Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kies só jou kontrak
19 September 2018

Vir baie bruide is die regte rok die belangrikste ding waaroor hulle hul bekommer, maar kenners meen jy moet eerder meer tyd aan jou huwelikskontrak bestee, want dit is belangrik nog lank ná jou troue.

Kenners sê egter baie min paartjies steur hulle aan dié dokument wat finansiële gevolge vir albei inhou.

Yvonne White* (68) van Pretoria se eerste man is tien jaar gelede oorlede in ’n motorongeluk. Toe sy vier jaar gelede vir Ivan White* (70) ontmoet, het sy geweet hulle is vir mekaar bedoel. Ivan se eerste vrou is jare gelede aan kanker oorlede en hy was opgewonde oor die vooruitsig van ’n tweede lewensmaat. Twee maande later is hulle verloof en nog vier maande later is dié twee getroud.

Yvonne het haar huis verkoop en by Ivan ingetrek. Die twee het nooit ’n voorhuwelikse kontrak laat optrek nie en was daarom binne gemeenskap van goedere getroud. Wat syne was, was ook hare en andersom. Dit beteken albei partye is gelyke eienaars van alle eiendom wat voor en ná die troue gekoop is, of albei se name op die titelakte (van die huis) verskyn of nie.

Volgens Yvonne het hulle nie gedink ’n huwelikskontrak is nodig nie. “Ek weet nou dit was baie kortsigtig en dom. Maar ons het gedink dis’n tweede huwelik, ons is albei ouer en nou gaan ons saam wees tot in die ouetehuis.”

Vier jaar later is Ivan aan ’n hartaanval dood en Yvonne se wêreld het handomkeer verander.

Die probleem was dat Ivan se twee kinders hom help betaal het aan ’n deposito op die huis. Hulle het gevoel die huis is regmatig hul eiendom. Daar was ook sekere erfstukke, soos die bal-en-klou-eetkamerstel wat die kinders gevoel het na hulle toe moes kom ná hul pa se dood.

“Ons het glad nie daaraan gedink om goed soos erfstukke te spesifiseer en uit te sluit nie,” sê Yvonne.

Dié dinge het baie hartseer veroorsaak in ’n tyd waarin die familie reeds emosioneel was. “Ons het uiteindelik ooreengekom dat die eetkamerstel na die kinders toe kan gaan. Die huis was egter volgens wet my eiendom. Ek het dus aangebly.”

GEPASTE KONTRAKTE

Yvonne sê sy sou vandag dinge anders gedoen het, ’n prokureur geraadpleeg het voor die troue en raad gekry het oor watter tipe kontrak daardie tyd die beste opsie vir haar en Ivan sou wees.

“Ek het weer gaan oplees en dink ’n huwelik buite gemeenskap van goedere met aanwas sou die beste gewees het.”

Só ’n huwelik bestaan uit twee aparte boedels, waarmee elke party na goeddunke kan handel. By beëindiging van die huwelik het die een wie se boedel die minste tydens die huwelik gegroei het, ’n eis om die helfte van die verskil in groei tydens die huwelik van die persoon met die grootste boedel. Wat vir die Whites hier sou werk, is dat bates wat voor die huwelik verkry is, uitgesluit kon word (soos die huis), asook erfbates en bates wat aan jou geskenk is.

Die tweede opsie is buite gemeenskap van goedere sonder aanwas. Met hierdie tipe kontrak is daar ’n algehele skeiding van die partye se boedels.

René Jonas (56) en haar man, Dawid, van Johannesburg het dié kontrak gekies.

“Omdat Jonas ’n motorwasbesigheid het en bietjie skuld gehad het, en ek ’n skoonmaakbesigheid het, het ’n prokureur ons aangeraai om buite gemeenskap van goedere sonder aanwas te trou.

“Geen skuld wat deur een van ons aangegaan is, kan dan van die ander verhaal word deur ’n skuldeiser nie (behalwe as een van ons borg gestaan het vir die ander, maar ons het gelukkig nie). As een van ons insolvent verklaar word, vorm die bates van die solvente party nie deel van die insolvente party se boedel nie.”

NIE GETROUD NIE

Yolanda Booysen, ’n prokureur van Pretoria, sê baie min paartjies wat saambly, besef hulle kan ’n saamwoonkontrak laat opstel.

“Ek dink een rede is dat so ’n verhouding minder formeel as ’n huwelik is. Saambly gebeur op ’n minder formele manier as ‘trou’. Die partye dink dalk nie vooraf dat van hul bates ensovoorts verstrengel gaan raak nie en besef dan te laat daar is nie voorsiening gemaak vir die moontlikheid nie. Paartjies wil ook vermy om by aanvang van ’n saamblyverhouding reeds die moontlikheid van die dood te erken. Maar as die verhouding beëindig word, is ’n saamblykontrak die beste manier om jou belange te beskerm.”

Maricha Brits, ’n prokureur van Alberton buite Johannesburg, sê: “Daar is ’n mite dat jou regte outomaties beskerm word wanneer jy lank saam met iemand bly. Sonder ’n kontrak kan baie probleme opduik,” sê sy.

As jul verhouding op die rotse sou beland, het jy nie outomaties reg op onderhoud nie. As eiendom net op jou partner se naam geregistreer is, is hy die alleeneienaar, al het jy tot die verband bygedra of ander huishoudelike uitgawes gedek.

Elsa Julius (45) van Vereeniging het in dié strik getrap om nié ’n kontrak te laat optrek toe sy by haar eerste kêrel, Derek* (47), ingetrek het nie. “Nie een van ons het eintlik eens geweet ons kan dit laat doen nie, en ons was jonk en blind van die liefde. Ons idee was dat ek by hom intrek om geld te spaar.”

Vier jaar nadat hulle saam ingetrek het, was daar steeds geen planne vir trou nie. Elsa erken dat sy ook nie regtig lus was vir trou nie en haar gevoelens vir Derek het verflou. “Ek het een aand aan hom genoem ek dink dis tyd dat ons paadjies skei, en hy was baie vies vir my,” vertel Elsa. Dit was eers die volgende dag ná werk wat sy besef het sy is in die moeilikheid, want Derek het besluit om die woonstel se slotte te vervang en sy was letterlik op straat gelaat. Derek het haar een middag toegelaat om haar klere te kry, maar dit was al. Al die goed wat Elsa in die vier jaar wat hulle saam was aangekoop het, het hy gehou.

“Dit was klein goedjies, soos ’n ketel, microwave, strykplank, twee mooi matte waarvan ek regtig baie gehou het, duvets en so aan. Maar dit was juis daai goed wat ek brood­nodig gehad om ’n nuwe begin te maak. En dit was daai goed waarvoor ek nie geld gehad het nie.”

Elsa is nie getroud nie en hoewel sy in ’n ernstige verhouding is, bly sy nie saam met die man nie. Sy sê sy sal nooit weer saambly sónder ’n kontrak nie. “Ek wil weet dat ek beskerm is, sou iets skeefloop.”

Wat behels ’n saamwoonkontrak?

Advokaat Riani Ferreira van Pretoria verduidelik dit is ’n gewone kontrak wat op skrif gestel moet word en deur beide partye geteken word, verkieslik met getuies. Dit kan reëlings bevat rondom alle finansiële aspekte sou enige van die partye te sterwe kom of as die verhouding beëindig word.

Die kontrak beskerm byvoorbeeld die besittings wat elkeen voor die saamwonery gekoop het, en kan ’n groot verskil maak sou een van julle sonder ’n opgedateerde testament sterf. Sonder ’n kontrak of opgedateerde testament (wat jou insluit) kan jou partner se ma, broer, suster of kinders met al jou besittings wegloop. Sonder ’n kontrak kan die balju op jóú besittings beslag lê, sou jou partner se besigheid ondergaan.

Ferreira sê so ’n kontrak sal egter nie voorrang geniet bo testamentêre bepalings nie.

Gewoonlik is paartjies versigtig en moontlik dalk te verlief om dit te waag om ’n kontrak voor te stel, maar dis dalk beter in plaas daarvan om soos kat en hond te baklei wanneer ’n verhouding of huwelik nie uitwerk nie.

*Skuilnaam

Meer oor:  Kuier  |  Huwelik  |  Huwelikskontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.