Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Klaas Vakie waar's jy?
19 September 2018

Slaap is ’n wondersoete ding, so waarom ontwyk dit so baie van ons? As kinders word ons gedwing om te slaap, maar ons wil nie en as volwassenes wil ons so graag, maar sukkel dalk.

The Bed Shop het onlangs ’n studie onderneem om Suid-Afrikaners se slaapgewoontes beter te verstaan. Dié studie het onthul dat 80% van ons soggens moeg en onuitgerus voel en 40% is bekommerd oor slegte slaap.

En met rede. ’n Tekort aan slaap kan lei tot beserings, afname in produktiwiteit en kan ’n aandeel hê in die ontwikkeling van Alzheimer se siekte, diabetes, vetsug en hartsiektes. Dit kan jou totale lewensgehalte op kort- én langtermyn baie benadeel.

Die slaap app Sleep Cycle het in 2015 resultate publiseer wat daarop gewys het dat Suid-Afrikaners minder slaap as enige ander nasie in die wêreld! Mariané Fortuin (38), ’n sekretaresse van Kroonstad, kan hiervan getuig.

“Elke nag rol ek rond tot die voëltjies begin fluit en raak aan die slaap so vyf minute voor my wekker raas. Dit voel vir my of ek jare laas ’n goeie nagrus gehad het. Ek vrees al om kooi toe te gaan, want niks werk nie – nie skape tel nie, nie warm melk nie en nie eens as ek ’n knertsie brandewyn in die warm melk gooi nie. Sommige aande lê ek daar en bewe van die bang, want ek het al gehoor slapeloosheid kan tot hartaanvalle lei,” sê sy.

Sy raak soms lekker op die bank voor die TV aan die slaap, maar die oomblik wat sy bed toe gaan, is sy weer wawyd wakker.

Dit klink of Mariané dringend raad nodig het, want skape tel is maar een van die vele mites oor slaap wat haar nie noodwendig broodnodige nagrus gaan gee nie.

DOKTER GEE RAAD

Dr. Maurits Kruger, ’n geregistreerde homeopaat en iridoloog van die Renewal Institute in Johannesburg, help om die grootste slaapmites ter ruste te bring.

Jou ouma het altyd gesê dis belangrik om voor middernag eerder as ná middernag te gaan slaap en Kruger stem saam. “Wanneer ons slaap, gaan ons deur ’n siklus van verskillende fases van slaap, min of meer elke 60 tot 90 minute,” sê hy.

Jou diepste fases van non-REM slaap (diep slaapfase) is die belangrikste omdat die liggaam tydens diep slaap herstel, rus, en balanseer. REM-slaap (rapid eye movement of vinnige oogbeweging) is baie belangrik vir geheue en konsentrasievermoë. In die vroeë ure van slaap spandeer jy langer in non-REM of diep slaap, en later, ná middernag word ons REM-siklus langer en diep slaap korter. So iemand wat gereeld ná middernag gaan slaap, kry minder diep slaap, wat negatiewe gevolge op gesondheid kan hê.

Almal is anders en nie almal het ewe veel slaap nodig nie, maar die riglyn vir ’n gesonde mens is tussen sewe en nege ure. Minder as sewe ure kan lei tot gesondheidsprobleme en moegheid. Dit gaan egter nie net oor hoeveel ure nie, maar ook oor die kwaliteit van slaap. As jy snags nege ure slaap, maar nie genoeg diep slaap kry nie, is jy steeds in gevaar.

Iemand wat al sedert haar tienerjare regtig sukkel om te slaap, is Sascha-Lee Ruiters (27) van Muizenberg buite Kaapstad. Ná ’n traumatiese ervaring het sy begin sukkel met insomnia (slapeloosheid). Die meeste aande raak sy eers tussen 02:00 en 05:00 aan die slaap en moet sy weer 06:00 opstaan vir werk. Party aande slaap sy glad nie. Sy het al alles probeer – van voorgeskrewe medikasie tot kruierate en sy het al omtrent elke skaap en mier op hierdie aarde getel. Selfs om haar te verbeel sy is in ’n rustige plek werk nie.

“Ek is nou al so gewoond aan min slaap ek dink my liggaam het daarby aangepas,” verduidelik sy. Tog maak dit haar soms geïrriteerd en sy het partykeer nie genoeg energie om eens die basiese dinge te doen nie. “Ek het alles probeer en nou glo ek dit sal maar net eendag vanself beter word.”

Die TV-skerm (ook selfone, rekenaars en tablette) straal 'n frekwensie van blou lig uit wat inmeng met jou melatonien-produksie en jou diep slaap versteur.
Dr. Maurits Kruger, geregistreerde homeopaat en iridoloog

GROOTSTE OORSAKE

Stres en angstigheid is van die algemeenste redes vir slapeloosheid. Ander oorsake kan wees jou asemhaling snags, kroniese pyn en siektes en swak slaapgewoontes soos voor die TV, rekenaar, of met ’n selfoon te sit vir ure voor slaap, alkoholgebruik en gereelde laat aande, sê Kruger.

Baie mense sukkel veral in die week om te slaap en glo dat hulle die slaap wat hulle tydens die week gemis het, oor naweke kan “inhaal”. Kruger verduidelik jy kan in ’n sekere mate slaap “inhaal”, maar dit kan nie ’n gesonde slaappatroon vervang nie.

“Dis moeilik om te sê wanneer dit (te min slaap) gevaarlik begin raak omdat almal anders is. Iemand met hoë bloeddruk kan byvoorbeeld binne ’n paar dae in gevaar wees omdat hul bloeddruk skielik onbeheersd raak en hulle in gevaar stel vir ’n hartaanval,” verduidelik hy.

Daar is ook kosverwante mites oor slaap. Soos byvoorbeeld dat kaas jou nagmerries gee en warm melk jou lekkerder laat slaap. Hoewel kaas nie die oorsaak van jou nare drome is nie, kan dit onrustige slaap veroorsaak. Baie mense het ’n weerstandsgebrek vir suiwelprodukte waarvan hulle nie altyd bewus is nie. Dit kan sooibrand en ander spysverteringsprobleme veroorsaak wat met slaap kan inmeng. Dieselfde geld vir melk. Daar is aanvanklik geglo die kal-
sium in melk help jou slaap, maar studies het gewys daar is geen noemenswaardige impak nie.

“En om skape te tel, is een van die bekendste mites oor slaap,” lag Kruger. Hoewel dit vir sommige mense werk, het ’n onlangse wetenskaplike studie bevind dat dit liewer die meeste mense langer wakker hou.

Maar pasop! Dit is ook moontlik om te veel te slaap. Navorsing wys meer as 10 ure se slaap per nag kan die kwaliteit van jou slaap nadelig beïnvloed. Dit kan ook lei tot depressie of ’n simptoom van depressie wees.

“Nog ’n mite is dat party mense “naguile” is en minder slaap nodig het. Dis nie waar nie. ’n Mens kan gewoond raak aan min slaap en leer om met die moegheid saam te leef, maar dit het steeds ’n baie slegte uitwerking op jou gesondheid,” meen Kruger. Bly ook weg van daardie snooze button – studies het gewys dat dit jou moeër laat voel bedags en selfs jou slaappatroon negatief kan beïnvloed.

Baie mense gryp na slaappille wanneer Klaas Vakie nie wil kom nie en dit kan op die korttermyn help om ’n gesonde slaapsiklus te herstel, maar moet dit eerder nie vir te lank gebruik nie,” maan Kruger. Baie slaapmiddels onderbreek diep slaapfases, so hoewel jy slaap, gaan jy nie deur ’n normale, gesonde slaapsiklus nie.

Verder is dit ’n baie algemene wanopvatting dat alkohol jou beter laat slaap, maar dit is glad nie waar nie. Inteendeel, alkohol kan jou onrustig laat slaap en het ook ’n negatiewe impak op jou diep slaapfases.

Moet ook nie dink dis ’n goeie idee om voor die kassie ’n uiltjie te knip nie.

“Die TV-skerm (ook selfone, rekenaars en tablette) straal ’n frekwensie van blou lig uit wat inmeng met jou melatonien-produksie en jou diep slaap versteur,” sê Kruger.

Skakel dit daarom maar liewer af en gryp ’n boek of tydskrif in die bed. Probeer om aan ’n kalmerende toneel as alternatief te dink soos golwe op die strand of ’n kabbelende stroom. Dis baie meer doeltreffend om jou aan die slaap te laat raak as skape tel!

FEITE OOR SLAAP

  • 12% van die mensdom droom in swart en wit. Voor die ontwikkeling van die kleurtelevisie het slegs 15% in kleur gedroom.
  • ’n Mens slaap een derde van jou lewe om, oftewel omtrent 25 jaar.
  • ’n Tekort aan slaap sal jou vinniger doodmaak as ’n tekort aan kos.
  • Blinde mense se drome gaan gewoonlik oor emosie, klank en reuke eerder as beelde.
  • Binne die eerste vyf minute ná jy wakker geword het, vergeet jy 50% van jou droom. Na nóg vyf minute is 90% weg.
  • Die meeste mense raak aan die slaap binne 10 tot 15 minute. As dit jou minder as 5 minute neem, is die kans goed dat jy oormoeg is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.