Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Daggawette: Kan SA dié pyp rook
14 November 2018

Al het die Grondwethof in September vanjaar dagga vir privaat gebruik in Suid-Afrika gewettig, bestaan daar nog baie onduidelikheid daaroor, maar waar dan beter om te gaan kers opsteek as by die Nederlanders waar hulle al in 1972 hul daggawette verslap het.

Nederland het dagga as minder gevaarlik geklassifiseer en gedekriminaliseer om dit te onderskei van gevaarliker dwelms soos opium en heroïen. Omdat studies toe getoon het die matige gebruik van dagga is relatief onskadelik, het hulle dit in dieselfde kategorie as alkohol en tabak gesit eerder as om dit as ’n gevaarlike dwelm te behandel.

So was dit toe ’n lekker herfsoggend (dis nou herfs in die noordelike halfrond) in Amsterdam toe Kuier twee laggende jong mense, elkeen met 5 g dagga, in die halfvol Popeye-koffiewinkel raakloop. Hulle het dit teen €5 (so R80) elk gekoop, by ’n tafel gaan sit, dit fyn gemaak en rustig hul zolle begin swaai. Dié vriende is twee 22-jarige toeriste, een van Nieu-Seeland en die ander van Kalifornië.

Daar het lekker rustige, maar ritmiese musiek gespeel. Nog twee meisies het ingekom en ook gou-gou aan hul zolle begin suig. Niemand het gedink dis snaaks nie, want Pop­eye is een van die baie koffiewinkels in Amsterdam en die breër Nederland waar jy dagga wettiglik kan koop en gebruik. Inderwaarheid floreer die koffiewinkels hier onder die steun van die derduisende toeriste wat Amsterdam jaarliks besoek.

Albei die jong manne sê hulle rook dagga al van 15 jaar oud af. “Ek het net baie gelag toe ek dit vir die eerste keer gebruik het. Dit het my gelukkig, lomerig en ‘hoog’ laat voel,” sê die Nieu-Seelander. Hy sê hoe meer hy gerook het, hoe minder was die uitwerking daarvan.

“Die eerste keer was ’n baie intense gevoel.” Hy sê hy gaan nie ophou nie.

Sy Amerikaanse vriend het ook g’n planne om op te hou rook nie en hy sê daggarook “het ’n uitwerking op jou kop”, terwyl die ander daggaprodukte (edibles) soos koekies, tee en sjokolade jou net lomerig laat voel.

Word steeds beheer

’n Paar strate weg by ’n ander koffiewinkel, Grey Area, vertel die eienaar, Jon Foster, dit bestaan al sedert 1994. “Dis ’n plek waar verskillende mense van regoor die wêreld rook en vriende maak. In Nederland, die eerste land om wette teen dagga te verslap, is die besit van dié dwelm steeds onwettig, maar nie vir persoonlike gebruik tuis of in “koffiewinkels” nie.

Gelisensieerde koffiewinkels of restaurante – waarvan die meeste ook kos bedien – word toegelaat om klein hoeveelhede (5 g per klant) daggaprodukte te verkoop. Die koffiewinkels se eie voorraad mag nie meer as 500 g wees nie. Word jy as klant egter betrap met meer as 5 g dagga, word gereken dat jy daarmee handel dryf en jy kan ’n maksimum boete van €3,500 (sowat R60 000) opgelê word. Die besit van meer as 30 g kan ’n maksimum van twee jaar tronkstraf of ’n boete van tot so R285 000 vir ’n oortreder beteken. Behalwe vir die maksimum hoeveelheid wat koffiewinkels aan ’n klant mag verkoop, mag hulle nie ander dwelms (insluitend alkohol) verkoop nie. Hulle loop boonop die risiko om gesluit te word as hulle dwelms aan kinders verkoop. Geen koffiewinkel mag daarom binne ’n 250 m radius van skole wees nie.

In 103 van die 383 munisipaliteite in Nederland is daar minstens een koffiewinkel, met altesaam 573 oor die hele land. Ondanks die jarelange wettige beskikbaarheid van dagga in Nederland is selfs in dié land ook nog groot meningsverskille daaroor.

Peter Kampschuur, ’n Nederlandse sielkundige, het onlangs in die dagblad Trouw geskryf dagga veroorsaak onttrekking, ’n konsep wat glo nie wyd bekend is in die Westerse psigiatrie nie en daarom word dit nie verstaan waarom die dwelm skadelik kan wees nie. Hy skryf onttrekking beteken dat jy buite jou liggaam “hang” as daarin teenwoordig is en gaan gepaard met ’n toestand van “selfvervreemding”. “Pasiënte wat daaraan ly, sê byvoorbeeld dat hulle nie meer hul emosies goed voel nie en soms selfs dat hul liggaam (of ’n deel daarvan) nie meer voel of dit deel van hulle is nie.”

Hy skryf dis al jare bekend dat die gebruik van dagga dikwels voorkom in die geskiedenis van pasiënte wat ly aan maniese psigose – ’n ernstige geestelike versteuring met hallusinasies en onvanpaste gedrag. Peter het gereageer op ’n Nederlandse kongres waar ontleders, sakelui en beleggers van regoor die wêreld in September vanjaar idees uitgeruil het oor die groeiende mark vir dagga. Dit word in dié kringe as die “groen goud” bestempel.

Hy hou vol kannabis is nie genesend nie en dat dit misleidend is om die gebruik daarvan “medisinaal” te noem. Hy sê dit dra minstens by tot kranksinnigheid, maar dit word net opgemerk in mense wat aan maniese psigose ly. “In my praktyk sê ek aan kliënte of hulle reeds verslaaf is of nie, ek kan hulle net van diens wees indien hulle daggagebruik laat vaar.” Net die volgende dag is hy in die briewekolomme van Trouw gekritiseer as “eensydig” in sy kommentaar en het ’n vrou met ’n lewensmaat van 80 vertel van hoe daggatee sy pyn verlig.

Strenger optrede

Maar ook die Nederlands Huisartsen Genootschap (NHG) het in Junie in ’n nuwe standpunt gevra dat die voorskrif vir dagga as pynverdower eers gestop word. Die NHG het die pynstillende uitwerking bestempel as “te gering”. In ’n verslag hieroor voer die NHG aan dat dié dwelm net waardevol kan wees in die finale fase van iemand se lewe as niks anders help nie. “Ons sê nie dit werk nie, maar daar is tans nie genoeg bewyse nie.”

Die NHG beskryf die rook van dagga as “skadelik vir die lugweë” en beveel aan dat dit as laaste uitweg vir medisinale doeleindes (soos dagga-olie) net op voorskrif verkry moet word.

Ook Mark Rutte, die Nederlandse eerste minister, het teen eksperimentering met dagga gewaarsku. Hy het tydens ’n onlangse besoek aan Kanada gesê hoewel sy land gesien word as die bastion van dagga-gebruik in Europa, moet mense dit eerder nie probeer nie. “Die dagga wat jy vandag kan koop, is baie sterker as voorheen, wat sleg is vir gesondheid, veral vir jong mense,” het hy volgens die The Jakarta Post gesê.

In Nederland word verskeie daggaprodukte verkoop. Dit sluit in jelly beans, lollipops, sjokolade, koekies en roomys. Dit word oral binne spesialiteitswinkels en in winkelvensters geadverteer. Die skrywer het die sjokolade, ’n groterige koekie en tee probeer. Dit het in alle gevalle ’n vae rustige uitwerking gehad, met lomerigheid later.

Dagga in die koffiewinkels kan in verskillende sterktes gekoop word. Hoe sterker, hoe duurder en die pryse wissel van €5 (so R80) tot €20 (so R300) vir 5 g dagga in dié winkels. ’n Sjokolade en koekies met sjokolade in die spesialiteitswinkels kos €10 (so R160). Een teesakkie en een lollipop kos €2 (so R33). Dit is nie onwettig om dit te verkoop nie, omdat dit nie THC (psigoaktiewe bestanddeel) bevat nie, sê ’n winkeleienaar.

Nie-rokers se belange word darem ook in ag geneem en in April vanjaar het Den Haag die eerste Nederlandse stad geword om die buigsame houding teenoor dagga in te perk. Daggarokery in die middestad is ná klagtes van inwoners verbied. Die verbod word oor twee jaar hersien.

Bekommerd

In Suid-Afrika is daar groot kommer in onderwyskringe oor die wettiging van dagga. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie, sê daar word algemeen aanvaar dat daggagebruik die beginpunt is vir die meer ernstige misbruik van ander dwelms en die aanvoeling is dat misbruik nog meer ernstige afmetings gaan aanneem.

“Die misbruik van dagga in privaat-

eiendom gaan hoegenaamd nie gekontroleer kan word nie weens die praktiese implikasie van die hofuitspraak. “Dit gaan gewis tieners verder laat eksperimenteer.”

Chris sê onderwyskenners voorspel dat veral diep landelike skole en township-skole ’n vlaag van dwelmmisbruik in die gesig staar weens die moeilike praktiese kontolering van dagga.

Danie van Wyk, ’n onderwyskenner, sê die probleem in Suid-Afrika is dat wette nie gepolisieer word nie. “Ek is bevrees dieselfde gaan gebeur met daggawette.” Nederland is ’n ontwikkelde land waar wette streng toegepas word. “Suid-Afrika as ontwikkelende land beskik nie oor die vermoë om eenvoudige wette af te dwing nie,” sê hy.

Meer oor:  Kuier  |  Daggawette  |  Dagga-Produkte  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.