Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kaapse skat: Kanonnier tree binnekort af
21 Augustus 2019
Dudley Malgas


Dertig sekondes! Twintig sekondes! Tien, nege, agt . . .” tel eerste bootsman Dudley Malgas (60) die oomblik af tot wanneer die middaguur-kanon teen die voet van Seinheuwel in Kaapstad gaan bulder. Nagenoeg 20 toeriste staan afwagtend op ’n afstand, sommige met vingers in hul ore. Dan storm ’n hond vorentoe en steek duskant die kanon vas wanneer dit in ’n wolk van wit rook afgaan. Diego, ’n Duitse herdershondkruising, het vyf maande gelede skielik hier opgedaag.

Sedertdien is dit vir hom ’n speletjie om by te wees wanneer die kanon afgevuur word – ’n ritueel wat hy nou al so goed ken dat hy presies weet wanneer om vorentoe te begin hardloop. Hy gaan lê daarna oopbek-gelukkig tussen die toeriste vir ’n bietjie aandag. Dudley tree op 31 Augustus vanjaar af nadat hy die afgelope 20 jaar die man agter die afvuur van die kanon was. Hy was vroeër ’n hondehanteerder en lag net oor Diego wat hier by die vloot se Leeubattery ingetrek het en self besig is om ’n toeristeaantreklikheid te word. “Baie toeriste en toergidse wat hier kom, vra al klaar na hom.”

Toe hy besef die hond is hier om te bly, het Dudley – ’n sokkergeesdriftige – hom na die sokkerster Diego Maradona vernoem. Dis ’n mooi dag en die toeriste verkyk hulle aan die uitsig oor die Atlantiese Oseaan, Tafelbaai-hawe en Tafelberg. Dudley, ’n gemoedelike man in vlootuniform, het so halftwaalf vanaf sy kantoor op die perseel nader gestap om die toeriste oor hierdie oudste historiese aktiwiteit in Kaapstad te vertel. Hy is ’n gemaklike spreker wat glimlagte ontlok met stellings soos: “As die kanon nie fire nie, is ék gefire.” Hierdie interaksie is vir hom die lekkerste deel van sy werk en daarom wil Dudley ná sy verpligte aftrede op 60 voltyds as toergids werk.

Kanonne

Op ’n bordjie word 31 Julie 2019 (die dag van die onderhoud) en die aantal kere aangedui wat die kanon sedert daardie eerste keer in 1806 as tydsein afgevuur is: ’n verstommende 66 854! Eintlik is daar twéé agtienponder-kanonne wat om die beurt daagliks – behalwe Sondae en vakansiedae – ingespan word sodat daar in geval van probleme altyd ’n back-up is. (Op vakansiedae word ’n negeponder vanaf Simonstad gevuur.)

Die toeriste kyk belangstellend hoe hy kanon nommer 2 met 1,5 kg buskruit (gunpowder) en ’n slagdoppie laai. Kanon 1 gaan vandag vuur en is reeds gereed omdat dit die vorige dag die back-up was. Die twee groen kanonne dateer van 1794 en is in 1795 tydens die eerste Britse besetting na die Kaap gebring. Dis eers by die Imhoff-battery by die Kasteel gehou, maar op 4 Augustus 1902 hierheen geskuif. Die presiese tyd en die sein dat die kanon moet vuur, kom deesdae via ’n datalyn van die Sterrewag in Observatory af.

Vroeër jare was dinge primitiewer: Toe is ’n rooi tydbal by die Sterrewag laat val om die regte tyd vir die kanonnier teen Seinheuwel aan te dui. Dis die rede, vertel Dudley, hoekom die twee kanonne in daardie rigting wys en nie in die rigting van die see nie. Skepe in Tafelbaai het die kanonskoot doerie jare ingespan om hul tyd reg te stel op hul chronometer, ’n baie presiese tydmeter.

Met die outomatiese afvuurproses (en ’n battery byderhand ingeval loadshedding dinge wil beduiwel), staan die kanonnier deesdae teen twaalfuur ’n entjie weg van die kanonne by ’n tipe kas waar hy met die druk van ’n knoppie die back-up-kanon kan vuur indien nodig. Nog net een keer het albei kanonne geweier om te vuur, op 9 Januarie 2005. “Ons het ’n nuwe tipe ammunisie begin gebruik.

Vir weke is daardie slagdoppies getoets. Maar daardie dag gaan nie een af nie. Ons eenheidsbevelvoerder in Wingfield kyk vir my en ek kyk vir hom. Die ouens wat die goed gemaak het, kyk vir ons. Daar is so 60 toeriste en almal kyk vir almal. Toe vra ons maar om verskoning.” Die sakie is darem gou reggestel.

“Die probleem was dat die ouens by Denel ’n plastieklagie om die slagdoppies gesit het sodat dit nie roes nie.” Maar toe maak dit nie ordentlik kontak nie en die slagdoppie kon – nadat die slagpen dit getref het – nie die buskruit aan die brand steek vir die ontploffing nie. Toe Dudley die middag ná die slagdoppie-fiasko huis toe ry, verkondig nuusplakkate dit: “Noon gun fails first time in 200 years.”

Dudley laai die kanon met buskruit (gunpowder).

Lekkerte van die werk

Wat was die snaaksste oomblik wat hy al hier beleef net? Dudley vertel laggend van ’n oproep deur die admiraal se sekretaresse in Simonstad een jaar net nadat die kanon afgevuur is. “Sy sê toe: ‘Dudley, die admiraal soek vanmiddag nog ’n verslag op sy tafel oor hoekom julle ’n kar raakgeskiet het in Bloubergstrand.’”

Tien minute later bel ’n verslaggewersvriend by die Cape Argus ’n steeds verbaasde Dudley met dieselfde storie. Eers sowat ’n uur later besef Dudley dis 1 April en hy is vir die gek gehou. Op die Argus-voorblad was nogals ’n foto wat kamtig geneem is nadat ’n kanonbal ’n gat in ’n Mini se bonnet geskiet het.

Soms nooi toeriste Dudley ná die tyd vir ’n drankie by die hotel waar hulle tuisgaan, maar dan nooi hy hulle om eerder by hom en sy vrou, Estelle, by hul huis in Brooklyn, so 12 km van sy werk af, te kom braai. Heelparty het dit al gedoen. Die toeriste love dit, sê Dudley. “Hulle is nie gewoond langs oop vure staan nie.”

Dudley, wat van Mosselbaai kom, is een van nege kinders en ’n gelowige man wat streng grootgemaak is. Hy is ná matriek reguit vloot toe nadat werwing by hul skool gedoen is en hy het op 1 April 1980 in Simonstad ingeval.

Ná sy oorplasing na Bourke’s Luck in Mpumalanga, waar die vloot, leër en mediese korps se hondeskole saamgesmelt het, het hy as gekwalifiseerde springstof-hondehanteerder vloottroepe opgelei. “Ons ouens was vrywillig daar, maar die ander is mos destyds gedwing (met verpligte diensplig).” Apartheid was in volle swang en eendag sê die kommandant hy sien Dudley is maar elke naweek alleen in die kamp.

“Want dit was meestal wittes en almal sou weg wees vir die naweek en dan is ek maar op hekwagdiens.” Toe Dudley antwoord hy het niemand nie, het die kommandant voorgestel hy bring sy girlfriend die volgende week – nadat hy die Two Oceans-wedloop in die Kaap gehardloop het – saam op die bus. “Toe besluit ek dan trou ons sommer ook. Daai was 1987. Ons is amper van skooldae af bymekaar.”

Hy was reeds terug by die hondeskool in Simonstad toe die kanonnierspos in 1997 geadverteer is. Hoekom het hy aansoek gedoen? “Honde was my passie en ek was kwaad toe hulle ’n ou by die hondeskool wou aanstel wat nie eens geweet het wat is die skerp of stomp kant van ’n hond nie.” Die kanonperseel is die volgende jaar vir die algemene publiek oopgestel.

Dudley, Estelle en hul twee dogters, Dené (30) en Cindy (38), het lank daar gewoon voordat hy die Brooklyn-huis gekoop het. Oor sy werk as kanonnier was hy nog nooit spyt nie. Maar nou roep ’n lewe as professionele toergids, met die vloot wat hom met ’n toerismekursus bystaan en Dudley glo hy gaan in dié hoedanigheid nog baie draaie by die kanon kom gooi.

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.