Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Klaar met skool: Is graad 9 te vroeg?
8 Januarie 2020

Leerders in staatskole kan binnekort aan die einde van graad 9 (standerd 7) skool met ’n Algemene Onderwyssertifikaat (AOS) verlaat, maar nie almal is dit eens dat dit ’n goeie idee is nie.

Die gemiddelde ouderdom van leerders in daardie graad is 16. Baie meen dié nuwe plan wat deur die onderwysminister Angie Motshekga aangekondig is, gaan kinders aanmoedig om die skool vroeër te verlaat. Ander meen weer dis ’n goeie idee om kinders wat meer tegnies aangelê is, vroeër vir ’n loopbaan voor te berei.

Volgens die departement is die bedoeling glad nie dat leerders skool vroeg moet verlaat nie, maar hulle die opsie gee om hul opvoeding by ’n ander instelling soos ’n tegniese kollege voort te sit. Motshekga het aan die parlement verduidelik die AOS is deel van ’n “skills revolution” en ’n poging om ’n omgewing te skep vir geïntegreerde opleiding.

Volgens haar is daar tans ’n baie hoë dropout rate voor graad 11 en dít terwyl omtrent ’n derde van jong mense tussen 15 – 24 jaar (3,4 miljoen) sonder werk of opleiding by die huis sit. Dis juis vir hierdie kinders wat die AOS dit wil makliker maak om opleiding en werk te kry.

En met die oorvol skole is dit dalk juis ’n oplossing vir kinders wat nie belangstel of aangelê is vir suiwer akademie nie, maar eerder tegniese vaardighede wil kry in byvoorbeeld landbou, IT, ingenieurswese, mynbou, media, sport of die gasvryheidsbedryf.

Opinies verskil

Só wens Johan van Lille (32) van Port Elizabeth hy het destyds die opsie gehad. “Al wat ek ooit in my lewe wou doen, was enjins regmaak,” vertel Johan. Vir sy ouers was dit egter belangrik dat hy skool klaarmaak en ’n tersiêre kwalifikasie kry – die eerste van sy gesin. “Dit was die langste jare van my lewe – absoluut net tyd- en geldmors. Ek is nie ondankbaar nie, ek voel net ek is in iets in gedwing. As ek al op 15 met my opleiding kon begin, was ek al baie verder gevorder.”

Nadat hy sy graad verwerf het, het Johan gesukkel om werk te kry. Uiteindelik het hy begin as ’n appie by ’n motorwerktuigkundige (mechanic) en het nog nooit weer teruggekyk nie. Met Lea Willemse (26) van Mitchells Plain het die lewe ’n ander draai geloop. “Ek het niks van skool gehou nie, nooit geluister nie.”

Sy het op 16, teen haar ouers se wense, skool verlaat om by ’n haarsalon te gaan werk. “Eers het ek net vloere gevee, toe hare begin was en vandag is ek trots om te sê ek is een van die salon se gewildste hairdressers!” Albertha Voges (42) van Kraaifontein sê sy sal nooit haar kinders toelaat om skool vroeg te verlaat nie.

“Dis ’n baie dom idee, want hulle is nie op 15 gereed vir volwassenheid nie. Hulle is nog bogkinders. Ek wil ook nie dropouts grootmaak nie. My kinders (nou 14 en 12) moet gaan studeer en iets maak van hulself.”

Wat kenners sê

Volgens Adél Ras, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê die wet kinders moet tot op 15 skoolgaan. In die verlede sou hulle egter nie ’n sertifikaat ontvang het indien hulle ná graad 9 besluit het om skool te verlaat nie. Met die AOS kan ’n 15-jarige nou skool verlaat mits hulle graad 9 voltooi het. “Die AOS bevestig die leerder het die algemene opvoedingsvlak voltooi. In beginsel word gepoog om leerders die geleentheid te gee om volgens elkeen se aanleg en begaafdheid te ontwikkel.” Adél sê die departement is besig met die sogenaamde Driestroommodel.

“Volgens dié model kan leerders drie roetes tot die werksmark volg ná die voltooiing van graad 9. Die leerder kan voortgaan met die akademiese roete tot en met graad 12 en ’n Nasionale Senior Sertifikaat verwerf; regstreeks die werks-mark betree of voortgaan met tersiêre opvoeding.

Dr. Arina Lanser, ’n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort, voel dit is omtrent hoogtyd dat die departement hierdie roete volg. “Uit gesprekke met skoolhoofde lei ek af dat dit nie ’n “nuwe” idee is nie. Skole moes reeds in die verlede saam met die graad 9-rapport ’n sertifikaat uitreik wat bevestig dat die leerder graad 9 suksesvol voltooi het.”

In beginsel word gepoog om leerders die geleentheid te gee om volgens elkeen se aanleg en begaafdheid te ontwikkel.

Volgens haar het dit egter nie by alle skole gebeur nie. Volgens Lanser het die nuwe stelsel baie voordele. Dit kan gebruik word as bewys dat die leerder aan die minimum vereistes voldoen vir kollege-aansoeke. Verder kan dit ’n leerder motiveer om te werk vir die sertifikaat, eerder as om net op te gee.

Verder kan dit ouers en leerders motiveer om vroeër in die skoolloopbaan na alternatiewe beroepsopsies te kyk. Ras verduidelik daar is baie psigologiese voordele daarin om jouself uit te leef en jou eie unieke potensiaal te bereik, veral in ’n land waar geestesgesondheid onder jong mense al hoe meer onder die soeklig kom. “ ’n Verdere voordeel is leerders wat moontlik vroeër grade gedruip het en reeds ouer as 15 jaar is, steeds in die skool sal bly om die minimum opleidingsertifikaat te voltooi.”

Hierdie sertifikaat kan as’t ware as ’n “eerste sleutel” tot die werksmark gesien word. Sy waarsku egter groter hoeveelhede leerders gaan vroeër die skool verlaat sonder enige verdere formele onderrig wat onder meer tot misdaad, werkloosheid, sosio-ekonomiese uitdagings en emosionele probleme kan lei.

Volgens haar is 15-jariges egter gereed om die wêreld te betree, mits hulle ’n duidelike plan van aksie het. “Indien die ouer en leerder op dieselfde bladsy is en die ouer die kind aanmoedig, ondersteun en bemagtig met inligting, sal só ’n leerder baat vind by die verandering van leeromgewing en hopelik die gewenste kwalifikasie bekom wat pas by sy of haar belangstelling en passie.”

As hy egter bloot skool verlaat omdat hy nie meer daar wil of kan wees nie, sal die volwasse wêreld, sonder grense, dalk tot groot probleme lei. Ingevolge die Kinderwet word jy eers vanaf 18 as ’n volwassene gesien. “Dit beteken ouers sal steeds verantwoordelik wees vir die kind tot op 18, al het hy skool verlaat. ’n Kind kan eers vanaf 18 wettiglik ’n kontrak sluit, versekeringspolisse uitneem, ’n lisensie kry, sy eie huisadres hê en op myne werk sonder om deel te wees van ’n beroepsopleidingskursus. Met hierdie inaggenome, beteken dit ’n kind van 15, sonder ouerlike ondersteuning, gaan heel waarskynlik sukkel met praktiese aspekte om te kan werk.”

Berei jou kind voor

Lanser se raad aan ouers van voornemende skoolverlaters is om reeds vroeg die gevaartekens raak te sien, byvoorbeeld kommer van die skool oor die kind se vordering, herhaling, gedragsprobleme en depressie. “Probeer reeds van vroeg af ingestel wees op wat die kind se aanleg, passie en belangstelling is.

Beroepsvoorligting behoort reeds voorskools in die gesin te begin. Daar is ’n geskikte leeromgewing vir elke kind, al beteken dit alle kinders in dieselfde gesin gaan nie noodwendig ’n akademiese matriek voltooi nie. Wees oopkop hieroor en bemagtig jou kind.” Vir haar is dit ironies dat daar leerders is wat wíl leer, wíl presteer, wíl deelneem . . .

En dan nie plek kry in skole nie as gevolg van leerders wat nie daar wil of behoort te wees nie. Daar heers egter nog baie onsekerheid oor hoe presies die AOS geïmplementeer gaan word. Só weet sommige skoolhoofde nie of die departement die sertifikate gaan uitreik of skole dit self moet doen nie. Dis ook nog onduidelik of leerders daarvoor moet betaal en of ’n kind dit sonder hul ouers se toestemming kan aanvra en die skool verlaat.

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.