Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Moet die skole weer sluit?
9 Julie 2020


Die land se skole het vroeg in Junie vir leerders in graad 7 en graad 12 heropen ondanks heftige besware van ouers, onnies en vakbonde weens die gevare van Covid-19. Dis nou net meer as ’n maand later en die onderwysdepartement beplan steeds om ander grade in te faseer al moes talle skole weer sluit weens die verspreiding van die virus.

Teen druktyd het die departement nog nie amptelike syfers bekendgemaak nie, maar luidens berigte op Netwerk24 lyk dit asof meer as 450 skole reeds in die ses provinsies waarvoor beperkte syfers bekend was, gesluit is met meer as 815 positiewe gevalle wat sedert middel Mei aangemeld is toe onderwysers weer moes aanmeld by die werk.

Net voor druktyd is ook berig 196 Oos-Kaapse skole moes toemaak om geriewe te ontsmet. By een skool het 172 matriekleerders en 32 personeellede ook positief getoets. was dit ’n fout? Die departement het intussen gehoor gegee aan mense se bekommernisse en ouers mag nou aanhou om tuis te onderrig, maar nie almal dink die regering is op die regte pad nie.

Johannes Motona, president van die Professional Educators’ Union, meen die departement prioritiseer die redding van die akademiese jaar eerder as om lewens te red. “Ons is teleurgesteld in die departement se houding. Daar is geen manier wat die ander grade kan heropen terwyl die situasie met die huidige grade nie 100% is nie. Hulle skep nou net chaos.”

Gary Hendricks (53), departementshoof vir wiskunde graad 10 en graad 12 by Uitenhage Hoërskool in die Oos-Kaap, sê dit gaan tans goed by sy skool waar hul 250 matrikulante teruggekeer het. Toe Kuier egter met hom gesels, was sy skool vir ’n week gesluit omdat een van hul onderwysers positief getoets het vir Covid-19.

“Ek was aanvanklik ’n voorstander van die heropening van skole, gebaseer op inligting van kenners dat kinders nie so erg siek word van die virus nie, maar nou is ek nie meer so seker of dit die regte besluit was om skole oop te maak nie,” erken Gary. Op sy beurt het Basil Manuel, president van Naptosa (die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie), in ’n onderhoud met Radio Islam International gesê Naptosa het aanvanklik issues gehad met die heropening, maar was teen 8 Junie tevrede met die veiligheidsmaatreëls. Maar as die regte maatreëls en genoeg beskermende toerusting nie daar is nie, gaan daar meer infeksies by skole wees. Hy wonder egter nou of skole gereed is om nóg meer leerders toe te laat.

“Skole het gesukkel met die terugkeer van een graad (7), so hoe gaan hulle vyf nuwe grade op een dag hanteer?” Volgens News24 het Allen Thompson, president van die Nasionale Onderwysunie, ook gesê hulle ondersteun nie die infasering van die ander grade nie. “Die departement maak asof alles goed gaan en verwag van skole om te cope met wat ook al hulle het. Ons kan nie maak asof dit ‘business as usual’ is nie.”

Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas (die nasionale verteenwoordigende organisasie vir skool beheerliggame), is egter dankbaar dat skole kon heropen en ook dat grade vroeër teruggebring is as die regering se teikendatums.

“Mediese en wetenskaplike data wys die risiko vir Covid is baie laag vir skoolgaande leerders. Dis egter kernbelangrik dat ons onderrig hervat, voedingsprogramme kan werk en graad 12-leerders hul finale eksamen kan skryf.”

Tog is hulle bitter bekommerd oor die vroeë kinderontwikkeling sektor (crèches). “Dis absoluut onverklaarbaar dat die departement van maatskaplike ontwikkeling hierdie kleuterskole doodwurg. Die kleuters is tans tuis en in baie gevalle sonder goeie versorging (of voeding) omdat ouers moet werk.” Oor die res van die 2020 akademiese jaar, voel Fedsas baie positief.

“Daar is genoeg tyd, maar onderwysers moet nou toegelaat word om hul werk te doen. Onderwysers weet wat doeltreffend gaan wees en hoe om die skooljaar suksesvol klaar te maak.”

Intussen het Ruben Titus, ’n skoolhoof van Worcester, in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa op Facebook gepleit dat skole weer sluit, omdat hulle daagliks sien hoe meer en meer mense en skole deur die virus geraak word. Volgens hom vrees “gesinne van personeellede vir hul lewe, want ná ’n skooldag moet hul pa’s, ma’s, mans en vroue terugkeer huis toe in onsekerheid of hulle gesond is. “Asseblief, meneer die president. Sluit die skole totdat ons seker is dat die (corona-virus)kurwe laer is en ons werklik oortuig is dat dit relatief veilig is om weer oop te maak,” pleit hy in sy brief.

Skool maak ’n plan

Een Kaapse skool het egter innoverend geraak om almal veilig te hou. Martin Leukes, skoolhoof van Dr. G.J. Joubert van die Strand buite Kaapstad, vertel sy skool se wetenskap en tegnologie-onderwyser, Angus Hartley, het met die idee vorendag gekom om plastiekskerms om leerders se banke te sit sodat hulle ten volle afgeskort kan wees van mekaar.

Leerders dra ook hul maskers en die plastiekskerms bied daardie ekstra beskerming. Die onderwysers dra ook gesigskerms wanneer hulle klas gee. “Ons probleem was dat daar nie genoeg ruimte was om 20 banke uitmekaar te skuif (in die klaskamers) nie.

Die skerms bied daardie ekstra beskerming. Ek het vir hulle (leerders) gesê: ‘Julle almal is nou nuuslesers elkeen op hul eie kassie,’” vertel Martin. Hy sê voorts hierdie skerms verhoed dat leerders hoesdruppels na mekaar versprei. Wat hierdie innoverende inisiatief soveel meer spesiaal maak, is dat die skoolpersoneel self inspring om die plastiekskerms vir die leerders se skoolbanke te maak. Baie ouers is egter steeds bekommerd.

Ek was aanvanklik ’n voorstander van die heropening van skole, gebaseer op inligting van kenners dat kinders nie so erg siek word van die virus nie, maar nou is ek nie meer so seker nie.

Eloise Marchel (37) van Bellville-Suid in die Kaap sou verkies om haar dogter tuis te hou, maar omdat haar kind matriek is, kan sy nie akademiese tyd misloop nie. “Maar die skool moes al twee keer skoongemaak word en daar is gereeld onderwysers en leerders wat ’n week of meer nie skool toe kom nie omdat hulle in isolasie moet wees,” sê sy. “Dit maak jou bang en ek bid elke oggend dat my dogter weer veilig en gesond huis toe moet kom. Jy is nie net bang vir haar nie, maar vir ons en my ouers wat saam in die huis woon.”

Portia Hartel (50), ’n graad 11-onderwyser van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, is ook bekommerd vir wanneer alle leerders terugkom skool toe, veral omdat hulle nie almal heeltyd kan dophou nie. “Kinders het vir die eerste paar dae hul social distancing behou, maar nou moet ons hulle aanhoudend pouses herinner om nie brood of drinkgoed met mekaar te deel nie en ook dat hulle nie langs mekaar mag staan nie,” sê sy.

Kinders wil ook nie heeltyd hul maskers aanhou nie. Bronagh Hammond van die Wes-Kaapse onderwysdepartement erken hulle het sedert 1 Junie reeds ’n paar skole gehad wat tydelik moes sluit nadat ’n positiewe Covid-19 geval aangemeld is.

Volgens Bronagh beteken ’n bevestigde geval van Covid-19 nie noodwendig dat die skool moet sluit of deur ’n dekontaminasie-proses hoef te gaan nie – dit hang alles af van die omstandighede. “Die areas waar die personeellid of leerder was, moet skoongemaak word. Byvoorbeeld, as ’n personeellid net in een of twee vertrekke was, kan die skool oopbly en net die betrokke vertrekke ontsmet word. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes oorleef die virus nie langer as 72 uur op oppervlaktes nie.”

Sy waarsku ook ouers en organisasies wat met protes-aksies probeer om skole toe te maak, se optrede is onwettig en beperk kinders se grondwetlike reg op onderwys.

* Die departement van basiese onderwys het nog nie teen druktyd op Kuier se navrae reageer nie.

* Foto: Verskaf

* Bykomende bronne: Netwerk24.com; News24.com

Meer oor:  Korona-Virus  |  Kuier  |  Skool Heropen  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.