lees om te bepaal watter snellers dié gedrag ontlont. Stel altyd grense sodat sy weet wat is toelaatbaar. Sê byvoorbeeld sy kan één lekkertjie kry, pleks van die hele pak, of “Mamma sien jy is gefrustreerd, kan ek dalk help?”

• As sy ander kinders seermaak, verwyder haar dadelik van die toneel en wag tot sy kalmeer. Oogkontak, ’n kalm stemtoon en sagte aanraking werk beter as om jou kind met ’n harde stem te betig. Dít kan sake vererger.

• Probeer vasstel hoekom jou kind se emosies op hol is. Dikwels is hulle bloot moeg of honger.

• Skep ’n “kalmeerhoekie” waar hulle met ’n sensoriese aktiwiteit soos borrels blaas of deur in te kleur kan bedaar. ’n Klein speel-tent of tafel met doek oor, werk ook.

• Lees stories oor gevoelens en die hantering daarvan om hul emosionele woordeskat te vergroot.

Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp:

• Kinders volg hul ouers se voorbeeld. Indien jy een ding sê, maar iets anders doen, sal hulle verward wees.

• Leer kinders dit is normaal om kwaad te raak, maar daar is verskillende maniere om op te tree as jy só voel. Jy kan nie jou sussie slaan nie, maar wel ’n kussing. Leer hulle om koerante in repies op te skeur as hulle gefrustreerd is. Omskep dit in ’n speletjie.

• As kinders mekaar knyp of hare trek tydens onbeheersde woede-uitbarstings, verwyder hulle ferm uit die situasie. Lei hul aandag af en bly kalm. As jy kop verloor, sal die kind dit dalk weer doen om drama te ontlok.

• Party kinders raak makliker ontsteld as ander. Sommige word oorgestimuleer in openbare areas. As jou kind ná ’n lang oggend in die kleuterskool moeg is en jy weet sy raak moeilik tussen mense, moenie saam met haar inkopies gaan doen nie. Soms gooi kinders sonder waarskuwing tantrums op onwaarskynlike plekke. Verlaat die toneel dan so gou moontlik, saam met haar. Moenie met haar stry nie, dit is sinneloos. Stel dadelik vas wat haar pla.

• Kinders moet besef hulle kan jou nie manipuleer nie. Wanneer sy ’n kabaal opsit en weier om haar speelgoed op te tel, ignoreer haar gerus totdat sy kalmeer. En daarna moet sy wél haar speelgoed optel

Meer oor:  Kuier  |  Tantrums  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.