Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KORTVERHAAL: Die seerste seer
11 July 2018

Ek het alweer daardie droom gehad. Die een waarin dit voel ek val ’n ewigheid en dan skrik ek wakker net voordat ek die grond tref.

Ek weet dat ek my gaan doodval as ek nie wakker skrik nie. Ek kan dit voel wanneer ek moeg en uitasem wakker skrik, sonder dat ek dit ooit in my drome sien.

“Jy sal by ’n dokter of iets moet uitkom, Candice, jy sal nie só kan aangaan nie,” sê Sharon. Ek weet sy is bekommerd. Sy is die enigste persoon met wie ek gesels oor die drome.

Ek probeer lig van die situasie maak net om haar van my case af te kry. “Ag, Sharon, jy is mos nou my dokter. Ek praat met jou en dan voel ek beter...” Ek weet sy glo dit nie, maar ten minste glimlag sy, hoewel die glimlag bittersoet is.

Elke nag, vir die afgelope drie jaar, droom ek dieselfde droom ná daardie noodlottige dag wat my lewe onherroeplik verander het. Die meeste van die tyd voel dit asof my lewe daardie dag meteens geëindig het.

My gedagtes gaan nog verder terug. . . Ek het Shaun ontmoet by die universiteit se opedag toe ek in matriek was. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Tot vandag glo ek dit met alles binne my.

Hy het by ’n tafel gestaan met ’n paar ander jong mans. Hulle het pamflette uitgedeel aan al die matrikulante en ek kon my oë nie van hom afhou nie.

“Wees deel van die familie,” het hy gesê met ’n glimlag so mooi dat ek vir ’n oomblik vergeet het om asem te haal. Hy het die pragtigste sagbruin oë en ’n weelderige dik bos bruin hare gehad.

Ek het nog nooit in my lewe so ’n aantreklike man gesien nie. Daar was ’n sekonde van oogkontak tussen ons en net daar en dan het ek geweet dat ons twee nog ’n lang pad saam gaan stap.

“Ek is Shaun...” Hy het nog verder gepraat, maar ek het geen oortuiging nodig gehad om daardie universiteit te kies nie.

Ek het deel van die kampusfamilie geword. Ek het deel van Shaun se lewe geword. Ek het my plek gevind.

My ouers het gesê dat dit maar net kalwerliefde was; dat ek nog te jonk was om in so ’n ernstige verhouding te wees, maar ek het van beter geweet. My ouers het uiteindelik ons verhouding aanvaar en tog lief geword vir Shaun. Hulle kon sien hoe lief hy my gehad het.

“Candice, sal jy met my trou?” het hy hurkend gevra terwyl hy tot binne in my siel gekyk het. Vier jaar nadat ons ontmoet het, was ons verloof. ’n Jaar ná die verlowing was ons getroud. Ons was onafskeidbaar, beste maats en dolverlief.

’n Jaar ná ons troue was ek swanger en ons dogtertjie, Leah, was gebore. Alles het so vinnig gebeur, maar ons kon nie gelukkiger wees nie. Waar ons net twee was en net vir mekaar gelewe het, het ons ’n kosbare geskenkie gekry om ons lewens te vul.

Shaun het altyd gesê, “Leah het gate kom vul wat ons nie geweet het bestaan nie.” Sy was ons alles. Leah was die mooiste baba ooit. Haar wange het haar ogies toegedruk wanneer sy gelag het. Haar lag was regtig ons harte se lied. Sy het ons legkaart voltooi. My gesin, my wonderlike, pragtige gesin.

Ons was op pad van ’n kinderpartytjie af. Een van Leah se maatjies, Jessica, het vyf geword en Leah se vyfde verjaardag sou die volgende Dinsdag wees. Ek onthou steeds hoe die rooi kar teen ’n hoë spoed in ons baan aangery gekom het.

“Candice, ons gaan dit nie maak nie!” het Shaun geskree en toe die slag. Ek moes iewers gedurende die rol van die kar my bewussyn verloor het, want ek het wakker geskrik in die hospitaal.

“Is Leah oukei? Is Shaun oukei?”

Mammie wou nie antwoord nie. Die verpleegster wou nie antwoord nie. My ma het net begin huil.

Die verpleegster het my ma uit die kamer geneem en teruggekom met dokter Anderson. Voordat hy nog sy mond oopgemaak het, het my hart in miljoene klein stukkies gebreek.

“Ons is jammer, Candice,” het dokter Anderson gesê met ’n gesig wat alles verklap. “Shaun en Leah het dit nie gemaak nie,” het hy dit uiteindelik uitgekry.

My gesin – my man, my dogter. Weg, vir ewig. My legkaart in miljoene klein stukkies wat nooit weer heel sal wees nie.

Wat Leah se vyfde verjaardagpartytjie sou wees, was toe ’n begrafnis vir my man en kind. Dit kon ek nooit voorspel nie. En dit is iets wat ek vir niemand toewens nie. Niemand nie.

Dit is die seerste seer om my gesin só te sien en om te weet niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

My engelkind het so uitgesien na haar vyfde verjaardag. Sy het só uitgesien na haar partytjie. ’n Dag wat vir ons vreugde moes bring, het ontaard in ’n tragiese nagmerrie. ’n Nagmerrie wat elke dag voor my afspeel.

Ek kan die twee kiste wat in die grond sak, nie uit my kop kry nie. Die besef dat ek hulle nooit weer gaan sien nie, die finaliteit van alles het daardie dag ingesink, maar ook nie.

“Hulle is in ’n beter plek, my kind,” het antie Stienie gesê terwyl sy my rug gevryf het toe ek by die oop graf staan.

Ek wou skreeu. Ek wou goed breek en rondgooi en my hare uit my kop trek, maar al wat ek kon doen, is nog harder huil. Later het ek sonder trane gehuil.

Shaun en Leah was van my gesteel en hier vertel mense my dat hulle in ’n beter plek is! Hulle was gelukkig by my. Ons drie was “’n beter plek”!

Vir maande lank het ek steeds gekook vir drie. Ek het soggens opgestaan om vir Shaun en Leah ontbyt te maak.

“Kos is op die tafel!” sou ek roep, maar daar was geen antwoord nie.

Die klank van Leah se klein voetjies wat in die gang aangehardloop kom, was weg. Niks “Op pad, my skat!” van Shaun af nie.

Hulle was nie meer daar nie. Hulle sou nooit weer daar wees nie. Ek was alleen met net herinneringe om my dae te vul en steeds was my dae dolleeg.

Daar is niks meer soentjies nie. Daar is nie meer “Mammie-Mammie” of ’n voetjie-voetjie-speletjie soggens met my man as ek wakker skrik nie. Waar is die arms wat my moet omvou wanneer ek ’n slegte dag gehad het? Dieselfde arms wat my moes omvou, is die arms waarna ek elke dag verlang.

Ek het kwaad geword toe ek in die hof sit en na die man wat die ongeluk veroorsaak het, luister. Hy het my hele lewe van my af weggeneem en al wat hy kon sê was, “Ek is verskriklik jammer, Candice.” So asof dit alles wat hy gedoen het, alles wat hy van my af weggevat het, gaan teruggee.

Ek was kwaad omdat hy net “jammer” kon sê. Ek was kwaad omdat hy dronk was toe hy die ongeluk gemaak het en ek was kwaad omdat sy eie pragkind, Jessica, sonder haar pa sou grootword vir 20 jaar. Ek is hartseer dat ’n dronk bestuurder se onverskilligheid twee van die pragtigste lewens kortgeknip het; hartseer dat ’n dogtertjie sonder haar pa moes grootword; en hartseer dat ’n vrou sonder haar man moet lewe. My hart is stukkend omdat een persoon se aksies soveel verwoesting kon saai. Ek is kwaad omdat hy sy eie lewe verwoes het.

Ek spring elke nag in my drome van dieselfde brug af en ek val totdat ek wakker skrik. Dikwels wonder ek of ek nie dalk vir Shaun en Leah gaan sien as ek die grond tref nie. Ander tye voel ek dat die droom ’n teken is dat ek nog lewe. Dit moet tog iets beteken. Al voel dit vir my asof ek niks meer beteken nie.

“Jy is nie alleen nie,” sê my ma altyd. En wanneer ek vir haar vra, “Nou hoekom voel ek dan so alleen, Ma?” dan kan sy nie antwoord nie, want sy weet dit is die waarheid. Ek is gebroke, my legkaart is flenters, maar ek dink elke dag aan Shaun en Leah. Hoe kan ’n mens mense vergeet wat jou alles is? Was?

Sommige tye sit en glimlag ek vir al die mooi herinneringe, maar wat van as ek nie meer so goed onthou nie?

Die meeste van die tyd huil ek nog. My wange is al teer van al die huil. Ek weet nie of ek ooit gaan ophou huil nie, ek weet nie of dit ooit makliker gaan word nie. Maar ek weet ek moet aanhou lewe, dit is wat hulle sou wou hê al voel dit vir my dit is die ergste ding vir my om te doen. Vir wie sal ek lewe?

“Sharon,” begin ek toe my vriendin my vir die hoeveelste keer kom troos, “ek wil professionele hulp gaan kry. Sal jy... sal jy saam met my gaan?”

Sharon glimlag regtig vir die eerste keer in ’n baie lang tyd, “Candice, ek het gedog jy gaan nooit vra nie.”

Ek haal diep asem. Dit is nou weer tyd vir my om weer heel te word... Dit weer tyd om te lewe al is dit met die seerste seer.

WIL JY R750 VERDIEN
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn.
As ons jou storie (1200 - 2000 woorde) publiseer, kry jy R750.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.