Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kan nie sonder kollega: Mis jy jou werkmaat?
25 Junie 2020


Miljoene Suid-Afrikaners werk al sedert Maart van die huis af en baie mense mis die sorgelose gelag en daaglikse se geklets met hul kollegas. Baie mense het al weke gelede onttrekkingsimptome in lockdown begin ervaar, veral wanneer dit by hul “werkman of -vrou” oftewel “work spouse” kom.

Maar hoe gemaak as jy jou work spouse meer mis as wat jy dit geniet om in lockdown 24/7 saam met jou werklike lewensmaat te wees? Ons almal het al van ’n “work wife” of “work husband” gehoor. Dit is gewoonlik daardie kollega saam met wie jy baie goed oor die weg kom en saam met wie jy gewoonlik alles deel.

Volgens kenners kan dit ook wees dat julle dalk die mense is wat die meeste op kantoor stry en mense rondom julle voel dus julle is soos ’n ou getroude paartjie en verwys na julle as “werkman en -vrou”. Die gemiddelde Suid-Afrikaner met ’n gewone 09:00-tot-17:00-werk, spandeer ongeveer 40 uur van hul week by die werk en volgens Eloise van der Westhuizen, ’n verhoudingsberader van Brackenfell in die Kaap, is dit dus glad nie vreemd dat mense hul kollegas mis nie.

Maar sy waarsku daar is wel iets soos jou kollega “te veel mis”. PRPioneer.com, ’n kommunikasiemaatskappy in Amerika, het ’n opname met 3 000 mense gedoen wat tans van die huis af werk weens inperkings om te bepaal hoe hulle sonder hul work spouse klaarkom.

Volgens dié opname glo 66% dat hulle meer produktief sou wees as hulle met hul work spouse in lockdown was. Een uit elke tien werkers het erken dat hulle al hul lewensmaat se naam met dié van hul werkman of -vrou verwar het en dat 26% van hulle eintlik meer verlang na hul work spouse as hul werklike lewensmaat.

Eggenote ontevrede

Robin van Schalkwyk (29) van Durbanville in die Kaap, erken skaam dat sy al meer as een keer haar man, Chad, tydens lockdown op haar work husband (Oliver) se naam geroep het. “Ons werk saam in bemarking en events, so ons hou daarvan om mekaar se opinies te vra. Ons praat gedurig saam met mekaar en wanneer ons ’n bietjie van ’n breuk nodig het, gaan kry ons gewoonlik ook koffie of middagete saam. Ons ander kollegas hou meer van hul eie spasie en hulle is baie stil, so ons het onmiddellik net gekliek.”

Sy sê aan die begin van lockdown was dit ’n aanpassing om saam met haar man te werk, veral omdat sy nie gewoond daaraan is om in ’n stil omgewing te werk nie. Haar man is in finansies en moet op sy eie werk om te konsentreer. Hy is ook baie ernstig wanneer hy werk en hou nie daarvan om te gesels terwyl hy besig is nie.

Toe sy te veel haar kantoordinamiek begin mis, het sy haar “werkman”, Oliver, al hoe meer begin bel. Dit het haar man vir ’n tydjie begin irriteer, want hy wou stilte hê, terwyl sy met iemand anders heeldag op die foon gelê het. Maar toe begin sy haar man na-ure Oliver noem en het nog lank ná werksure met hom gesels.

Chad het dit vinnig stop gesit, vertel Robin ernstig. Elvin Plaatjies (36) van Bellville in die Kaap, voel weer die teenoorgestelde. Hy sê hy verlang na sy “work wife” omdat hy voel hy meer produktief is rondom haar. “Lockdown het vir my geleer hoekom mense altyd sê don’t mix business with pleasure. Ek probeer nie snaaks wees nie, maar ek is net baie meer produktief rondom my kollegas. Ek het een spesifieke kollega, wat ’n mens nou seker my work wife sal noem. Ons sit heeltyd vas, maar ons werk ook die lekkerste saam. Ons is argitekte, so ons werk dikwels saam,” sê hy.

“Ons help mekaar en hou daarvan om idees te deel, maar ons gee mekaar ook ons spasie om te werk. My vrou het gedink lockdown is perfek vir daardie ekstra spesiale tyd saam. Maar ek werk met deadlines en soms as sy probeer help en idees gee, hou sy my eintlik net uit die werk uit.” Dit het frustrasies laat opbou en toe hy eendag tydens ’n argument laat val dat hy sy “werkvrou” meer mis, was alle hel los. Elvin lag nou wanneer hy vertel dat sy eie vrou hom vinnig terug aarde toe gebring het oor wie die regte vrou in sy lewe is.

Probleme

Eloise sê sy het al met baie paartjies te doen gehad waar jaloesie oor hul werkmaat probleme in hul huwelike of verhoudings veroorsaak het. Soms lei dit selfs tot egskeidings en breek dit families op. Sy raai mense aan om te onthou dat jou lewensmaat nie jou kollega is nie en dat hulle nie dalk gaan reageer soos wat jy wil hê ná daardie Zoom-vergadering waaroor jy nou wil kla nie of saam brainstorm soos wat jy graag sal wil hê nie. Hulle ken nie jou kantoor se dinamika nie en dikwels weet hulle ook nie wie die mense is waarvan jy praat nie.

So hulle sal nie dieselfde reageer nie. Eloise meen dit is die beste om werk en persoonlike lewe apart te hou, al werk jul albei van die huis af tydens lockdown. “Maak seker wanneer die werk klaar is, julle dan ook klaar is met jul kollegas en jul volle aandag by die huis gee. Gee vir elkeen hul eie spasie om in te werk, sodat jy jouself daar kan uitleef en dalk is ’n ná werk date night iets om te oorweeg. Iets soos wat julle onder normale omstandighede sou doen as werk en die huis nie dieselfde plek was nie.”

Tamaryn de Bruin (40) van Kaapstad, ’n menslike hulpbronpraktisyn, sê dit is goed vir kollegas om ’n goeie verhouding te hê, maar wanneer dit by “werkmans en -vroue” kom, is daar ’n fyn lyn tussen wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. “Die probleem is dat baie mense soms nie hulself kan help nie en later ’n regte verhouding buite hul huwelike vorm wat ook dan ’n HR-nagmerrie by die werk veroorsaak, veral as dit buite die werkreëls val. Dit maak dit ook ongemaklik vir jou kollegas en dit is hoekom ons mense teen sulke verhoudings waarsku,” sê Tamaryn. So, al is dit altyd goed om met jou kollega oor die weg te kom, is dit belangrik om te onthou dat jy ’n lewe buite die kantoor het en dat dit nooit ’n goeie idee is om werk en plesier te probeer meng nie . . .

Maak seker wanneer die werk klaar is, julle dan ook klaar is met jul kollegas en jul volle aandag by die huis gee.


GEVAARTEKENS

As jy nie seker is of jou verhouding met ’n kollega te vriendelik is nie, gee Eloise dié riglyne:

• As jy ’n work spouse het en vind dat jy te veel met hulle buite werktye gesels oor dinge wat met jou persoonlike lewe te doen het, is dit moontlik ’n ongesonde verhouding.

• Moet nooit oor jou lewensmaat by jou werkmaat kla nie.

• As jy dinge van jou lewensmaat af wegsteek, maar dit vir jou werkmaat vertel, is dit nie ’n goeie teken nie.

• As jy nie met jou familie, vriende of lewensmaat eerlik kan wees oor hoe baie jy met jou werkmaat uithang of dalk vir mekaar boodskappe stuur nie, moet jy dit stop en kan dit gevaarlik raak.

• As jy te emosioneel gekoppel raak aan die persoon en te bly word om hulle te sien of te veel ná werksure na hulle verlang, moet jy jouself begin vra hoekom jy so voel.

• Laastens, as jy regtig twyfel oor jou verhouding met ’n werkmaat, vra jouself of jy saam met hulle sou wees as jy enkellopend was en as die antwoord ja is, moet jy ’n rooi vlaggie sien.

Meer oor:  Verhoudings Werk  |  Werk Van Huis Af  |  Kuier  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.