Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kies jou kampus
5 September 2018

Die dae is lank verby van jouself dood bekommer oor waar die geld vandaan gaan kom om te gaan studeer. Deesdae is daar so baie opsies vir finansiering dat die gebrek aan geld nie in jou pad hoef te staan nie. Maak eerder seker jy weet wat jy wil swot, waar en of jou aansoeke reg en betyds ingestuur is.

Maar voordat jy enige aansoeke instuur, moet jy besluit waar jy wil gaan studeer. Universiteite is goed vir studente wat meer akademies en teoreties te werke wil gaan terwyl kolleges meer geskik is vir mense wat prakties wil wees. Die een instansie is nie noodwendig beter as die ander nie. Jy moet net die beste een vir jou behoeftes kies.

Die meeste Suid-Afrikaanse staatsuniversiteite se sluitingsdatums vir aansoeke is einde September vanjaar. Die meeste kolleges se sluitingsdatums is tussen einde September vanjaar en Februarie volgende jaar. Sommige instansies het spesifieke sluitingsdatums vir spesifieke rigtings, veral as dit ’n program is waarvoor jy nog keuring nodig het. So die beste is om by die betrokke instansie seker te maak van die spertyd vir aansoeke vir jou spesifieke program. Maar moet tog nie wag tot op nommer 99 om jou aansoek in te stuur nie!

AANSOEK

Una Finnucane, waarnemende bemarkingbestuurder by Northlink College, waarsku voornemende studente om nie in die strik te val van net vir ’n kursus aansoek doen omdat jy eenvoudig móét studeer nie.

Die meeste plekke vra dat jy minstens twee kursusse kies as jy aansoek doen. Die beste is daarom om albei opsies só te kies dat jou alternatiewe opsie ook iets is wat jy regtig wil gaan studeer. “Ek sien dikwels studente wat vir twee of drie kursusse aansoek doen wat niks met mekaar te doen het nie. Dit skep die indruk dat die student nie regtig weet wat hulle wil doen nie en dit lyk nie goed nie,” sê Una.

Sy raai voornemende studente aan om eers navorsing te doen oor programme waarin hulle belangstel voordat jy opeindig met ’n kursus wat jy nie regtig wil doen nie en opskop. Die meeste instansies het kantore vir studentevoorligting waarnatoe jy kan bel of gaan besoek oor alles van studies tot verblyf. Alle instansies het ook boeke en selfs aanlynweergawes van kursusse wat hulle aanbied.

Om seker te maak dat jy nie jou tyd mors nie, moet jy seker maak jy voldoen aan die instansie se toelatingvereistes en daarna die spesifieke kursus, sê Una. Indien nie, sal jy nie toelating kry nie, so maak seker jy het die regte kodes en vakke vir waar en wat jy wil studeer.

Doen aansoek by meer as een instansie, so as jou aansoek êrens afgekeur word, het jy ’n backup. “Klasse kan net ’n sekere aantal studente vat en dis ’n realiteit dat ons nie vir alle aansoekers kan plek gee nie,” verduidelik Una.

Sy sê baie aansoeke word vertraag of afgekeur omdat aansoekers nie die aansoekvorm reg lees nie en nie ’n afskrif van hul identiteitdokument en nuutste uitslae aanheg nie. “As aansoekers hul vorms stuur sonder ondersteunende dokumente kan hul aansoek nie verder in die proses gaan nie.”

Jou aansoek moet volledig wees om oorweeg te word. Jy moet daarom seker maak of jy ’n portefeulje van werk, motiverings of enige bykomende vereistes saam met die aansoek moet inhandig. Dit is daarom beter om die instansie se webtuiste dop te hou vir inligting of om die kantore vir studentevoorligting te kontak.

Marlon Morris (18), ’n student aan Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT), het nie geweet as sy wiskundepunt nie goed genoeg is nie, moet hy ’n motivering stuur nie. Sy aansoekvorm het niks daaroor gesê nie en hy het eers later uitgevind hy moes dit doen. Sonder sy motiveringsbrief sou hy nie toelating gekry het nie.

Wat die aansoekproses betref, kan jy aanlyn aansoek doen, dit pos of self gaan inhandig by die instansie se kantoor.

Sommige instansies vra ’n klein adminfooi hiervoor en dit sal nie verwerk word as jy nie die geld betaal nie. As jy ’n verwysingnommer (jou ID-nommer of nommer wat die instansie vir jou stuur) kry, moet jy dit op enige kommunikasie met die instansie aanbring. Hulle sal dan sonder enige verwarring weet wie jy is en jou vrae gouer kan beantwoord.

Die ander ding wat elke jaar ’n groot kopseer is, is blyplek. As jou instansie verblyf bied en jy eerder nie elke dag van die huis af wil travel nie, moet jy so vroeg moontlik aansoek doen. Die meeste plekke se verblyfaansoeke sluit lank voor die programme. As jy ver van jou universiteit of kollege bly, is die kanse groot dat jy voorkeur vir verblyf gaan kry, sê Damian September, ’n lid van Northlink se werwing en bemarkingspan.

Earl Basson (25), ’n meesterstudent aan die Universiteit Stellenbosch, se teleurstelling was groot toe die universiteit hom laat weet dat hy nie aan die akademiese vereistes vir koshuis voldoen nie. Hy moes toe skarrel vir privaat verblyf. “Dis maar die beste om seker te maak van jou verblyfstatus anders kan jy op straat sit,” beveel hy aan.

As jy eerder privaat wil bly, moet jy self verblyf soek. Baie mense verkies om saam met studente te huur, maar wees versigtig om nie ingeloop te word nie.

As aansoekers hul vorms stuur sonder ondersteunende dokumente kan hul aansoek nie verder in die proses gaan nie.
Una Finnucane

FINANSIERING

En dan is daar natuurlik die geldsake. Oudpres. Jacob Zuma het kort voor sy uittrede as president in 2017 aangekondig dat tersiêre onderrig gratis is vir alle verdienstelike arm en werkende klasstudente deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).

Volgens ’n verklaring deur die departement vir hoër onderwys en opleiding, sluit die beurse vir die arm studente kursuskoste, voorgeskrewe leermateriaal, kos, verblyf (nie noodwendig deur die instansie voorsien nie) en/of vervoerkoste in. Die voornemende studente moet egter aan ’n openbare Suid-Afrikaanse instansie studeer en hul huishoudelike inkomste moet minder as R350 000 per jaar wees. Dit moet die student se eerste kwalifikasie wees waarvoor hulle aansoek doen.

Huishoudings wat te ryk is om hulp van die regering te kry, maar te arm is om dit self te kan bekostig (die sogenaamde missing middle-klas), word ook tot ’n mate gedek. Dit is huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van
R600 000 per jaar – mense soos onderwysers of verpleërs val in hierdie kategorie. Die beurs dek kursus- en verblyfkostes wat deur die instansie voorsien word. Hierdie beurs dek, anders as die een vir armes, ook nagraadse studies.

Voordat jy aansoek doen by NSFAS moet jy ten minste voorlopig aanvaar wees by ’n instansie. NSFAS-woordvoerder, Kagisho Mamabolo, sê in 2017 moes NSFAS 147 000 uit 410 000 aansoeke afkeur omdat studente nog nie by ’n universiteit of kollege aanvaar is nie.

Behalwe vir finansiële steun deur die regering, kan jy of jou ouers ook namens jou ’n studielening maak.

Studielenings het aansienlike laer rentekoerse en jy begin eers regtig daaraan te betaal wanneer jy begin werk. Doen deeglike navorsing vooraf oor die tipe lening wat jy wil maak, oor die bepalings en voorwaardes en wat alles gedek word. Jy kan aansoek doen vir studielenings by banke en ’n instansies soos Fundi.

Matthys Potgieter, ’n skuldkenner by DebtSafe, sê die studielening kan op die student se naam uitgeneem word. As jy as student nie ’n inkomste het nie of onder ouderdom is, het jy ’n borg nodig om saam met jou te teken. Hierdie borg neem verantwoordelikheid vir die skuld as jy nie die lening kan terugbetaal nie.

Oor die terugbetaling van die lening, sê Matthys: “Die rente van die lening word betaal terwyl die student nog studeer, maar sodra hy of sy klaar geleer is, moet hulle die res van die lening soos in die kontrak ooreengekom is, afbetaal.”

Die geleentheid om te studeer en nader aan jou droomloopbaan te kom is daar, maar bemag jouself met inligting sodat jy nie die studiebus mis nie!

KRY HIER HUL:
> E-pos NSFAS by info@nsfas.org.za
> Besoek www.sastudy.co.za
> Gender-Based Violence Command Centre: 0800 428 428/*120*7867#
> HelpmeGBV op Skype vir dowe studente (vir studente wat nie kan cope met stres wanneer hulle nie aanvaar word nie)

Meer oor:  Kuier  |  Zuma  |  Jacob  |  Una Finnucane  |  Universiteit Stellenbosch  |  Northlink College  |  Studies  |  Studiegeld  |  Finansies  |  Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.