Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Binnelanders se Kim leef haar droom uit
kim syster, binnelanders

Sy was van kleins af ’n plattelandse meisie met groot drome, maar danksy baie harde werk en opofferings leef sy vandag haar passie op die kassie uit. Kim Syster (31), wat deesdae as dr. Jax in die kykNET-sepie Binnelanders te sien is en ook die joernalis in Spoorloos was, vertel sy was nog op laerskool toe sy begin werk maak het van haar droom om ’n aktrise te word.

Dr. Jax is die hardkoppige en ernstige dokter, maar wanneer Kim nie voor die kamera is nie, is sy net ’n prettige plattelandse meisie. Kim, oorspronklik van Mamre, ’n klein dorpie naby Malmesbury in die Wes-Kaap, het al op 11 besluit sy wil eendag ’n aktrise word. Sy was mal daaroor om flieks te kyk en om te sien hoe akteurs hulself vir die verskillende rolle kan verander en reinvent.

Dit het haar gefassineer en sy het van die idee gehou dat sy meer as een mens kan speel. Sy het al hoe meer flieks begin kyk en bestudeer. Kim vertel as gesin het hulle nie baie geld gehad nie, so daar was nie ’n skottel om flieks te kyk nie, maar sy het wel haar verbeelding en kreatiwiteit gehad. Sy het die mense op die platteland dopgehou, hul maniere, gedrag, spraak en persoonlikhede bestudeer en hulle nageaap. Dit was ook haar manier om verskillende karakters in haar kop te bou.

Kim vertel sy het in ’n enkelouerhuis grootgeword nadat haar ouers kort voor haar derde verjaardag geskei is. Haar ma is ’n onderwyser wat soms ver van die huis moes werk. Sy en haar broer het dan op Mamre agtergebly wanneer haar ma ’n pos in die stad gekry het, maar dit het Kim die kans gegee om baie tyd met haar ouma Gwen deur te bring.

grootwordjare

kim syster
Kim sê sy sal haar grootwordjare op die platteland vir niks verruil nie.

Kim begin sommer lekker lag wanneer sy vertel dis danksy haar ouma dat sy so gewild en bekend was onder die ouer garde van Mamre. “Omdat ek baie tyd met my ouma spandeer het, het ek altyd meer ouer as jong mense op die dorp geken.”

Sy het haar ouma graag help koek bak vir die een of ander geleentheid op die dorp. Sy het ook saam met haar ouma by ander ou mense gaan kuier en behalwe vir dít het sy nie eintlik baie uitgegaan nie.

Elke ouer mens het hul eie identiteit en wysheid met haar gedeel en hulle het as haar inspirasie gedien.

Haar ouma was die koekbakker, dan was daar die naaldwerk-antie, die advies-antie en die antie wat alles van almal geken het. Kim koester haar grootwordjare en tyd wat sy saam met ouma Gwen deurgebring het. Volgens haar gebruik sy tot vandag daardie mooi herinneringe en mense van haar tuisdorp wanneer sy vir ’n nuwe karakter voorberei. Sy vat dele van mense wat al oor haar pad gekom het en dit help haar om in ’n karakter se lyf te klim of met hulle te identifiseer.

Maar al het Kim al van kleintyd mense dopgehou om karaters te bou, het haar ma, Yvonne, haar ook van ’n jong ouderdom laat verstaan dat drome nie net vanself waar word nie en as sy regtig ’n aktrise wou wees, moes sy hard werk en leer dat dit opofferings gaan kos.

“My ma het my die vrou gemaak wie ek vandag is. Sy het my geïnspireer met haar harde werk, haar opofferings as enkelouer, haar krag en wysheid. Dit was nie vir haar maklik om alleen vir twee kinders te sorg en dikwels weg van die huis te werk nie. Selfs toe ons later begin rondtrek, het sy ons nooit laat voel asof ons tweede kom of onbelangrik is nie. Sy het ons net die beste probeer gee en het ons altyd 100% ondersteun,” sê Kim.

kim syster
Volgens Kim is haar droomrol die van 'n vroulike aksie-heldin. Hier is sy saam met die veteraan-aktrise Sandra Prinsloo

“Sy het dikwels 03:00 opgestaan om my Kaapstad toe te vat vir ’n oudisie en dan teruggekom om te gaan werk. Sy het my werklik gewys hoe om ’n selfstandige vrou te wees.” Kim, wat haar ma as haar beste vriendin beskryf, sê sy het haar ma se advies te harte geneem en op laerskool by die dramaklub aangesluit. Sy was 13 toe sy by ’n advertensie-agentskap ingeskryf het en van toe af het sy baie tyd op die verhoog vir haar dramaklub en voor die kamera vir advertensies spandeer.

Maar selfs met al haar voorbereiding en ervaring, was dit nie maklik om ’n loopbaan in die vermaakbedryf te begin nie. Kim sê dit was jare van oudisie in en oudisie uit en elke nou en dan ’n werk doen voordat sy haar eerste groot televisierol gekry het. Dit was op die SABC-sepie Erfsondes en toe kom ’n rol in die sepie Suidooster.

Volgens Kim is haar droomrol dié van ’n vroulike aksie-heldin soos die karakter Lara Croft in die fliek Tomb Raider. Maar vir nou geniet sy dit om in die Afrikaanse bedryf te werk.

“Oor die afgelope paar jaar het dinge regtig baie verander. Ons vertel nou stories wat mense wil hoor en wat mense moet hoor. Dit is vermaak wat mense opgewonde maak en wat hulle vasgenael hou voor hul televisies,” sê sy. “Dit is ’n wonderlike tyd om in die bedryf te wees en ek geniet die diversiteit van ons stories en die rolle. Dit is vir my lekker om rolle te speel wat anders is as my persoonlikheid en wat my druk om uit my comfort zone te kom.”

liefde van haar lewe

kim syster
Dr. Jax is die hardkoppige en ernstige dokter, maar wanneer Kim nie voor die kamera is nie, is sy net 'n prettige plattelandse meisie.

Só het haar rol in Binnelanders haar uit die Kaap en weg van haar mense, en veral haar man, Chris, gevat. Hulle is ses jaar

getroud en naas haar ma is hy haar grootste cheerleader. “Ek is baie lief vir my ma, maar my man is my alles en om weg van hom en my familie te wees, is moeilik, maar ek is met die beste geseën. Iemand wat my loopbaan ondersteun en saam met my droom.”

Hulle het albei op Mamre grootgeword, maar Kim vertel sy het nooit van Chris geweet tot sy hom eendag by die plaaslike slaghuis raakgeloop het nie.

Volgens haar is die slaghuis die plek waar almal op die dorp bymekaarkom. Hulle het mekaar daar ontmoet, maar hy het nie regtig met haar gesels nie. Hulle het albei gedink die ander een is oulik, maar het nie nommers uitgeruil of verdere planne gemaak nie.

Chris het egter haar naam uitgevind en haar op Facebook opgespoor. Só het hulle begin praat en volgens Kim is die res geskiedenis. Vandag is Chris ook ’n bestuurder en slagter by daai einste slaghuis.

“Ek sou nooit kon raai dat twee plattelandse mense op Facebook verlief sou raak nie, maar dit is nogal ’n cool moderne liefdesstorie. Hy is my beste vriend en ek is dankbaar vir sy ondersteuning. Omdat ek gereeld weg van die huis af werk, was dit nie snaaks toe ek Johannesburg toe trek nie, maar dit was die eerste keer dat dit vir so ’n lank tydperk sou wees. Ek het ’n kontrak van ’n jaar geteken en my man het vir my die vryheid gegee om daarvoor te gaan,” sê sy.

“Ek verlang baie, maar kommunikasie is die geheim. Ons probeer minstens een keer per maand vir mekaar kuier en intussen gesels ons elke dag op die foon. Ons vertel mekaar van ons dag, as die een kos kook probeer die ander een om dieselfde maaltyd te kook. Dit laat dit darem voel asof ons naby mekaar is. Ons skryf ook liefdesbriefies aan mekaar en dis nogal baie spesiaal. Dit is amper asof ons uitgaan soos jong verliefdes.”

Hulle hoop om binnekort met ’n gesin te begin, maar dit het nog nie vir hulle gebeur nie. Volgens Kim is dit dalk die Here se plan sodat hulle eers hul huidige drome kan uitleef, voordat hulle hul volgende hoofstuk begin. Sy glo alles gebeur op die Here se tyd.

Kim sê sy sal haar grootwordjare op die platteland vir niks verruil nie en hoewel sy vandag in Johannesburg woon, is dit nog altyd vir haar lekker om terug huis toe te gaan. Dis juis daarom dat sy altyd in haar hart ’n plattelandse meisie sal bly. 

Meer oor:  Binnelanders  |  Kuier  |  Aktrise  |  Kim Syster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.