Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kampioen: 18-jarige dra SA boereworskroon!
17 September 2020


Wat begin het as ’n gesinsuitdaging tydens Covid-19 se streng vlak 5-inperkingsfase, het vir ’n jong man van Wellington in die Boland in groot bragging rights geëindig.

Delano Jasper is nie net onlangs as Suid-Afrika se 28ste jaarlikse Championship-boereworskampioen gekroon nie, maar is nou ook die trotse eienaar van ’n Toyota Fortuner van meer as ’n halfmiljoen rand. Nie sleg vir ’n 18-jarige eerstejaarstudent wat nog nie ’n leerlinglisensie het nie, hoewel hy dít darem voor die deur kan lê van die vertragings wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan.

Groot skok

“Championship boerewors. SA’s no 1. Championship winner Delano Jasper”, staan op die verpakking van die wenwors, wat ’n jaar lank in alle Shoprite- en Checkers-winkels regoor Suid-Afrika beskikbaar gaan wees.

Met die Covid-19-pandemie moes die kompetisie uiteraard vanjaar ’n ander baadjie aantrek. Die beoordeling is behartig deur ’n onafhanklike paneel van die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging, en die toptien-finaliste het virtueel toegekyk hoe hul boerewors gebraai word deur sjefs Kevin Gibbs en Dion Vengatass, ’n lid van die Suid-Afrikaanse nasionale kulinêre span.

Toe Delano eers besef dat hy onder die toptien is, het sy stres aansienlik toegeneem. “Dis mos dan wanneer jy besef dat die kans nou groot is dat jy kan wen.” Beide ouers het hom deurentyd bemoedig.

Veral sy ma, Yvonne Blaauw, kon waardevolle raad gee. Sy was immers in 2018 hierdie einste kampioen, en het ook al in die tweede plek geëindig nadat sy verskeie kere die toptien gehaal het. Daar was nie minder as vyf Wes-Kaapse finaliste onder die toptien nie, en hulle is genooi om hierdie groot oomblik op grootskerms by Shoprite Checkers se hoofkantoor in Kaapstad te beleef.

Virtueel of te nie, dit het steeds met heelwat emosie gepaardgegaan. Hy was aanvanklik in ’n toestand van skok, beskryf Delano die oomblik toe hy besef dat hy vanjaar se wenner is. Toe dit eers begin insink, het emosies soos opgewondenheid en blydskap oorgeneem. En hy moet bieg, daar het ook ’n traan of twee oor sy wange geloop, lag hy nou.

Dis lekker om die titel te dra, maar die media-aandag is nogal oorweldigend, gee Delano toe. “Veral omdat my ma beskou word as een van die bestes ooit. Dit help my nogal dat ek al gesien het hoe dinge was toe sy gewen het.” Delano het al ophou telling hou van die aantal media-onderhoude wat hy sedert die wenaankondiging gedoen het, maar dis waarskynlik gemiddeld tussen twee en drie daagliks.

“Dis nogal uitputtend en soms maak dit inbreuk op my studietyd,” sê hierdie onderwysstudent. Maar ‘this too shall pass …’ ” Gelukkig word daar nie van hom verwag om in sy rol as boereworskoning uitgebreide openbare verpligtinge na te kom nie. “Ek is darem nou nie aangestel as die ambassadeur of verteenwoordiger van boerewors nie,” spot hy.

“My openbare verskynings is beperk tot hier in ons Wellingtonse gemeenskap. Die belangstelling is groot. Dis immers ’n bietjie goeie nuus en ’n lekkerte om te deel in hierdie strawwe tydperk wat ons in Suid-Afrika deurmaak.”

Delano is deur en deur ’n Wellingtonner. Hy het sy skoolloopbaan aan die Laer-skool Hugo Rust begin en verlede jaar aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer. Hul laerskoolleuse was “Net die beste” en dít, sê hy, is ook hoe hy dinge probeer aanpak – deur net sy beste te gee. En as hy nog ’n eienskap van homself moet uitlig, sal dit wees dat hy nie maklik tou opgooi nie.

Gesin kompeteer

Yvonne Blaauw, Delano se ma, was ook al die kampioen.

Aanvanklik was die gedagte net dat ma Yvonne weer vir die kompetisie sou inskryf. Met haar goeie rekord is sy uiteraard onder groot druk om weer uit te styg. Maar terwyl sy aan haar resep gewerk het, was die res van die gesin tydens die streng Covid-19-inperkings heeltyd onder haar voete, vertel Delano.

Die uiteinde was dat hy en sy ouers mekaar – eintlik meer as ’n grap as iets anders – uitgedaag het om saam in te skryf en te kyk wie die beste vaar. Delano het nie werklik verwag dat hy so ’n ou hand soos sy ma se resep sou kon troef nie.

“Kyk, sy is eintlik die spesialis as dit kom by die keuse van vleis, die ratio en verhoudings van die speserye, en watter vloeistof om te gebruik – die gewone proses wat ’n mens maar volg as jy nuwe worsresepte skep,” verduidelik hy. Hoewel dit sy heel eerste kompetisie is waarvoor hy ingeskryf het – en hy tot onlangs selfs nog te jonk was om ’n Lottokaartjie te koop – is die kombuis darem ook nou nie vir hom ’n vreemde plek nie! Buiten ’n loopbaan in die onderwys of as argitek, het hy ook die moontlikheid oorweeg om hom as sjef te bekwaam. Daarom dat Delano in sy graad 10-jaar met verbruikerstudie as vak begin het.

Sy kookvernuf is aangehelp deur die daaglikse roetine in hul huis, vertel Delano, wat tans op die Wellingtonse kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer. “Ek is meestal eerste tuis in die middae en dan moet ’n ou maar inspring en solank vleis ontdooi, groente skil en rys kook. ’n Mens kan seker daarna verwys as ‘gedwonge liefde’ by tye.”

Wat die kompetisie betref, gaan daar nogal heelwat tyd in die ruik, proe en weer probeer om die gunsteling-geurmengsels bymekaar te bring, verduidelik hy. Hier kon hy ’n bietjie van sy verbruikerstudie-kennis toepas. Sake is darem vergemaklik deurdat al die bestanddele wat gebruik mag word, op Shoprite Checkers se inskrywingsvorm gelys word, verduidelik hy.

“Jy hoef slegs die ratio’s, hoeveelhede en kombinasies van jou keuse vleis, speserye en geure te kies.” Meer wil hy nie verklap nie, behalwe om te sê dat hulle as gesin so saam-saam aan hulle al drie se pogings geruik en geproe het. Delano kan nie wag om sy sit te kry in sy nuwe Toyota Fortuner nie, wat hy tydens die Kuier-onderhoud nog nie ontvang het nie. En hy beplan ook om so gou as wat Covid-19 dit toelaat sy lisensie te kry. Dit voel eintlik meer na gekkigheid om so iets op hierdie ouderdom te besit, giggel hy. “Ek het nooit eens van so iets gedroom nie. Ek is ‘lost for words’.”

Een vraag wat Delano deesdae gereeld moet beantwoord, is of hy vir hom ’n toekoms sien wat iets met wors te doen het. In hierdie stadium is daar egter nie enige planne van hierdie aard nie. Vir eers mik hy daarna om sy graad te voltooi, om deel van die onderrigoplossing in Suid-Afrika te wees en ’n gebalanseerde lewe te lei. Het hy ’n boodskap vir ander jong mense? “Stel vir jou doelwitte in die lewe. Moenie luister na mense wat jou probeer afbreek nie. Vermy negatiewe invloede. Fokus op jouself en jou doelwitte. En bly biddend.”

Dan wil hy ook net vir sy 13-jarige broer, Xavier, sterkte toewens vir wanneer hy oud genoeg is om in te skryf vir die kompetisie. “Hy moet onthou, ek het reeds gewen en daag hom nou uit om dit te ewenaar!”

Meer oor:  Kuier  |  Boereworskampioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.