Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Koester jou ma se nagedagtenis
11 Julie 2018
Sydney Cloete
Sydene Cloete

“Wat is ’n huis sonder ’n moeder?” Dis die vraag op ’n portret wat in so baie van ons huise hang. ’n Fluistervraag met ’n antwoord so diep, sielvol en angswekkend dat net die gedagte aan die antwoord ’n beklemming in jou hart bring.

Maar voor ons kan vra hoe ons die herinnering van ’n ma lewendig hou, moet ons sorg dat daar wel ’n herinnering ís om lewendig te hou. Die meeste van ons het die herinnering van ’n liefdevolle, sorgsame ma wat alles sal doen en opoffer vir haar kinders. Maar is dit dan iets wat geëer moet word eers ná haar heengaan of doen ons as kinders genoeg om ons ma’s te eer terwyl hulle nog by ons is?

Daar is ’n skrywe van iemand onbekend wat sê: “Moenie eendag blomme op my graf sit nie, gee my blomme terwyl ek lewe”. Gee ons ons ouers blomme terwyl ons die voorreg van hul teenwoordigheid in ons lewe het? Blomme van respek en liefde, omgee en hoop? Blomme van tyd en bystand, geduld en vrede?

Kan ons wie nog nie ’n ma verloor het nie, werklik die omvang van die pyn en verlies verstaan? Nee, nie in die volle sin van die woord nie, want wat ons ervaar is vrees. Vrees en verlies is twee verskillende dinge wat verskillende emosies wek. Ons vrees vir hoe ons dit emosioneel gaan hanteer as ons die verlies moet ervaar. Hoe verwerk en cope iemand wat hul ma verloor het? Hoe bemoedig en staan ons geliefdes by wat ’n ma verloor het? Hoe help ons hulle om die nagedagtenis te eer en die herinnering lewendig te hou?

Deur die nagedagtenis te eerbiedig. Dis nie nodig om die onderwerp te vermy nie. As jy die oorledene geken het, probeer die gesprekke lig en outentiek hou sonder om die karakter te skaad. Onthou die lekker staaltjies en die goeie dade. Niemand het net ’n ligte kant nie, maar dis wel die ligte kant van ons geliefdes wat ons wil onthou wanneer hulle nie meer daar is nie.

As jy nie iets goed te sê het nie, sê dan liefs niks. Elkeen se pad voor en ná enige verlies is uniek aan hul karakter en ’n persoonlike ervaring. Respekteer dit.

Elke kind het ’n unieke verhouding met hul ma. Julle kan sewe susters wees en elkeen van julle kan voel dat jou ma jou beste vriendin is.

Liefde kan nie gemeet word nie. Moederliefde is die verpersoonliking van liefde sonder verwagting. Die verpersoonliking van die vrou in die Bybel se olie wat kon kruike vul en nooit opraak nie. Daar is genoeg vir elkeen. Dis die tasbare liefde wat God op aarde verteenwoordig. Die veilige hawe van elke kind.

As ’n ma sterf, staan ’n hele gesin verlore en kaalgestroop van rigting. Elke kind ervaar die dood van ’n ma as ’n persoonlike verlies. Op daai oomblik wil jy selfsugtig wees oor jou ma, oor jou pyn, oor elke spesiale oomblik en gedagte wat sy net met jou gedeel het. Jy ervaar die kollektiewe pyn van die gesin as deel van die vloei op ’n manier as ondersteunend. Tog is dit wanneer jy alleen met jou eie gedagtes is wat die pyn van die verlies jou werklik tref. Nooit weer sal jy haar op hierdie aarde sien nie. Nooit weer kan jy ’n vinnige oproep maak nie. Nooit weer kan jy by haar inloer of deur haar vasgehou word nie. Snaaks, ’n ma hou altyd ’n kind vas en nie andersom nie, dit maak nie saak hoe oud jy is nie.

Selfs sibbe wat dieselfde ouer verloor, verwerk dit elk op hul eie manier. Dikwels as ’n ma sterf, spat ’n gesin uitmekaar. Doen moeite om kontak te behou.

Moederliefde is die verpersoonliking van liefde sonder verwagting

’n Ma is die hartklop, die sement wat elke vertrek aanmekaarhou en dit ’n huis maak. Sy is die warmte en die emosie van die huis. Wanneer ’n ma ons ontval, kan ons die verlange en gemis in die stilte hoor. Ons grootste vertroosting is dat hulle in ons geweef is en die teenwoordigheid van hul siel ons nooit verlaat nie. Deur net te wees wie ons is, hou ons die herinnering van ons ma’s lewendig.

Hulle is altyd met ons. Hulle is in ons lag, in ons maniere en in die manier wat ons elke dag met mense omgaan. Hulle is in die manier wat ons ons eie kinders opvoed. Hulle is in ons bakbrood en ons soetpatats en hulle is in ons boontjiesop op ’n koue wintersdag. Die herinnering van ons ma’s sal ons nooit ooit verlaat nie Z nie terwyl ons uitleef wat hulle ons geleer het nie.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.