Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Klein, maar getrain
19 September 2018

Haar lengte is nie vir haar belangrik nie, maar Wardah Nordien (16), ’n dwerg, moes gewoond raak daaraan dat mense na haar staar. Vir haar is dit egter net ’n klein deel van wie sy is en hoewel sy deur die jare gespot is oor hoe kort sy is, droom hierdie Kaapse tiener groot.

Sy wil eendag ’n fotograaf wees en regoor die wêreld reis om mense se stories deur foto’s te vertel. Sy wil haarself rondry in ’n motor wat spesiaal vir haar aangepas is en sy wil ook ’n prokureur word en veg vir mense wat niemand anders het om vir hulle te veg nie. Want, sê Wardah van Kuilsrivier, nog voordat sy haar eerste asem op geneem het, moes haar ouers al vir haar lewe veg.

Omdat dwergisme gewoonlik met baie ander mediese komplikasies as net ’n gebrek aan lengte gepaardgaan, het dokters haar ouers aangemoedig om die swangerskap te beëindig. Volgens haar ma, Juliana-Nadia, was dokters oortuig dat Wardah erg gestremd sou wees en dit die beste opsie sou wees om haar op 17 weke te aborteer.

Maar haar ma en veral haar pa, Zain, wat ook met dwergisme gebore was, het geweier. Vir hom sou dit beteken dat daar iets fout is met dwergisme en hy wou nooit daardie boodskap uitstuur nie. Hy het geglo God sou hulle deurdra.

Zain is twee jaar gelede vermoor en dit het ’n groot leemte in sy familie se lewens gelaat. Maar Juliana-Nadia sê omdat Zain eerstehands geweet het hoe moeilik dinge vir hulle kon wees, was hy vasbeslote om sy kind se belange eerste te stel.

“Hy was ’n baie trotse man en sy toestand het hom nooit gepla nie. Al het hy baie meer mediese komplikasies gehad as wat Wardah vandag ervaar, was sy dwergisme nooit ’n las vir hom nie. Hy was baie onafhanklik en wou nooit gehad het mense moet hom anders behandel nie,” sê sy.

Toe Wardah gebore is, was daar nie een van die erge probleme wat dokters voorspel het nie. Maar dit het nie beteken dat haar lewe heeltemal sonder gesondheidsuitdagings sou wees nie. Só moes Wardah op ses maande ’n operasie ondergaan om haar bene reguit te maak sodat sy kon loop en op twee moes sy ’n pasaangeër kry om haar hart te reguleer. Haar hart het vinniger as haar lyf gegroei en was te groot vir haar klein borskas. Dit het druk op haar hart geplaas en dokters het weereens ’n kort lewe vir haar voorspel. Hulle het gesê sy sal net tot 12 jaar oud leef.

Wardah begin lekker lag wanneer sy sê dokters was wéér verkeerd en sy is dankbaar dat haar ouers ekstra moeite gedoen het om haar 12de verjaardag spesiaal te maak.

“Dwergisme gaan oor meer as net kort wees en dit is wat mense nie altyd besef nie. Daar is baie mediese komplikasies omdat ons liggame so klein is en elkeen se probleme verskil. Omdat ons nie seker was hoe lank ek nog sou leef nie, het my ouers ’n groot partytjie vir my gehou. Dit was net een van die baie oomblikke toe my ouers vir my geveg het. En dit is hoekom ek vir ander wil veg en hoekom die lewe vir my so kosbaar is,” sê Wardah.

MENSE SE GESPOT

Volgens haar is sy nie verbaas dat mense dwerge spot of anders behandel nie. Maar sy meen dwerge is nie sissies nie. Haar pa het dit bewys. Wardah sê omdat haar pa so onafhanklik was, was dit vir haar maklik om sy voorbeeld te volg en is sy bly dat sy nie anders as haar sibbe behandel is nie.

Wardah staan 130 sentimeter in haar sokkies en is gelyk met die meeste tafels. Haar voete het nog nooit aan die vloer geraak wanneer sy op ’n stoel of by haar lessenaar by die skool sit nie en sy is net lank genoeg om ’n deur se handvatsel te kan bykom. Maar niks hiervan pla haar nie, want in haar huis het hulle nooit spesiale veranderings vir haar of haar pa gemaak nie.

Volgens Wardah was dit vir haar en haar ouers belangrik dat sy onafhanklik is en sy sou eerder op ’n stoel staan om iets uit die kas te haal as om vir iemand te vra om dit vir haar aan te gee. En dit is hoe sy nog haar hele lewe lank alles van skoolwerk tot sport aangepak het.

Juliana-Nadia raak ernstig wanneer sy gesels oor hoe belangrik dit is dat mense ’n dwerg sterk grootmaak.

“Baie ouers maak aanpassings tuis om dinge makliker te maak vir die korter kind en beskerm hom of haar net heeltemal te veel. My man het niks vir my gevra nie en dit was een van die dinge wat ek die meeste van hom gerespekteer het. Mense het nooit verstaan hoe ’n vrou van ’n gemiddelde lengte op ’n dwerg verlief kan word nie. Hulle aanvaar dat jy alles vir hom sal moet doen, maar dit is glad nie die geval nie,” sê sy.

Juliana-Nadia gaan liefdevol voort: “Hy was die man in die huis en wou altyd alles self doen. Hy kon wel nie bestuur nie, maar hy het vir ons gesorg en met alles in en rondom die huis gehelp. Sy lengte was nooit iets waaroor ons gesels of wat ons teruggehou het nie. Jou lengte maak nie die man nie en dit is met hierdie uitkyk op die lewe wat ons ons dogter wou grootmaak.”

Juliana-Nadia meen die wêreld pas nie by jou aan nie, jy moet by die wêreld aanpas en dit is met hierdie uitkyk wat Wardah haar lewe leef.

Sy sê hoewel sy vir jare gespot is en steeds daagliks geterg word, het sy geleer hoe om gemaklik in haar eie vel te wees en raak mense se woorde haar nie meer so diep nie.

Wardah, wat nog altyd die kortste in haar klas was, erken dat laerskool veel erger vir haar was as hoërskool en dat dit aanvanklik moeilik was vir haar om vrede te maak met die kinders se aanmerkings. Maar toe sy op hoërskool kom, het sy haarself in haar skoolwerk gegooi en het net van krag tot krag gegroei.

Sy is tans een van die topstudente in haar graad en sê sy voel trots op alles wat sy bereik. Sy wil graag ’n inspirasie wees vir ander kinders met dwergisme. Sy gaan nie die eerste dwerg wees wat universiteit toe gaan of wat ’n werk kry nie, maar sy wil haar deel doen om mense se reaksie en optrede teenoor dwergisme te verander.

NIKS VERKEERD NIE

“Daar is niks verkeerd met ons nie en ons is net so slim soos ander. Ons wil ook werk en ’n familie hê. Ons is net korter en ek dink dit is tyd dat mense ander vir hul verskille respekteer,” sê sy.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie, natuurlik lê ek baie aande in my bed en wonder hoe die lewe sou wees as ek ‘normaal’ was, maar dan dink ek net aan mense wat as normaal beskryf word en hoe hulle nooit tevrede is met hoe hulle lyk nie. Dan wonder ek net, as ek nou gelukkig is met wie ek is, hoekom sal ek normaal wil wees wetende ek gaan fout vind met myself?”

Ten spyte van hoe positief Wardah is, weet sy baie uitdagings wag vir haar, maar sy is gereed daarvoor. Sy lewe elke dag met pyn en dit is grootliks as gevolg van haar voete en rug wat die druk van haar lyf moet dra.

Sy sal ook op 18 haar eerste heupvervanging moet kry. Sy weet ook dat sy nie normaal geboorte sal kan skenk nie, maar sê sy is nie bang om ’n kind met dwergisme te hê nie. Omdat dwergisme oorerflik is, sal sy of haar broers ’n derde generasie dwerg hê.

“Ons is sterk mense en om kort te wees, is nie so ’n groot probleem nie. Ja, my voete is vet en ek sukkel om soms ’n size 2 vir ’n klein, vet voet te kry, maar daar kan altyd ’n plan gemaak word en wanneer dit by broeke kom, sny jy net die pype af. Dit is regtig nie so erg om klein te wees nie,” grap sy.

Vir Wardah is haar lengte nie waar haar krag sit nie, dit is haar hart en as sy vir mense kan kry om dwerge vir hul hart te sien en nie hul lengte nie, sal sy gelukkig wees. Want al spot mense dat sy sit wanneer sy eintlik staan, staan sy trots in die lewe en weet sy dat sy baie dinge sal bereik.

Meer oor:  Wardah Nordien  |  Kuilsrivier  |  Dwergisme  |  Dwerg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.