Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kanker tref ma én dogter tegelyk
25 Junie 2020
Tatum Tippens in die hospitaal ná haar operasie.

Dis ’n woord (of liewer siekte) wat die vermoë het om by die eerste aanhoor jou hele lewe op sy kop te keer. Een wat verwoesting saai en ’n spoor van gebrokenheid en hartseer agterlaat . . .

Vir die Tippens-familie van Atlantis in die Wes-Kaap was dit nie veel anders nie. Inteendeel, die familie moes twee keer in een jaar van aangesig tot aangesig te staan kom met die groot K. Die eerste keer was toe hul ma, Liesl Tippens (46), haar diagnose kry en net twee maande later moes hulle hoor haar dogter, Tatum (26), het ook kanker.

Hulle is met twee verskillende soorte kanker gediagnoseer. Die familie was nog besig om Liesl se diagnose te verwerk toe hulle opnuut die harde werklikheid van kanker moes verwerk met Tatum se diagnose. Liesl het haar stryd teen kanker verloor, maar Tatum veg nog onverpoos. Met ’n diep hartseer in haar oë vertel Tatum van haar en haar ma se stryd.

“Die jaar 2019 was in alle aspekte ’n nagmerrie vir ons as familie. Ons sou nooit kon raai dat ons deur soveel diep waters moes swem in so ’n kort tydjie nie.” Liesl is in Mei 2019 met gevorderde fase drie kolonkanker gediagnoseer. “Toe ons die nuus kry, het die ergste natuurlik deur ons koppe gegaan. Gaan ons ma dit oorleef? Hoeveel gaan die stryd van haar verg? Al die vrae maal deur ’n mens se kop, maar ons as familie was reg om dit die stryd aan te sê,” vertel Tatum. Terwyl hulle nog tot verhaal gekom het met Liesl se diagnose, moes Tatum in Julie 2019 vir ’n kolonoskopie en gastroskopie gaan.

“Ek het dieselfde simptome as my ma ervaar en dit het my bang gemaak. Ek is dieselfde dag in die hospitaal opge-neem en in daai week het die uitslae ge- kom. Ek is gediagnoseer met fase drie esofageale kanker op die ouderdom van 25.” Esofageale kanker (slukdermkanker) is die kanker van die buis wat van die keel na die maag loop. “Dit is waar ons nagmerrie begin het. Terwyl ek myself reggemaak het om saam met my ma haar stryd te stry, moes ek skielik ook myself regmaak om my eie battle aan te durf.”

Liesl, haar ma, in die hospitaal in April vanjaar.

Hulle ly saam

Liesl se man, Alistair, en haar ander twee kinders, Cody en Zoe, by haar graf.

Dié sterk jong vrou erken dat dit nie net geestelik dreinerend was nie, maar ook fisies. “Ek en my ma het basies ons chemoterapie saam begin. Party dae het ek saam met haar gegaan wanneer ek nie behandeling moes kry nie en sy weer met my wanneer ek behandeling moes kry en sy nie.” Tatum het vyf weke van chemo en bestraling ondergaan.

“Ek het toe ’n breek gehad, maar my ma nie. Sy het voortgegaan met chemo en bestraling.” Terwyl die twee vroue sy aan sy saam teen kanker geveg het, moes Tatum in Januarie vanjaar ’n groot operasie ondergaan. “Ná die esophagectomy was ek vir drie weke in die hospitaal en kon ek geen vaste kosse eet nie. Ek het ook my stem verloor en moes ’n stemspesialis sien. Ek het boonop meer as 30 kg verloor. Dit was moeilik en pynlik op so baie vlakke. Die newe-effekte van die chemo is vir my die ergste.”

’n Esofagektomie is ’n chirurgiese prosedure om die slukbuis tussen die mond en maag (slukderm) te verwyder en dit dan weer te herstruktureer met behulp van ’n ander orgaan, gewoonlik die maag. ’n Maand ná Tatum se operasie, in Februarie, moes haar ma vir ’n scan gaan om te kyk hoe dit met haar kanker gaan. “Die kanker was steeds teenwoordig en die dokter het aanbeveel dat my ma moet aangaan met haar chemo.” Tatum is ook later dieselfde maand vir ’n check-up. “Daar is bevind dat my kanker so aggressief is en dat ek weer terug moet gaan op chemo. Dit het my plat teen die vloer geslaan. Dit was nie wat ek verwag het nie. Ek was so optimisties, veral ná die operasie.”

Opgee was egter nie ’n opsie vir dié ystervroue nie. Op 9 Maart vanjaar moes Tatum wéér begin met chemo. Liesl moes ook weer met chemo op dieselfde dag begin, maar kon nie. “My ma se immuunstelsel was egter te swak en sy kon nie met die terapie begin nie. Sy sou toe weer in Julie met haar chemo kon begin.” Ná dié nuus het Liesl se gesondheid begin agteruitgaan.

“Sy het elke dag ’n bietjie swakker geraak. Ek het haar begin bad, want sy kon nie eens meer opstaan en badkamer toe gaan nie. Sy het gekla van pyn en ons het haar hospitaal toe geneem. ’n Mens kon eintlik sien dat sy besig was om vrede te maak met wat aan die gebeur was. “Om middernag, op 17 April, terwyl die hele gesin aan haar sy was, het haar stem vir ewig stil geword. ’n Maand voor Moedersdag.” Tatum kan haar trane nie meer keer nie. Dit is asof sy opnuut weer besef dat haar mammie nie meer met haar is nie. Sy dink met heimwee terug aan die tipe vrou wat haar ma was.

“Sy was ’n vegter, my held. Die een wat alles bymekaargehou het in die gesin. ’n Ma met wie ’n mens kon praat en jou lewe mee deel. Sy was ’n lieflike mens, maar streng ook. Iemand wat nie bang was om te veg nie. Ek veg nou teen die kanker, nie net vir my nie, maar ook vir my ma. Ek onthou hoe sy in die dae voor haar dood net na my gekyk het met ’n tevrede trek op haar gesig. En dan het sy begin huil. Sy het nooit iets gesê nie. Ek het haar ook nie gevra waaroor sy huil nie. Ek het net langs haar gaan lê en haar omhels. Ons het so baie gedeel, selfs kanker . . .”

Sy was ’n vegter, my held. Die een wat alles bymekaargehou het in die gesin.

Kyk vorentoe

Dié jaar, 2020, was dus nie veel anders vir die Tippens-gesin nie. Dit was nog meer hartseer as 2019, want in 2019 het hulle darem nog hul ma by hulle gehad. “Deur dit alles het Covid-19 nog ook oor ons pad gekom. Met die inperking word ons van baie dinge ontneem, of liewer van baie dinge beskerm, maar die ergste vir my was om my ma se begrafnis gedurende dié tyd te hou. Dit was vir my so onpersoonlik en onsensitief en dit is nie die tipe mens wat my ma was nie.”

Dis hoe Tatum nou lyk.
Dis hoe Tatum nou lyk. Sy is vasbeslote om haar stryd teen kanker te wen.

Liesl word oorleef deur haar man, Alistair (47), en drie kinders – Tatum en die tweeling, Zoe en Cody (12). En al is dit reeds ’n paar maande later, sukkel Tatum en haar sibbe om vrede te maak met hul mammie se heengaan. “Dis moeilik om dinge aan te pak sonder haar. Daar is steeds tye waar dit onwerklik voel en wanneer ek na haar wil draai vir ’n drukkie, raad of ondersteuning, maar sy is nie meer daar nie. Ek het voor haar afsterwe gesê dat ek eendag haar storie aan Kuier gaan vertel. Ek weet sy kyk na ons en dat sy baie trots is op my. Ek is ook bly dat mense die geleentheid kry om die wonderlike vrou te leer ken wat ons die voorreg gehad het om ons ma te noem. Dit is vir ons moeilik om dinge op ons eie uit te figure, maar ons as familie staan saam en is bereid vir enige iets wat na ons kant toe gegooi kan word.”

Tatum het eerstehandse kennis van wat kanker aan ’n mens kan doen, maar sê vir haar eie gesondheid en emosionele welstand moet sy optimisties bly. Een van haar grootste vrese was dat sy haar welige bos hare weens kanker gaan verloor, maar sy het nie. “Ek probeer soveel moontlik om my besig te hou met positiewe gedagtes. Dit is belangrik om gedurende die moeilike tye geanker te bly in God en jou geloof, want Hy sal jou hierdeur ook dra. Ek kan nie op ’n ashoop sit en myself jammer kry nie. Ek kry nog elke dag die kans om te lewe en dit opsigself is ’n blessing.”

Dan sê sy skielik: “Weet jy, ek sê altyd vir mense moenie toelaat dat kanker wen nie. Moenie toelaat dat dit jou geluk steel nie. Jy moet die siekte met jou hele liggaam en mind veg. Dis makliker gesê as gedaan, ek weet, trust my, ek weet, maar as jy nie veg nie, sal jy nooit weet of jy kon wen nie. Kanker het nie ’n stem nie, jy het. Gebruik dit.”

Die 26-jarige Tatum veg steeds teen die groot K. “Is ek van plan om op te gee? Natuurlik nie! Ek is as ’n warrior gebore en nog boonop deur een grootgemaak ook. Ek ken nie van opgee nie. Ek sal veg tot die bitter einde. Daar is nog drome wat ek wil bereik, dinge wat ek wil doen en plekke wat ek wil besoek. My ma het geveg vir haar kinders en gesin en nou is dit my beurt. Eers wanneer ek weet dat ek alles gedoen het om die geveg te wen dan sal ek opgee, maar tot dan kap ek aan!”

Meer oor:  Kuier  |  Kanker  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.