Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Die ideale man vir haar
28 Junie 2019


Jessé is nie op die plek waar Monica haar gewoonlik ná skool oplaai nie. In fact, die hele skoolterrein is verlate. Monica kyk op haar horlosie. Sy is sowaar ’n volle twintig minute laat. Dit het dol gegaan op kantoor en boonop het haar vergadering met ’n moeilike kliënt langer aangehou as wat sy beplan het. Sy hoop nie haar kind het dit in haar kop gekry om op haar eie huis toe te stap nie. Dis te ver en te gevaarlik vir enige kind, veral vir ’n sewejarige dogtertjie.

Wat nou? Sy kan bel, maar het vanoggend verslaap en in die deurmekaar geskarrel om haar en Jessé reg te kry vir die dag het sy haar selfoon by die huis vergeet. Sy het so half gevoel soos iemand wat ’n ledemaat verloor het, maar het darem deur die dag gekom. Tot nou.

Paniek slaan in sweet oor haar lyf uit. Verwyt maak ’n knop op haar maag. Hoe kon sy! Dis haar plig om haar kind met haar lewe te beskerm en nou is sy nie eens betyds om haar op te laai nie. Trane begin onwillekeurig oor haar wange loop. Watter soort ma is sy?

Sy gaan vra die sekuriteitswag of hy dalk haar kind gesien het. Dit help nie veel nie. Hy kan nie onthou dat hy haar gesien het nie. Sy bied hom R10 aan en vra of sy sy selfoon kan gebruik, maar hy skud sy kop en gee haar net sy foon.

Verligting spoel oor haar toe Jessé se stem ná ’n paar oomblikke in haar oor opklink. In die agtergrond hoor sy die geroesemoes van jolige kinderstemme. Dan onthou sy: dis die Woensdag wat Jessé se nuwe maatjie, Terry, verjaar. Die hele klas sou ná skool na Terry-hulle se huis toe gaan vir ’n partytjie. Hulle is almal met ’n bussie soontoe. Teen sewe-uur vanaand moet sy Jessé weer gaan optel. “Dis baie lekker hier, Mammie,” babbel haar kind oor die selfoon. “En moenie worry om my te kom haal nie. Terry en haar daddy gaan my sommer self later huis toe bring. Babaai.”

Monica glimlag verlig. Vanaand sal sy dan haar kind se “heel heel beste bestie” ontmoet. Sedert Terry drie weke gelede saam met haar kind begin skoolgaan het, kan Jessé nie uitgepraat raak oor hoe mooi, gaaf en slim haar nuwe maatjie is nie.

By die huis kry sy haar selfoon waar sy dit die vorige aand ingeplug het – vyf missed calls en hope boodskappe, maar dit sal moet wag tot later. Sy skop haar skoene uit en gaan lê op haar bed. Sy is moeg.

Haar werk by The People’s Party, ’n groot events company, is haar en Jessé se brood en botter. Gelukkig stel dit haar in staat om fleksietyd te werk en kan sy haar kind soggens skool te neem en smiddae weer gaan haal. Ná skool werk sy gewoonlik sommer van die huis af. Intussen volg sy ook ’n aanlynkursus in kreatiewe skryfwerk, maak sy kind groot, sorg dat die huis netjies bly en dat daar gereeld ’n heerlike bord tuisgemaakte kos is om te eet. Sy kla nie, maar dit put haar uit en is soms – soos vandag – selfs ietwat oorweldigend.

Monica maak haar oë toe. Herinneringe aan haar kinder- en jeugjare in Namakwaland kom kry weer gemaklik inloertyd in haar kop. Sy het by haar ouma en oupa grootgeword. Haar ma het op ’n jong ouderdom swanger geword en moes ná haar geboorte in die stad gaan werk waar sy later getroud is en met haar lewe aangegaan het. Haar eie pa het, soos ’n ouerige antie lief was om te sê, “seep geloop koop en gegly, weg vir nooit weer se gesig kô wysie”. Sy, wat Monica is, was doodgelukkig om by haar ouma en oupa te bly.

Al het hulle nie veel gehad nie, het haar oupa pa gestaan vir haar. Van die begin af – deur dik en dun, op elke moontlike manier. Die groot man het diep spore in haar lewe getrap – met doen en praat wat vir altyd deur haar lewe sal bly eggo. Hy het hard gewerk om die pot aan die kook te hou, maar het altyd tyd gemaak om saam met haar te speel, haar op sy skouers rond te dra, van jongs af vir haar gelees, met haar gesels – oor God en oor alles wat vir hom belangrik was in die lewe: eerlikheid, opregtheid, dankbaarheid, mededeelsaamheid, pligsgetrouheid en goeie maniere. En hy was lief vir grappe vertel en vir lag.

’n Man soos haar oupa – dís wat sy wou hê, het sy in haar hart besluit.

Op hoërskool het die jong Lyle Adams haar lyf laat tintel. Bedags het haar oë hom op die skoolterrein gesoek en hom dikwels betrap dat hy haar dophou. Saans, in haar bed, het sy die mooiste gedagtes oor hom, oor hulle twee saam stil-stil bly koester. Al het sy vir niemand gesê nie. Hoe kon sy? Sy was te eenvoudig vir hom. Hy was aantreklik en gewild en slim en ryk. Hordes meisies het gedurig om hom gedraai.

In graad elf, aan die einde van die tweede kwartaal, het Lyle haar ná skool by die hek ingewag. “Wil jy nie in die vakansie saam met my cinema toe gaan nie, Monica? Asseblief. Enige tyd wat jou pas.”

Sy kon haar ore nie glo nie. Die ver­langende kyk in sy oë ook nie. Haar hart het gehuppel, maar haar verstand het net daar gehokaai. Haar oupa en ouma sou dit nie goedkeur nie. Sy was nog op skool. Sy moes leer, nie alleen saam met seuns gaan fliek nie.

“Ek . . . Nee.”

Teleurstelling, soos wolke voor die son op sy oop gesig en in sy oë, het hom ’n oomblik laat swyg. Toe, met soebat in sy stem: “Hoekom nie? Ek wil jou so graag beter leer ken.”

En ek vir jou, Lyle, het sy gedink. Want jy lê my drome vol. Net die gedagte dat ek jou gaan sien, laat my hart vinniger klop as ek soggens wakker word. Oor jou het ek hoop vir die lewe en alles wat vir my voorlê. Ek wil saam met jou na onbekende plekke gaan, in die see gaan swem of in ’n grot gaan bly. Of op die hoogste pieke van die wêreld gaan staan. Waar jy is, wil ek ook wees. Dis wat my die gelukkigste mens op aarde sal maak.

Maar dit kon nie, het sy geweet. Hul wêrelde het te veel verskil. Haar omstandighede het dit nie toegelaat nie. Oupa en Ouma sou nie verstaan het nie. Sy ouers ook nie.

“Nee.”

Hy wou nog iets sê, maar sy het omgedraai en weggestap. Vinnig. Sodat hy die trane in haar oë nie kon sien nie.

Dieselfde vakansie is Lyle weg. Sy pa het ’n vennoot by ’n gesiene prokureursfirma in die stad geword. Haar lewe het leër gevoel.

Ná skool moes sy gaan werk. Haar oupa was al te siek en moes noodgedwonge aftree. Vyf jaar later het sy met Jaco, ’n kollega, getrou. Aanvanklik het dit goed gegaan met hul huwelik en was hulle gelukkig, maar kort ná Jessé se geboorte het Jaco begin drink. Sy vriende het belangriker as sy gesin geword. Dit was asof hy ’n ander mens was as hy dronk was. Hy was nie meer die man wat sy leer ken en liefkry het nie. Hy was onbeskof met haar en het baie uit die werk gebly. Uiteindelik is hy afgedank. Sy het gehoop dat dit ’n keerpunt in sy lewe sou wees, maar ongelukkig het hy net erger geword.

Een koue winternag het Jaco verongeluk. Die jaar daarna het eers Monica se oupa, en later ook haar ouma gesterf. Sy en Jessé het stad toe getrek. By The People’s Party sou sy meer verdien en beter leergeleenthede kry.

Dit was nie altyd maklik nie, maar sy het dit reggekry om alleen op haar voete te staan en ’n goeie ma vir Jessé te wees. Sy gaan soms met mans uit, maar het nog nie weer ernstig by iemand betrokke geraak nie. Iemand wat haar in sy lewe wil hê en daarop aanspraak maak dat hy haar liefhet, moet haar kind ook ten volle aanvaar en ’n pa vir haar wees. Sy sal nie haar eie geluk bo dié van haar kind stel nie. Nooit nie.

Iemand klop hard aan die deur.

Effens vervaard kom Monica orent, vee oor haar gesig en deur haar hare. Sy moes aan die slaap geraak het.

Toe sy die deur oopmaak, staan hulle daar met breë glimlagte op hul gesigte – ’n aantreklike man met twee pragtige dogtertjies aan weerskante van hom. “Mammie!” gil Jessé opgewonde en hardloop in haar arms in, die ander dogtertjie huiwer net ’n oomblik voor sy dieselfde doen. Monica druk die twee kinders teen haar vas. Oor hul koppe kyk sy in die verbaasde uitdrukking op die man se gesig vas.

Die glimlag om sy mond word breër. “Monica? Is dit regtig jy?”

Haar hart bokspring. “Lyle?”

Hulle is gemaklik by mekaar terwyl hulle koffie drink. Die kinders speel in Jessé se kamer. Lyle vra uit oor haar lewe. Vertel van syne. Sy hoor dat sy vrou met Terry se geboorte oorlede is, dat hy sy eie prokureursfirma besit. Hoe bly hy is dat Terry so gou ’n goeie maatjie by die skool gemaak het.

In die dae wat volg kuier hulle oor en weer by mekaar se huise. Lyle maak tyd om met albei kinders te speel. Hulle hou veral daarvan as hy hulle op sy skouers tel en met hulle rondhardloop terwyl hy hul hande aan weerskante in die lug hou. Monica het haar altyd verbeel dat sy vlieg as haar oupa só met haar gespeel het. Sy glimlag. “Ma gee die wortels, Pa die vlerke,” het sy eendag iewers gelees.

“Kan ons môre almal saam kerk toe gaan, Monica,” vra Lyle toe hulle een Saterdag-oggend alleen is. “En sommer die res van die dag ook saam deurbring? Asseblief?”

“Lyle . . . Ons was al presies op dieselfde plek jare gelede,” sê sy.

Hy neem haar hand. “Presies. Gee my hierdie keer ’n regverdige kans in jou lewe, Monica. In Jessé s’n ook. Asseblief.”

Monica kyk in sy oë en glimlag gelukkig. Hy is wat haar hart nog heeltyd wou hê – ’n man wat haar liefhet en op wie sy trots kan wees. En hy is die ideale pa. En die ideale man – een soos haar oupa.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.