Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Klop kanker: Nou help sy kinders deur hul K-stryd
15 Oktober 2020


Wanneer jy vir Anthea Lewis ontmoet, staan twee dinge uit nog voordat sy ’n woord gesê het. In haar oë lê daar ’n somberheid wat onmiddellik verklap dat hierdie vrou al deur baie is, maar dan is daar haar mond wat met die mooiste glimlag daardie selfde somberheid oombliklik laat verdwyn en jou ook laat voel dat alles oukei gaan wees.

En dit is eers wanneer Anthea (47) van Parow in die Kaap haar storie vertel van hoe kanker soveel mense vir wie sy lief was van haar weggeruk het; hoe hierdie verskriklike siekte ook haar lewe omvergewerp toe sy met borskanker gediagnoseer is, dat alles sin begin maak.

Maar dan gooi sy jou met ’n curveball wanneer sy met ’n sagte stem, die dankbaarheid duidelik hoorbaar, sê: “Maar kanker het my ook my purpose gegee”. Dit was op haar laagste oomblikke toe sy self borskanker twee keer beveg het en weens haar siekte haar werk en die dak oor haar kop verloor het, dat sy gevind het hoe goed dit voel om net daar te wees vir ander kankerpasiënte in hul donkerste uur. In daardie stadium het sy niemand gehad wat haar deur haar kankerstryd ondersteun het nie, so sy het geweet hoe eensaam dit kan wees. Daarom wou sy vir ander mense wees wat sy nie gehad het nie.

Staan ander by

Dis met dieselfde empatie dat Anthea vandag ook in diens staan van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), waar sy spesifiek met kinders werk wat kanker het. Anthea het in 2011 as ’n vrywilliger by Kansa begin en is sedert Junie 2016 werksaam by die G3 pediatriese onko-logie-eenheid by Tygerberg-hospitaal in die Kaap.

Sy lewer dienste van diagnose tot herstel of sterfte. Sy is verder ook aktief betrokke by die CANSA Relay For Life en ander fondsinsamelingsinisiatiewe van dié organisasie. Anthea het sedert 2016 al meer as 60 kinderkankerpasiënte aan die dood afgestaan.

Anthea werk vir Kansa en doen gereeld praatjies; met die toekenning wat sy van die SA Vloot ontvang het.

Een Desembermaand, terwyl soveel ander families die Kerstyd saam geniet het, het sy vir vier dae agtermekaar elke dag ’n kankerpasiëntjie verloor. Haar stem bewe en die emosie sit vlak wanneer sy hieroor praat, maar dis ’n kant wat klein pasiënte en hul ouers nie sien nie. Want al breek haar hart in stukkies binne, is dit haar werk om die kankerlyers en hul ouers deur hierdie moeilike tyd te help.

“Vir my is dit ‘maklik’ om hierdie werk te doen omdat ek nie kinders van my eie het nie. Ek dink nie ek sou dan ’n ma kon voorberei dat sy haar kind gaan verloor nie. Maar hierdie kinders se ouers laat my toe om ’n pad met hulle stap en die kinders laat my toe in hul harte,” vertel Anthea aangedaan. Die werk wat sy doen en die impak wat sy maak op soveel mense wat deur kanker geraak is, se lewens, het vir Anthea al ’n Global Hero of Hope gemaak. Die Suid-Afrikaanse Vloot het haar ook al vereer vir haar werk. Dit was die eerste keer (waarvan Anthea weet) dat die Vloot so ’n toekenning aan ’n burgerlike toegeken het.

“Omdat ek verwerping my hele lewe lank ken en nêrens regtig ingepas het nie, laat dit (toekennings) my voel soos ’n woman of worth en dat ek iets vir ander kan beteken. Ek lewe my roeping nou uit. Ek was verwerp deur vele, maar is werklik geseën deur God. Ek geniet die geskenk van lewe vandag, want môre is nie gewaarborg nie,” sê Anthea.

Soms laat die Here dinge gebeur om jou voor te berei vir die eintlike doel wat jy moet vervul en in Anthea se geval het haar reis met kanker al begin toe sy in 1992 in matriek was. Anthea vertel een van haar tannies, Jane Atkins, het destyds ’n maagoperasie gehad en ’n stomasakkie daarna gehad. Maar dis eers toe antie Jane jare later met borskanker gediagnoseer word toe sy in haar sewentigs was, dat sy erken het die maagprobleem was al die pad kolonkanker. In hul familie het hulle nie gepraat oor kanker nie. Dit was asof die onderwerp taboe was.

“Ek het baie saam met haar gegaan wanneer sy behandelings gekry het en ek het haar in haar mees vulnerable state gesien. Ek het haar byvoorbeeld toilet toe gehelp omdat daar kere was dat sy niks vir haarself kon doen nie. Ná haar mastektomie het sy beter geraak, maar toe kom die kanker terug en sy verloor in 2011 haar stryd.”

En net ’n paar maande ná haar tannie se afsterwe word Anthea self met borskanker gediagnoseer. Sy was 38 jaar oud. “Ek het so ses of sewe jaar voor my diagnose by my grootmaakma (haar ma se suster) uitgetrek en was verwerp daarna. Ek het alleen (siek) in my plekkie gelê en was bang om te vra vir hulp omdat ek bang was ek kry ’n antwoord wat seermaak,” erken Anthea. Waar ander kankerpasiënte ’n support system gehad het, was Anthea beide pasiënt en haar eie versorger totdat ’n vrou in die woonstelblok waar sy gewoon het, haar begin bystaan het.

Eers siek, nou sterk

Sy het chemoterapie geweier en net die kankerknoppie laat uitsny, maar toe kom die borskanker in 2014 met mening terug. Soveel so dat daar ’n tyd was wat Anthea nie kon loop nie. Sy het uiteindelik ook haar werk verloor en gevolglik ook haar blyplek omdat sy nie die huur kon betaal nie. Sy het in ’n shelter opgeëindig.

“Dokters het gesê daar is niks wat hulle meer vir my kan doen nie. Maar dis toe dat ek daardie brandende gevoel begin kry om ander te help. Ek het uit my eie by Kansa begin help waar ek ander kankerpasiënte wat besig was om te sterf, bygestaan het. Al was dit net om hul voete te vryf, water aan te gee of in stilte by hulle te sit. Ek wou daar wees vir ander soos wat ek gehoop het ander sou daar wees vir my. Ekself was nog op behandeling toe.”

Dis hoe Anthea later uiteindelik voltyds by Kansa aangesluit het omdat sy ontdek het om ander kankerpasiënte te help, is haar roeping. Dit vervul haar op ’n manier wat sy nog nooit voorheen in haar lewe ervaar het nie. Maar kanker het nie opgehou om haar persoonlik te affekteer nie. Kanker het 2018 een van haar seerste jare ooit gemaak, vertel Anthea.

Die trane sit vlak wanneer sy byvoeg: “In Mei 2018 is my grootmaaksuster met longkanker gediagnoseer en in September 2018 het sy die stryd verloor. Maar ek het sedert haar diagnose ’n wonderlike paar maande saam met haar gehad omdat ek haar toe op ’n dieper vlak leer ken het. In dieselfde jaar het ek sewe kinderkankerpasiënte verloor en my stiefpa het verlede jaar aan bloedkanker gesterf.”

Maar dan breek daardie mooi glimlag en waardering vir die lewe deur wanneer sy sê: “Maar my kankerstappie het my sterker gemaak. Hulle noem jou ‘the walking dead’ wanneer dokters niks meer vir jou kan doen nie. Maar dis nou al ses jaar sedert dokters dit vir my gesê het, maar ek is nog hier!” Anthea sê wat materiële dinge betref, het sy niks van haar eie nie, maar sy het nog haar gesondheid en haar lewe en dis meer werd as enige aardse besitting . . .

• Luister ook na Anthea se storie in haar eie woorde op Sielskos met Ernusta wat vanaf Woensdag 14 Oktober op Kuier se Facebook-blad beskikbaar is.


Meer oor:  Kuier  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.