Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Klaskamer: Leer meer oor emosies
8 Augustus 2018

Almal het emosies – dit is deel van alle mense se lewenservaring. Emosies is die gevoelens wat ons as mens ervaar in reaksie op verskillende gedagtes en situasies. Soms kan jy meer as een emosie ervaar afhangende van die situasie.

As jy op ’n roller-coaster gaan, kan jy byvoorbeeld beide opgewonde en bang voel. Ons reageer op emosies met gesigsuitdrukkings of aksies soos om te lag of huil. Babas gebruik veral sulke aksies, want hulle kan nog nie kommunikeer oor wat hulle voel en hoekom hulle só voel nie. Soos ons grootword, begin ons te verstaan wat dit is wat ons voel en ons weet hoekom ons só voel. Dit word emosionele bewustheid genoem. Soms voel ons byvoorbeeld hartseer, bly of vreugdevol, kwaad of woedend, jaloers, opgewonde of bang. Dis belangrik om sin te maak van wat dit is wat jy voel sodat jy weet hoe om op jou emosies te reageer.

Hoe werk emosies?

Jou brein laat sekere chemiese stowwe (hormone) in jou liggaam vry wanneer jy ’n emosie ervaar. Jou liggaam reageer dan op ’n sekere manier afhangende van die emosie wat jy ervaar. As jy byvoorbeeld bang of kwaad is, begin jou hart soms vinnig te klop of jy haal vinniger asem. As jy gelukkig is, glimlag jy sommer spontaan of as jy hartseer is, loop trane vanself. Emosies kan ook sekere spiere in jou liggaam outomaties laat beweeg sonder dat jy bewus daarvan is. Ons emosies laat ons soms anders optree. As jy kwaad is, sal jy dalk wil skree, as jy bang is, wil jy dalk weghardloop.Beide positiewe en negatiewe emosies is normaal en ons moet dit voel, maar dis die manier hoe ons op die emosies reageer wat goed of sleg is. Die deel van die brein wat die emosies en herinneringe hanteer, word die limbiese stelsel genoem.

Positiewe emosies:

Liefde

Gelukkig

Blydskap

Negatiewe emosies:

Om negatiewe emosies te ignoreer of om voor te gee dat ons dit nie voel nie, kan slegte nagevolge inhou. Dis moeiliker om sulke gevoelens te oorkom as ons dit nie verwerk en verstaan nie. Jy hoef nie voortdurend te praat oor hoe jy voel nie. Jy moet net jou gevoelens erken, respekteer en aanvaar soos dit gebeur.

Skaam

Jaloers

Kwaad

Skuldig

Hartseer

Bang

Bekommerd

JOU HART

Ons sê altyd “my hart is seer”, maar emosies kom nie eintlik vanaf jou hart nie, maar jou brein.

Die hart is noodsaaklik vir lewe en pomp bloed vol suurstof deur ons liggaam. Tog voel dit asof ons emosies in ons harte ervaar – jou hart klop vinnig wanneer jy ’n geliefde sien of dit pyn wanneer jy slegte nuus kry.

Hierdie verbintenis tussen die fisiese sensasies in ons liggaam en emosies begin alles egter in die brein.

AKTIWITEIT

Emosionele bewustheid help ons om onsself te ken en te aanvaar. Kom ons toets dit:

• Let op die verskillende emosies wat jy deur die loop van die dag ervaar. Noem die verskillende emosies en dink aan die situasie wat aanleiding gegee het tot die emosie. Jonger kinders kan prentjies teken van die verskillende emosies wat hulle ervaar het.

• Hoe sterk het jy dit gevoel? Nadat jy ’n emosie identifiseer en genoem het, neem dit ’n stap verder. Dink aan hoe sterk jy die emosie ervaar het op ’n skaal van 1 – 10, met 1 as die swakste en 10 die sterkste.

• Deel jou gevoelens met mense wat die naaste aan jou is. Dit is die beste manier om te oefen hoe om ons gevoelens in woorde te sit. Dit help ons ook om nader aan ons vriende en familie te voel. Maak dit ’n daaglikse oefening om gevoelens met ’n vriend of familielid te deel. Jy kan iets deel wat baie persoonlik is of iets wat bloot ’n alledaagse emosie is.

Illustrasies: Ryan Carolisen

• Bronne: https://kids.frontiersin.org/article/10.3389/frym.2017.00069#figure-1

https://kidshealth.org/en/teens/understand-emotions.html

www.cyh.com/HealthTopics/HealthTopicDetailsKids.aspx?p=335&np=287&id=1530

https://study.com/academy/lesson/what-is-the-limbic-system-in-the-brain-definition-functions-parts.html

http://whoami.sciencemuseum.org.uk


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Emosies  |  Skooltake  |  Klaskamer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.