Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Katlego: Sy seun is sy kalmte en anker
28 Junie 2019
Katlego Maboe


Met ’n nuwe babaseuntjie, groeiende musiekloopbaan, liefdevolle verhouding en ’n werk waarvoor hy lief is, het die Expresso-aanbieder en sanger Katlego Maboe (33) talle redes om soggens met ’n lied in sy hart op te staan.

Sedert hy as aanbieder op Expresso begin het, het hy al die geleentheid gekry om verskeie avonture te beleef, maar die mees opwindende avontuur van sy lewe sover het amper presies ’n jaar gelede begin met die geboorte van sy seun, Phoenix.

Katlego beskryf die dag toe sy seun ge- bore is op 26 Junie 2018 as onwerklik en sê dit het gevoel soos ’n droom, want ná nege maande van wonder hoe dié klein mensie gaan lyk, klink en voel, kon hy dit nie glo toe hy vir die eerste keer sy seun in sy arms vashou nie.

“Toe hy gebore is, was dit vir my onbe-skryflik. Jy kan eintlik nie glo dat hierdie baba waaroor jy gewonder het, hier is nie en dat hy huil en geluide kan maak en vir jou kyk nie. Hulle sê jy verander wanneer jy ’n kind het en dit is so waar. Nie net omdat jy nou vir iemand anders verantwoordelik is of omdat jou hart van liefde wil bars nie, maar ook omdat alles wat voorheen belangrik was, nie meer so belangrik voel nie.”

Daar vir sy seun

Hy en sy seun, Phoenix. Sy ouers wys nooit sy gesig op foto’s nie.

Katlego sê voor sy seun se geboorte het hy die meeste van sy tyd aan sy werk bestee, maar ná Phoenix se koms het hy besef sy vryetyd is nou belangriker as ooit. Hy dink deesdae twee keer voordat hy sy vryetyd vir werk opoffer. Werk sal altyd vir hom belangrik wees omdat hy sy seun die beste wil gee en daarvoor het jy geld nodig. Maar werk is werk, en familietyd is familietyd.

“Voorheen was dit net werk, werk en werk, maar nou as ek ’n halfuur vry het, sal ek gou huis toe gaan. Al slaap hy, sal ek vir hom kyk of sy hand vashou en soms sal hy self wakker word en weet ek is daar en dat ek met hom praat,” sê hy aangedaan.

Vaderskap is vir Katlego baie belangrik omdat sy eie pa nie baie teenwoordig was in sy lewe nie. Katlego se pa is vier jaar gelede oorlede en hulle het nooit regtig ’n verhouding gehad nadat sy ouers geskei het nie. Om daardie rede is dit nog meer belangrik vir Katlego om tyd saam met sy seun te spandeer sodat sy seun weet hy is daar vir hom. Want dis iets wat hy nooit geken het nie en hy het hierdie letsel vir baie lank saam met hom gedra.

Totdat hy ná sy pa se afsterwe besef het hy sal moet laat gaan van hierdie bagasie omdat dit hom gaan terughou. Hoewel hy vrede daarmee gemaak het dat sy pa nie deel van sy lewe was nie, sê Katlego hy het dikwels gewonder hoekom sy pa nie in hom belangstel nie.

Ek wil nooit hê Phoenix moet wonder waar sy pa is nie en of sy pa betrokke in sy lewe is nie.
Katlego

Maar hy het dit eerder in ’n les oor vaderskap omskep. Die leemte wat sy pa in sy lewe gelaat het, moedig Katlego nog meer aan om ’n betrokke pa te wees, al is dit vir doek omruil of tweeuur in die oggend opstaan, hy wil daar wees vir al die goeie én slegte tye in sy seun se lewe. “Ek wil nooit hê Phoenix moet wonder waar sy pa is en of sy pa betrokke in sy lewe is nie. Ek wil sy beste vriend wees en die wêreld vir hom gee en wys. Ek kan nie wag vir ons as gesin om te reis nie.

Reis het soveel drome in my wakker gemaak en ek wil hê my seun moet ook groot droom en voel asof enige iets moontlik is,” sê hy. “Ons beplan vanjaar ons eerste trip oorsee as gesin, maar tot dan geniet ek dit om my eie wekker te hê, want sedert sy geboorte was ek nog nie een dag laat op stel nie. Al vergeet ek om ’n wekker te stel, sal hy elke oggend vieruur wakker word en dan spandeer ons daardie tyd saam. Dit is oomblikke wat ek vir niks sal verruil nie.”

Katlego sê hy wil graag net sy beste doen om ’n wêreld te skep waarin Phoenix kan floreer en die feit dat sy seuntjie hierdie maand een jaar oud word, is iets wat steeds vir hom en sy lewensmaat, Monique Muller, verstommend is.

Maar voordat hulle Phoenix se verjaardag vier, was Katlego opgewonde om sý eerste Vadersdag te vier. “Ek was baie opgewonde, eerstens omdat ons hierdie seëning in ons lewe al vir amper ’n hele jaar lewendig en gesond gehou het. Maar ook omdat ouerskap aan die begin vir ’n mens baie bang en bekommerd kan maak. So om op dié punt te kon kom waar jy nou meer kan ontspan en jou eerste Moedersdag en Vadersdag kan geniet, is regtig opwindend,” sê hy.

Maar behalwe dat ons hom op die kassie sien, spandeer hy nie al sy tyd voor die kamera nie, hy begin ook al hoe meer op die verhoog optree en hoop om hierdie jaar regtig op sy musiekloopbaan te konsentreer.

Volgens Katlego het hy nog altyd ’n groot liefde vir musiek gehad en hy het dié liefde as ’n manier gebruik om te ontspan en om vir hom ’n uitlaatklep te gee as hy deur moeilike tye gaan. Hy het op skool in die koor gesing en was nog altyd lief daarvoor, maar het nooit daaraan gedink om dit ’n loopbaan te maak nie.

Maar so twee jaar gelede het hy die geleentheid gekry om elke Dinsdag ’n liedjie op Expresso te doen en omdat dit so gewild is, het dit deel van die program geword. Dit het vir Katlego van vooraf herinner aan sy passie vir musiek en het hy daardie platform begin gebruik om sy passie as musikant uit te leef. Al hoe meer mense het daarvan gehou en deesdae word hy nie net as ’n MC vir korporatiewe geleenthede bespreek nie, maar ook as sanger, en nou werk hy daaraan om vanjaar sy eerste album vry te stel.

Hy sê hy kan nog nie baie daaroor sê nie, maar daar gaan iets vir almal op wees. Hy hou baie van jazz, maar dan hou hy ook van house-musiek en ’n bietjie Afrikaans. Hy beskryf dit as ’n viering van ons erfenis as Suid-Afrikaners, maar met ’n lekker party vibe. Iets wat jonk en oud van sal hou. Maar hy glo nie dat hy voltyds as musikant sal wil werk nie, hy sien dit as nog ’n deel van sy werk van ’n kunstenaar.

“Al is dit deur sang, deur my onderhoude of ’n inspirerende boodskap, probeer ek elke dag om die beste te doen wat ek kan om mense se harte te raak en hulle te vermaak. Ek het jare gelede dinge neergeskryf wat ek graag eendag sou wil bereik en het regtig daaraan begin werk om dit te laat gebeur.” Omdat hy weet hy moet hard werk om sy drome te bewaarheid, is dit belangrik vir Katlego om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie en altyd dankbaar te wees. Want hy weet net so vinnig soos wat jy iets gekry het, kan jy dit verloor.

Foto’s: Misha Jordaan en Verskaf

Meer oor:  Katlego Maboe  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.