Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Leer hulle die waarde van geld
17 September 2020

As ouer wil jy altyd die beste vir jou kinders gee, maar ons almal weet die “beste” kos geld wat jy nie altyd het nie. Daar is rekeninge en skoolfooie wat betaal en kos wat gekoop moet word, om maar net ’n paar te noem.

Maar ons weet ook daar is miljoene Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn en in absolute armoede lewe en nie eens ’n brood kan koop nie; wat nog te sê van rekeninge betaal.

Hierdie mense is gewoonlik van die Sassa-staatstoelaag of sopkombuise afhanklik net om te oorleef. So hoe breek ons hierdie siklus by ons kinders wat die volgende generasie volwassenes is wat hul gemeenskappe en land moet vorentoe neem? Hoe maak ons hulle geldslim sodat hulle nie eendag as volwassenes afhanklik is van handouts en tevrede moet wees met wat hulle kry nie?

Hoe kweek ons ’n spaarkultuur by hulle aan sodat hulle van vroeg af leer jy moet spaar vir wat jy wil hê en dat jy, en niemand anders nie, vir jou eie welvaart verantwoordelik is?

Wel, dis presies wat Jennifer Tise (60), ’n evare maatskaplike werker en skrywer van die kinderboekreeks Pennie Pensie ten doel het met haar boekreeks. Sy wil kinders in hul taal finansiële geletterdheid aanleer sodat hulle as grootmense eendag beter finansiële besluite kan maak.

En ja, sodat die siklus van armoede en persepsie van “Pappa Sassa sal sorg” gebreek kan word in ons gemeenskappe. Jennifer, wat in Krugersdorp in Gauteng woon en werk, maar oorspronklik van die Noord-Kaap is, vertel hierdie sal haar lewenstaak bly totdat sy die dag haar oë finaal toemaak.

Jennifer vertel as iemand wat in die 1960’s gebore is, was dit ná 1994 nie ’n gewilde ding om te sê jy het nié in armoede grootgeword nie, maar dit is waar vir haar. Haar ma wat verlede jaar op 84 oorlede is, was ’n onderwyser en haar pa was ’n boukontrakteur en entrepreneur, so sy het gemaklik grootgeword.

“Maar ek het verstaan wat dit is om te het; om nie te het nie en om genoeg te het. Hoe ouer jy word, was die persepsie, veral as jy in die sestigs gebore is, dat jy swaar moes gekry het. Ek is ’n kinderaktivis en ek glo ons kinders móét gemaklik grootword, want as dit goed gaan met jou as kind, gaan dit met jou goed gaan as grootmens.” Hul ouers, wat later vervreem is, het Jennifer en haar drie sibbe grootgemaak met die waardes van respek; dat jy verantwoordelikheid vir jouself moet aanvaar; en dat opvoeding baie belangrik is. Daarom dat al vier hul kinders nagraadse kwalifikasies het.

Die Pennie Pensie-boekreeks
Die geld-en-werkwaarde-stokkies
Dit leer kinders hulle moet werk vir hul geldjie.

Leer kinders vroeg

Jennifer is al vir die afgelope 34 jaar ’n maatskaplike werker en sê in haar ervaring is ouers in ons gemeenskappe meestal emosioneel beskikbaar vir hul kinders, maar het ’n tekort aan materiële hulpbronne om hulself en hul kinders uit armoede byvoorbeeld te help. En dis waar sy wil help met haar boek. “By my nasorgsentrum wat ek in Vredendal gehad het, het ek vir kinders gevra waar geld vandaan kom en 70% van hulle het geantwoord dit kom van Sassa af. En hierdie is kinders uit middelklas-families uit!”

Pennie Pensie was in daardie stadium al ses jaar in the making, maar uitgewers het nie geglo daar is ’n mark vir dit nie. So, toe die kinders Sassa as die primêre geldbron sien, het Jennifer geweet sy sal die stof van hierdie boek-in-wording moet afskud. “Ek het vir hulle verduidelik dat jy moet werk vir jou geld.

Sassa is ’n vangnet, maar moet nie die norm word nie. Ons kinders tel op in die gemeenskap dat ’Pappa Sassa sal betaal’ en word groot daarmee. Dit pynig my as ek dit hoor, want hulle leef met die gedagte dat die ‘staat sal voorsien’ en dat R350 genoegsaam geword het om van te leef. En dat dit die perk is wat jy vir jouself stel,” voeg Jennifer by.

Sy voel sterk daaroor dat ouers die manier waarop hulle met hul kinders oor geld praat, moet verander. Veral die “ek-het-nie-geld nie”-narratief, al werk jy as ouer en dat jy jou kind moet leer dat hulle moet spaar vir wat hulle wil hê. “Ons kinders leer, al werk jy, het jy nie geld nie, so hoekom moet jy werk? Dis ’n believe system wat verander moet word.

Jennifer Tise, die skrywer van Pennie Pensie.

Pennie Pensie, ’n spaarvarkie, se verhaal gaan oor die (geld)lesse wat sy by haar ouers geleer het en dat sy daarop kan terugval in moeilike tye. Kinders verstaan geld baie goed, maar nie waar dit vandaan kom nie en voel hul ouers moet vir hulle verduidelik hoe geld werk,” voeg Jennifer by. Pennie Pensie is in vier reekse verdeel. In reeks 1 en 2 word haar storie vertel; in reeks 3 gaan dit oor spaar en werk en reeks 4 gaan oor beleggings en dat jou geld moet groei om vir jou te werk en jy jou eie welvaart moet skep.

Stacey Skebotha (38) van Robertson in die Wes-Kaap, vertel haar dogter, Reeva (9), weet dat ’n mens nie net geld kry nie, maar dat jy moet werk daarvoor. “Sy weet as ek nie werk nie, kan ons nie kos koop of die kar betaal of enige iets koop nie. Sy verstaan die basiese.

Reeva is al van klein af geleer om te spaar. Sy sal hier en daar dalk vra of ek ’n geldjie het vir ’n chocolate, maar sal ook nie tantrums gooi as ek nie geld het nie. Ek het altyd vir haar ’n R2 gegee kleuterskool toe vir ’n pakkie chips dan het sy altyd haar R1-kleingeld teruggebring en in haar spaarblikkie gegooi. Sy vra toestemming as sy uit haar spaargeld wil koop.”

Stacey vertel laggend Reeva was op ’n kol ’n wafferse entrepreneur wat hande en voete teen ’n fooi van R5 per hand en voet uitgesmeer het. Carmichelle Fransch (46), ’n hoërskool-onderwyser by ’n townshipskool in die Kaap, sê sy het onlangs ’n gesprek met van haar leerders oor geld en Sassa gehad. Volgens haar lewe die meeste kinders van die hand na die mond, maar dat hulle probeer om goeie keuses te maak met die geld wat hulle kry.

“Diegene wat staatstoelaes kry, verstaan dis nie genoeg om in al hul behoeftes te voorsien nie en dat hulle mooi met hul geld moet werk. Kinders wat uit middelklas-huishoudings kom, dink nie noodwendig aan die toekoms nie en is gemaklik met die wete dat hul ouers sal sorg,” voeg sy by. Carmichelle voel ook finansiële geletterdheid word meer waargeneem by armer leerders omdat hulle weet hoe om hul rande te rek.

Waarde van geld

Maar as ’n mens na Jennifer se raad luister, was Stacey se Reeva op die regte pad. Jennifer raai ouers aan om geld- en werkstokkiewaardes-inisiatiewe te begin waar jy kinders leer om te werk om geld te verdien en dat elke werk ’n ander geldwaarde het.

So kan jy besluit die stokkie vir skottelgoed was kos byvoorbeeld R5, maar as jy dit afdroog en wegpak, gaan jy meer verdien. “So leer hulle dink aan beroepsmoontlikhede en watter werk jou meer gaan betaal,” verduidelik Jennifer.

Sy raai ouers ook aan om self te spaar of saam met jou kind te begin spaar. Doen ook die maandelikse spaarkalender waar jy R1 op dag een spaar; R2 dag twee; ensovoorts. Aan die einde van maande met 31 dae het jy R496 gespaar en teen die einde van die jaar het jy tussen R5 000 en R6 000 gespaar.

“Spaar moet ’n ingesteldheid word. Want selfs al verdien jy min, maar jy spaar die geld wat jy die kind gee vir ’n pakkie chips elke dag, kan jy ver kom. Ons moenie spaar net om dit weer te gebruik nie. Begin een tree op ’n slag, maar begin net,” sê Jennifer.

Die geld-en-werkwaarde-stokkies
Dit leer kinders hulle moet werk vir hul geldjie.
Jennifer Tise, die skrywer van Pennie Pensie.
Meer oor:  Geld  |  Kuier  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.