Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Raak ontslae van 'lockdown-maniere'
1 Oktober 2020


Die inperking het die lewens van kinders geheel en al op kop sy gekeer. Nie net was hulle vir amper vyf maande in die huis gehok nie, maar hulle was ook ontneem van sosiale aktiwiteite en kontak.

Vir baie kinders en ouers was dié grendeltydperk ’n blessing in disguise, maar vir ander was dit ’n tyd vol frustrasie wat gelei het tot die aanleer van slegte gewoontes.

Met dié dat die lewe stadig, maar seker terugkeer na normaal, is kinders weer terug skool toe. Hulle word ook uiteindelik weer in winkelsentrums en ander plekke toegelaat. Gedurende lockdown het almal se roetines verander.

Baie ouers moes die skoene van onderwyser, oppasser, broodwinner, ouer en kok volstaan. En natuurlik kan ’n mens nie altyd al die balle in die lug hou nie, een moet val en dit blyk of daardie bal ongelukkig dissipline was.

Doen dít as jy sukkel

Uit ’n gesprek met ’n paar ouers, is dit duidelik dat vloermoere (tantrums) nou meer as ooit aan die orde van die dag is. Ouers sukkel ’n bietjie om dissipline te handhaaf en die slegte gewoontes af te leer wat saam met lockdown gekom het.

Saafia February (39), ’n ma van drie van Montana in die Kaap, sê sy sit nou met haar hande in haar hare. Dié vrou sug eers diep voor sy vertel dat slapenstyd die ergste is! “Dit is definitief vir my die ergste, want ek studeer en werk van die huis af en my skedule draai om die kinders. Ek is gewoond om laatnag op te wees om my werk en studies in te haal, maar nou het ek ’n hele audience wat saam met my op is.”

Sy vertel die eerste paar weke van lockdown was nie so erg nie. “Ons het almal nog gewoond geraak aan die nuwe set-up. My meisiekinders se roetine was as volg: Die skoolbussie kom haal hulle soggens, daarna gaan hulle na die nasorgsentrum en madrassa. Sodra hulle by die huis kom, is dit huiswerk, take en boeke check en dan kry hulle ’n uur van relaxation. Dan is dit bad- en slaaptyd.

Teen 21:00 was hulle gewoonlik in die bed en vas aan die slaap. Sedert die skole toegemaak het, is dit egter ’n heel ander storie.” Hul roetine is nou heeltemal omvergegooi en Saafia sukkel met haar sewe- en 11-jarige dogters. “Hulle is nou permanent op weekend mode. Ek het vir hulle albei nuwe fone gekoop om hul skoolwerk aanlyn te doen. My 15-jarige seun doen ook sy skoolwerk aanlyn en hy vaar baie goed, maar die twee klimeide is ’n nagmerrie. Hulle maak my sommer tweeuur in die nag wakker vir tee, hulle slaap dan die volgende dag heeldag, doen vir 10 minute skoolwerk en dan is hulle pootuit, want die werk is volgens hulle te veel. Ek weet nie wat om te doen nie, maar ek weet wel iets sal gedoen moet word.”

Begin ’n visuele kaart waarop die kinders kan sien wat hul oggendroetine en res van die dag gaan behels.
Monique Barnes

Monique Barnes, ’n sielkundige van Stellenbosch, sê die belangrikste aspek waarop ouers moet fokus, is om weer normaliteit in hul kinders se lewens te skep. “Stel ’n vaste roetine op en hou daarby sodat jou kind weet wat om van hul dag te verwag. Begin ’n visuele kaart waarop die kinders kan sien wat hul oggendroetine en res van die dag gaan behels.” Sy stel voor dat ouers soveel moontlik aktiwiteite moet doen wat voor die inperking gedoen was.

“Gaan park toe of gaan stap saam met die hond. Normaliseer dit om weer buite te wees. As die kinders oud genoeg is, kan jy hulle vra wat hulle die meeste van voor die inperking mis en, indien moontlik, begin dít doen.” Sy voeg by sy het self ’n hele paar gedragsveranderinge na vore sien kom in haar praktyk en dis omdat kinders angstig voel oor skool en hul opvoeding.

“ ’n Mens moet tog onthou dat die kinders vir ’n geruime tyd nie in die skoolstelsel was nie. Hulle moet nou ook gewoond raak aan ’n nuwe stel reëls en om weer met ander kinders en mense in aanraking te kom. Dit kan hulle bang en kwesbaar laat voel.” Volgens Monique sukkel kinders ook nou met hul slaappatroon. “ ’n Gebrek aan slaap het ’n direkte invloed op die emosionele welstand van die kind. Probeer sover as moontlik ’n slapenstydroetine vasstel en hou daarby.”

Kern van die probleem

Sy raai ouers aan om te probeer vasstel waar die gedragsprobleme vandaan kom en wat presies dit veroorsaak het. “As die kind skielik nie wil huiswerk doen, skool toe wil gaan of nie na jou as ouer wil luister nie, moet jy die oorsake van die probleem identifiseer en die wortel daarvan aanspreek. Dissipline sal ook verbeter wanneer kinders geborge en veilig voel en wanneer hulle weet wat van hulle verwag word.”

Bernadine Saayman (37), ’n enkelma van Citrusdal, vertel haar kind se maniere het na dié lockdown so verswak dat sy nie meer weet watter kant toe nie. “Ek weet nie presies waar of wanneer dit begin het nie, maar wat ek wel weet, is dat ek nou met ’n probleem op hande sit.” Bernadine se 10-jarige seun wil net sy sin hê en as hy dit nie kry nie, verskreeu hy haar of gooi hy ’n vloermoer.

“Dit is dan nou amper asof hy die ouer is en ek die kind. Ons twee het baie tyd saam spandeer in die lockdown en ek dink ek het hom te veel toegelaat omdat ek hom bejammer het.” Sy bieg sy wil nie eens oor haar kind se skoolwerk praat nie.

“Hy gaan twee dae per week skool toe en hy doen net gedurende daardie dae sy skoolwerk. Hy glo die res van die week is holiday. Ek sien eintlik uit na die skole om weer voltyds oop te maak sodat hy weer in roetine kan kom. Só kan dit nie aangaan nie. Die kind steek my omtrent in die skande veral in die winkels. Hy wil dan nou alles hê wat sy oë sien.”

Lizette Booys, ’n Kaapse onnie, sê elke huishouding en kind is anders en ’n mens kan dit duidelik oplet in die klaskamer. “Ouers wat gewoonlik orde en dissipline in die huis handhaaf se kinders pas ook makliker by die dissipline en orde van die skool aan. Dit is ook daardie einste kinders wat gedurende lockdown getrou hul skoolwerk gedoen het en hul ouers het baie hard probeer om hulle in lyn te hou. Met kinders wat wel uit moeiliker omstandighede kom, is dit ’n ander ervaring.

Nie net is die ouers onopgevoed nie, maar die atmosfeer by die huis is nie van so ’n aard dat die kind rustig kan sit en studeer nie.” Volgens haar is daar ook ouers wat nie self kan lees en skryf nie en om hulself daardie vernedering te spaar, het hulle nie tuis met die kinders gewerk nie.

“Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat daar veranderinge by die huis aangebring moet word om kinders se gedrag te verbeter. Dis nooit te laat om met ’n skedule te begin nie, dis van uiterse belang. Kinders moet nou twee dae per week skool toe, maar dis belangrik om hulle te herinner dat hulle nie die ander dae af is nie. Hulle moet steeds hul skoolwerk voltooi.

“Ouers moet consistent wees met die reëls by die huis. Dit weerspieël in alle vlakke van die kind se lewe. Jy kan nie een week op en die volgende af nie. Maak tyd vir die kind en belê sodoende in die kind se toekoms.”

Meer oor:  Dissipline  |  Kuier  |  Inperking  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.