Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou lewe na jou maat se dood
11 Julie 2018
Sydney Cloete

Die graf moet eers sak sê hulle. Uit respek natuurlik. Maar hoe lank neem dit om regtig aan te beweeg ná die dood van ’n geliefde en is dit ooit meetbaar?

Hoewel dit verskil van mens tot mens, as jy alle faktore in ag neem, sal ek saamstem dat ’n jaar ’n redelike tyd is. Nie net uit respek vir die dood van jou geliefde nie, maar ook uit respek vir jouself. Baie dinge verander in ’n jaar. Mense groei en verander. Daar is persoonlike en professionele verskuiwings. Verskuiwings in jou gesin en die breë familie; in die psige van jou menswees wat insluit rou, aanvaarding, leer om weer alleen te wees en jouself te leer ken as ’n individu en hoe om onafhanklik aan te beweeg sonder die verwagtinge van ’n lewensmaat.

Gebruik dié tyd om jouself te leer ken. Wat jý geniet, was miskien ver op die agtergrond geskuif toe jou geliefde geleef het omdat dit nie noodwendig iets is wat julle saam geniet het nie of omdat dit nie in die raamwerk van julle as ’n paartjie gepas het nie.

Leer ken weer jou eie behoeftes en begeertes. Wie jy is en wat jy uit die lewe wil hê. In dié tyd kan jy selfliefde assesseer en aan jou selfbeeld bou. Al hierdie dinge sal jou emosioneel ’n hupstoot gee. Dit sal help dat jy met ’n helder gemoed sonder die waas van hartseer of die pyn en die behoefte van behoort, ’n keuse kan maak oor wanneer om iemand in jou persoonlike spasie te laat.

Aan die begin kan die blote gedagte van alleen wees baie oorweldigend wees en as jy jouself nie genoeg tyd gun om jou voete emosioneel te vind nie, kan jy maklik die prooi word van (desperate en dikwels gewetenlose) jagters wat emosioneel verwarde mense uitbuit en manipuleer. Wanneer jy jouself die tyd gun, laat jy ruimte vir retrospeksie en introspeksie en kan jy kyk en eerlik assesseer wat was, wat nou die beste vir jou is en wat jy in die toekoms wil hê.

Leer ken jou eie behoeftes en begeertes. Wie jy is en wat jy uit die lewe wil hê!

Hoe identifiseer jy in ’n verhouding? As independent of co-dependent? Co-dependency kan ’n maat baie broos laat ná die afsterwe van die een wat altyd alles gedoen het en in beheer van alles was – van motorbestuur tot geldsake, rekeninge en polisse hanteer. Of dalk het jou oorlede geliefde gesorg dat die huis altyd netjies is, kos gemaak en klere reggekry.

Wanneer jy jouself in verhoudings of ’n huwelik begewe sonder dat jy jouself ken, kan jy jouself maklik verloor. Sy opinie word jou opinie. Sy mening word jou mening. Sy besluit word jou besluit. Dis dikwels nie omdat hy dit op jou afdwing nie, maar omdat vroue soveel bewondering, respek, liefde en vertroue vir hul maats het dat hulle die leisels goedguns-tiglik oorhandig. As jy dan skielik jou “perfekte maat” verloor, word jy kwesbaar agtergelaat.

Buiten die hartseer en verlange, gaan verlies van ’n maat dikwels ook gepaard met een of meer van die volgende: doelloosheid, hulpeloosheid, rigtingloosheid, eensaamheid en bowenal voel jy verlore en verlate. Sulke gevoelens maak jou ’n maklike teiken vir mans of vroue wat nie eerlike bedoelings het nie.

Ons is in ’n tyd waar ons besig is om verhoudings en ons spesifieke rolle in verhoudings te herdefinieer. Beide partye is meer betrokke en bewus van uitdagings en hoe om dit te hanteer. Daar is ook ’n verskuiwing van co-dependence en independence na interdependence. Interdependence is wanneer julle fantasties saam as ’n span werk, maar een is glad nie minder in enige opsig sodra die ander een nie meer daar is nie.

Sommige mans is so afhanklik van hul vroue en visa versa dat wanneer hul vertroueling, maat en steunpilaar hulle ontval, hulle te gou aanbeweeg omdat die eensaamheid hulle teen die mure uitdryf.

Dis belangrik om te weet hoe om alleen te wees, om tyd met jouself te spandeer en dit te geniet. Dit gee jou baie ruimte vir introspeksie en tyd om te groei teen jou eie pas.

Dit is ook belangrik dat jy die besluit maak om aan jouself as ’n geheel te werk. Herwin jou innerlike balans en probeer om elke dag die beste weergawe van jouself na te streef en uit te leef. Vind geluk in die klein dinge in die lewe. Leer ken en waardeer jou waarde. Jy sal dan nie voel jou hele wêreld word onder jou uitgeruk wanneer jou maat sterf nie.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Sydene Cloete  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.