Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kersgeskenke: Raad vir as jy tablets of fone wil koop
27 November 2019
Foto: Getty Images/Gallo Images


Daar is nog ’n paar weke oor voor Kersfees, maar duisende Suid-Afrikaanse ouers sit reeds met hul hande in die hare, want hul kleinding het klaar gesê hulle soek ’n selfoon, tablet of ander nuwerwetse elektroniese toestel.

En nie net kos van dié toestelle ’n plaas se prys nie, maar dit kan ook baie sleg wees vir jou kind se gesondheid. Hierdie hedendaagse towerlampe waarvan Aladdin maar net kon droom, het behoorlik ons kinders se wêrelde oorgeneem.

Deesdae is daar ook mos ’n app vir elke gier, duisende speletjies vir eindelose plesier, om nie eens van YouTube-kanale en sosiale media te praat nie. Baie ouers kla egter ook nie, want tablette en slimfone is wonderlike goed om kinders mee stil en besig te hou. Maar te veel tyd voor ’n skerm is nie goed vir ’n jong brein of gemoed nie.

Volgens dr. Gabriel Malherbe, ’n psigiater van Somerset-Wes, behoort skermtyd verdien te word. “Jy kan al van twee- of driejarige ouderdom jou kind daaraan gewoond maak dat hulle hul skermtyd moet verdien deur klein takies te verrig (deur byvoorbeeld al hul speelgoed op te tel).”

Malherbe beveel aan dat ouers ’n puntestelsel probeer. Kinders kry dus punte vir byvoorbeeld goeie gedrag wat hulle dan kan ruil vir skermtyd. “Terloops, hulle moet ook punte verloor vir wangedrag,” beveel Malherbe aan. “Só ’n stelsel sal sommer help om ook jou kind te leer dat jy bitter min in die lewe verniet kry en dat jy moet verdien wat jy wil hê. Wanneer skermtyd ook vir hulle kosbaar is en hulle daarvoor gewerk het, is kinders minder geneig om dit te misbruik.”

Maak ook seker jou reëls oor toestelle en skermtyd hou jou kind se gesondheid en ontwikkeling in gedagte. Volgens Malherbe beveel kenners byvoorbeeld aan dat laerskoolkinders ’n maksimum van twee uur skermtyd per dag toegelaat word (dit sluit TV-kyk in) en geen skermtyd vir minstens 1 – 2 ure voor bedtyd nie.” Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ook vanjaar aanbeveel dat kinders onder twee liefs nie skerms of elektroniese toestelle moet gebruik nie. Kinders se beheptheid met slimfone kan ook veroorsaak dat hulle nie genoeg fisiese speeltyd en slaap inkry nie.

Keer verslawing

Volgens dr. Stephanie Sieberhagen, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, ontwikkel ’n kind se brein die eerste paar jare teen ’n snelle pas en leer hulle die meeste deur met mense en hul omgewing interaksie te hê, nie met skerms nie. Om heeltyd kop onderstebo te sit en nie gereelde oogkontak met mense te maak nie, rem ’n kind se vermoë om sosiale vaardighede te ontwikkel.

Daar is ’n Engelse gesegde wat lui: “toddlers need more laps than apps”. Natasha Nothnägel van Uitenhage, ma van vyfjarige Zane, het al begin moed opgee oor hoe verslaaf haar jongste aan sy tablet was. Volgens haar is dit al waarin hy belangstel, soveel só dat hy sy boetie en sussie heeltemal geïgnoreer het. “Sy ruggie was later skoon krom van die lang ure wat hy voor die skerm deurgebring het. Sy bloedjonge arms en vingertjies het later selfs krampe ontwikkel. Wanneer ons sy tablet afvat, skree hy blou moord,” vertel Natasha.

Volgens haar het die situasie drasties verbeter nadat hulle vir Zane ingeskryf het vir ’n sportprogram wat help om hul motoriese vaardighede te ontwikkel. Dit help ook met hul sosiale interaksie en om hul karakter te bou. “Zane het binne ’n maand handomkeer verander en ’n sosiale vlindertjie geword. Deesdae word sy skermtyd ook drasties beperk,” vertel Natasha verlig. Maar die toestelle is nie net slegte nuus nie.

Met behoorlike toesig en leiding kan dit ook help met leeraktiwiteite. Sieberhagen beveel dus aan dat ouers betrokke is by hul kind se ervaring met elektroniese toestelle, veral op ’n jong ouderdom. Baie kenners en opvoeders meen ook interaktiewe media het ’n plek in die moderne kind se lewe. Slimfone en tablette kan leerkonsepte en kommunikasie bevorder. Sommige slimfone en tablette is egter ontsaglik duur en is eenvoudig buite die bereik van die meeste volwassenes, wat nog te sê van hul kinders. Daar is egter goedkoper weergawes en alternatiewe beskikbaar.

Sy ruggie was later skoon krom van die lang ure wat hy voor die skerm deurgebring het.

Só deel Sandra Prins van die Paarl se seun, Liam, en sy nefie, Diego, al vir meer as ’n jaar ’n tablet. Sandra en haar suster, Charmaine, het beursies bymekaargesit om die toestel te koop en ruil dit op ’n weeklikse basis onder die twee seuntjies uit. Gelukkig woon hulle naby mekaar en sien hulle mekaar gereeld. Só ’n reëling is nie altyd prakties moontlik nie, maar in hulle geval werk dit uitstekend.

“In die begin was dit soms moeilik, maar ons het net voet by stuk gehou. Hulle kry al om die beurt ’n kans met die toestel en spandeer dus nie oormatige tyd voor die skerm nie,” vertel Sandra. En al gaan baie kinders dié Desember grootoog na hul ouers kyk om ’n slimfoon of tablet as Kersgeskenk te kry, moet jy eers baie seker maak hulle is gereed daarvoor en soek nie net een omdat al hul maatjies een het nie.

“Al my maatjies het ’n slimfoon. Hoekom mag ek nie een kry nie?” Hierdie soort groepsdruk maak dit moeilik vir ouers wat so lank moontlik wil uithou, maar staan vas! Ouers moet ook eers ernstig besin of hul kinders gereed is om slimfone en tablette op ’n verantwoordelike en respekvolle manier te gebruik.

As jy dink jou kind se tegnologiese vaardigheid is groter as sy of haar vermoë om dit verstandig te gebruik, is jy in jou volste reg om te sê: “Nee, nog nie nou al nie. Dit sal dalk nog ’n paar jaar moet wag.” Al is dit vir geen ouerhart maklik nie, is dit nooit te vroeg om jou kind te leer dat die lewe vol uitdagings en teleurstellings is en dat mens nie altyd kan kry wat jy wil hê nie. Eendag sal hulle dit self ook besef. Dit bou boonop karakter.

Hou by die reëls

Al koop jy die slimfoon of tablet en oorhandig jy dit aan jou kind, laat hulle mooi verstaan dat dit steeds jou eiendom is, jy leen dit bloot aan hulle, onderhewig aan sekere voorwaardes. Die oomblik wat hulle onverantwoordelik daarmee optree, het jy die reg om die data te beperk of te kanselleer en selfs die toestel geheel en al weg te vat. As ouer moet jy ook ’n model vir positiewe slimfoongebruik wees.

Wys vir jou kind dat jou selfoon nie altyd aan jou sy is nie en dat jy dit ook soms kan afskakel. ’n Ouer wat altyd sy of haar selfoon in die hand het en geen impulsbeheer het wanneer daar ’n kennisgewing beep nie, is ’n rolmodel vir verslaafde gedrag. ’n Slimfoon of tablet as Kersgeskenk vir jou kleinding kan dus die moeite werd wees, maar die geheim is beperkte toegang, verkieslik onder toesig in die beginjare.

Soos wat jou kind ouer en meer verantwoordelik raak, kan jy die leisels mettertyd meer vryelik aan hulle oorhandig. Sieberhagen pas die “kelner-prinsiep” toe: as jy nie kan bekostig om die kelner ’n fooitjie te gee nie, kan jy nie bekostig om te gaan uiteet nie. Dieselfde is waar van skerms – as jy nie tyd het om jou kinders se gebruik te monitor nie, kan hulle nie skermtyd kry nie. Solank as wat daar matigheid voor oë gehou word en kinders nie pal soos zombies voor die Medusa staar van gloeiende blou skerms vassit nie, sal slimfoon nie sommer sy baas vang nie.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Kuier  |  Kersgeskenke  |  Digitale Verslawing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.