Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
June trots op haar wortels
19 September 2018

Wanneer ’n mens die woord erfenis hoor, dink jy aan jou ouma se kos, jou mense se kultuur, taal en jou gemeenskap. Die dinge wat julle uniek maak en goed wat julle bymekaarbring. Dit is juis ook hoekom die veteraan-aktrise June van Merch (66) onmiddellik familie met erfenis vereenselwig.

Sy dink veral aan die waardes wat haar ouers, Ousie (88) en wyle oom Pieter (82), daar op die Karoo-dorp Beaufort-Wes, haar geleer het. Haar ma se onvoorwaardelike liefde, vrygewigheid en hoe sy ander behandel het, sal June tot in lengte van dae bybly.

Sy dink ook aan haar pa se geduld en sy aanmoediging om soveel moontlik jou land te verken. Want deur jou land te verken en verskillende mense te leer ken, glo June sal ons mekaar beter behandel en verstaan.

En juis omdat sy so na aan haar liewe ma is, het dit June onlangs geruk toe daar by haar ma se huis op Beaufort-Wes ingebreek is. Haar ma was by die huis tydens die inbraak, maar is gelukkig nie in die proses seergemaak nie. Die diewe kon nie met hul buit vlug nie omdat die sekerheidsfirma en bure opgedaag het.

Die drama het plaasgevind terwyl
June meer as 400 kilometer ver weg in Bonnievale in die Wes-Kaap was waar sy aan ’n nuwe kykNET-reeks geskiet het. Sy het Kuier dadelik laat weet wat gebeur het en gevra om haar voorbladonderhoud wat die volgende dag sou plaasvind, te skuif sodat sy gou moontlik by haar ma kon uitkom. Die kommer in haar stem was onmiskenbaar.

Met haar werk as aktrise moet June reis waar die werk is, maar die afgelope 12 jaar is die noordelike voorstede van Kaapstad huis vir June. Sy het drie broers en húlle woon in die Wes-Kaap en Vrystaat en is dus ver van haar ma af. En dis juis hierdie afstand wat June se hart altyd benoud laat klop wanneer sy ’n oproep uit Beaufort-Wes kry.

VER VAN MA

“Dis altyd moeilik vir my om ver van Mammie af te wees, maar sy wíl alleen woon en is so onafhanklik soos ’n tiener,” voeg June skertsend by. Maar dan raak sy ernstig wanneer sy voortgaan: “Elke keer as ek ’n oproep uit Beaufort-Wes ontvang, hoop ek alles is orraait by die huis. Mammie is nou oud en omdat ons (sy en sibbe) nie naby haar bly nie, raak ’n mens soms bekommerd, maar ek probeer om nie te veel daaroor te dink nie, want anders nooi jy hierdie slegte dinge in. Ons probeer altyd om op goeie energie te konsentreer sodat ’n mens nie slegte dinge innooi nie.”

Die eerste beste ding wat June gedoen het toe sy die nuus van die inbraak kry, was om haar ma te bel om self by haar te hoor of sy oukei is. Daarna het sy haar ma se bure gebel sodat hulle haar solank kon bystaan terwyl June planne gemaak het om in Beaufort-Wes uit te kom.

Wees lief vir almal en hanteer hulle soos jou familie en dit is wat ek graag wil hê my legacy ook moet wees
June van Merch

GEE OM VIR MEKAAR

“Ek het baie hulpeloos en angstig gevoel omdat ek nie gou by my ma kon uitkom nie. Dis altyd ’n dilemma vir my, maar ek weet Mammie is in goeie hande en dat die mense op die dorp vir mekaar uitkyk en dit laat mens gerus voel.”

Maar al het sy hierdie vrese, stel dit tog June gerus dat haar ma op ’n plattelandse dorpie bly waar die waardes van regte buurmanskap nog behoue bly. Op dié dorpies gee mense opreg om oor of hul buurman- of vrou orraait is en nie hulp nodig het nie. Iets wat in die stede verlore gaan en waar bure soms in koerante eers lees van verskriklike goed wat in die huis langsaan of in hul straat gebeur het.

Sulke goed laat June se hart warm klop vir haar mense en sê dís die tipe erfenis wat haar wat sy hoop baie meer Suid-Afrikaners sal aanneem om die gees van “ubuntu” lewendig te hou.

“Daardie plattelandse mense het my geleer oor liefde en omgee vir jou medemens. Gee tot jy nie meer kan nie en jy sal meer kry. Wees lief vir almal en hanteer hulle soos jou familie en dit is wat ek graag wil hê my legacy ook moet wees.”

Sy voel die waardes van gemeenskap – respek, samesyn en die wyshede wat die ouer generasies gedeel het – gaan vandag verlore omdat mense nie meer tyd maak vir die ouer mense en met hulle gesels nie. Sy voel as ons meer van daardie waardes uitleef, ons meer begrip vir mekaar sal hê en elke persoon vir hul eie journey sal respekteer.

“Want in ’n land soos Suid-Afrika met ons geskiedenis van ongelykheid is dit soms maklik om te sê mense moet die verlede vergeet en aanbeweeg. Maar wanneer ek nou terugdink aan my studentedae toe ek op die trein in ’n ander gedeelte as my wit mede-studente moes sit, besef ek ons elkeen het ons eie herinneringe van hoe dinge was en dit het mense op verskillende maniere verander,” vertel June.

June sê al is sy al dekades in die vermaakbedryf en is dit nou al 20 jaar sedert ons as ’n land demokrasie en vryheid ontvang het, raak sy soms steeds angstig wanneer sy in ’n plek optree waar sy as tiener nie welkom was nie.

Sy was onlangs deel van ’n teaterproduksie in die Karoo en moes vir ’n oomblik stilstaan en haarself kalmeer en sê, “dit is oukei, June, jy is nou ouer en mág hier wees,” want haar laaste herinnering by daardie spesifieke plek was toe sy as 17-jarige weggejaag is. So seer soos dit gemaak het, het June dit in leerskole omskep en sê dit het gehelp om haar as persoon te vorm.

Hierdie negatiewe ervarings van destyds het ook bygedra tot haar vaardigheidsontwikkeling as aktrise, want wanneer sy ’n karakter moet vertolk soos dié van Sara in Sara se Geheim op kykNET, het sy ’n plek binne in haar om ervaringe te gaan haal wat haar help met haar toneelspel.

“My journey is nie dieselfde as jou journey nie en ons almal maak vrede daarmee op ons eie tyd, want nie almal het die kans gekry om deur die onregverdigheid van apartheid te werk nie. En sommiges probeer nou nog oorleef as gevolg van die kanse wat hulle gemis het. As ek dink aan erfenis is dit ’n baie persoonlike ding en ons moet mekaar as mense van Suid-Afrika leer ken, sodat ons meer respek kan hê,” sê sy.

June sê voorts wat haar pla, is dat baie van ons steeds praat van “ons” en “hulle” en dit daarom makliker is om mekaar seer te maak omdat ons nie die moeite doen om mekaar se kulture en omstandighede te leer ken nie.

OU WAARDES

“As jy iemand ken en hulle by die naam kan noem, sal jy twee keer dink oor hoe jy hulle behandel en dit kom weereens terug na die ou mense se manier van dinge doen en daardie waardes wat vir my so belangrik is,” sê sy.

June gaan voort: “Ons moet baie bewus wees oor wat ons sê en hoe ons optree, want ons moet die voorbeeld wees vir die jonger generasie. Wat ons doen en hoe ons die verlede hanteer, speel ’n rol in hoe hulle optree en wat hulle dink reg en verkeerd is. Hulle moet van daar af hul legacy bou en ek glo as ons leer om mekaar te behandel soos wat ons graag wil hê ander vir ons moet behandel, sal ons ’n sterker erfenis en boodskap vir die volgende generasie kan agterlaat.”

June sê as sy net vir een persoon kan inspireer om ander te respekteer en hul drome te volg, voel sy sy het ’n legacy gebou.

Meer oor:  June Van Merch  |  Kuier  |  Sara Se Geheim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.