Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: God maak nie foute nie
11 July 2018


Dis die derde dag wat Jasmine verby die kinderhuis loop en die klein seun aan die ander kant van die draad gewaar. Hy lyk so verwese. Sy trui is te groot en sy kaalvoete vang dadelik haar oog. Sy hare is langerig en krul in sy nek. Die kind kort meer kos, dink sy. Sy bene is so dun in die kortbroekie wat hy aanhet. Sy wonder hoe oud hy is, dalk so ses of sewe. Hy kan nie ouer wees nie, want hy is nogal fyn gebou. Die seun kyk na almal wat verby loop – van kop tot tone. Dis asof hy na iets of iemand spesifiek soek.

Toe hy sien Jasmine kyk vir hom, druk hy sy kop diep in die sand. Dadelik smelt haar hart en sy loop nader. Hy tree terug.

“Hallo,” sê Jasmine. “Wat is jou naam?”

Die seuntjie kyk haar ’n oomblik onseker aan en draai dan om en hardloop terug in die rigting van die kinderhuis. Jasmine skud haar kop en loop dan verder. Hy is seker maar skaam of dalk is hy slim en praat nie met vreemdelinge nie.

Sy loop verder tot by die kinderhuis se ingang. Die hekke is toe en dan sien sy oom Gert nader staan.

“Genade, Jasmientjie, is dit jy?” Hy maak die hek oop en kom oop arms aan.

“Oom Gert, ek het so verlang.” Dierbare oom Gert, dink Jasmine, hy is en was die pa en oupa vir baie kinders.

“Kom in, my kind, kom in,” nooi hy.

“Antie Liesbet gaan haar oë nie glo nie. Haar oog het hoeka so gespring.”

Jasmine glimlag. “Ek wou al eergister kom inloer, maar wou nie die verrassing bederf nie.” Sy glimlag breed. Jasmine loop ’n entjie verder. Sy staan stil.

Haar oë dwaal liefdevol oor die gebou voor haar. Hier het sy meer as die helfte van haar kinderlewe deurgebring. Sy was skaars ’n dogtertjie van ses toe die welsyn haar hierheen gebring het met net ’n sakkie en geboortesertifikaat in die hand.

Haar lyfie was vol houe en haar hart vol seer. Die laaste wat sy van haar ouers kan onthou, was toe haar pa vir haar ma geskree het: “Daai kind was die grootste fout wat jy kon gemaak het.”

Haar ma se laaste woorde sal sy nooit vergeet nie: “God maak nie foute nie.”

Jasmine onthou hoe haar pa haar aan die hare gegryp en geslaan het. Toe hardloop sy. Hoe ver sy gehardloop het, weet sy nie. Die mense wat haar destyds langs die pad gekry het, het haar na die polisiestasie geneem. Daarna onthou sy net die vriendelike welsynvrou. Jasmine het die antie alles vertel en haar gewys hoe die houe oor haar lyf lê. Toe bring sy haar na oom Gert en antie Liesbet.

Jasmine se gedagtes word onderbreek toe antie Liesbet uitgehardloop kom.

“Jasmine?” Jasmine glimlag. “Jasmine, kind, maar jy lyk spoggerig.”

Sy kyk na Jasmine en dan gaan haar arms oop. “Kom hier, my kind”. Jasmine sit haar arms om die vrou wat haar grootgemaak het. Sy lê vir ’n oomblik teen antie Liesbet se bors en dan sê sy: “Ek het julle almal so gemis.”

“En ons vir jou, my kind,” glimlag antie Liesbet deur die trane.

“Wat kom maak jy in die geweste? Ek dog dan jy is oor die waters saam ons Doktertjie?”

“Ja antie, maar ons is terug.”

Jasmine kyk weer na die kinderhuis en dan na antie Liesbet.

“Ons is terug by die huis, waar ons hoort, by ons mense.”

“Ons?” vra oom Gert, “Waar is Doktertjie dan?” Oom Gert kyk rond.

“Hy is by sy nuwe praktyk, Oom – sommer net hier om die draai. Hy kom later groet.”

“Ek wil eintlik met Antie praat. Privaat, asseblief.” Antie Liesbet vat Jasmine aan die arm en begin loop. Hulle loop die kantoor in.

“Nou ja toe, my kind, wat het jy op die hart?” ’n Bekende gesiggie loer om die deur en Jasmine herken hom dadelik as die skaam seun by die draad.

Sy waai vir die seun, maar dan verdwyn hy skielik weer. Antie Liesbet sien dit en sê: “Dis Juan. Hy kom uit ’n gebroke huis. Harde lewe die arme kind. Alkoholiste vir ouers.”

Antie Liesbet maak ’n oomblik haar oë toe en dan weer oop. “Sy ouers is tronk toe vir kindermishandeling. Daai lyfie het al swaar gehad, Jasmine.” Jasmine sien die trane in antie Liesbet se oë en sit dan haar hande oor antie Liesbet s’n.

“Hy is nou veilig, want God het hom ’n engel gegee. Julle sal nooit weet hoe jul omgee en liefde, ’n roof oor kinders soos ons se harte kan sit nie,” sê Jasmine.

“Antie Liesbet, die liefde en tyd wat ons in hierdie kinderhuis gekry het, sal ons altyd in ons harte koester. Julle het soveel liefdevolle ouers en goeie huise vir so baie van die kinders gekry. Hulle sal julle altyd dankbaar bly. Julle het die seer minder gemaak deur liefde te gee.”

“Ek wens ons kon meer doen. Soms voel dit so asof ons nie genoeg gee of help nie,” sê antie Liesbet hartseer.

“Soms dink ek God maak ’n fout om vir soveel ouers kinders te gee en dan gooi hulle daai kind terug in God se gesig.”

Jasmine gaan staan voor die venster.

“Antie, op ’n tyd het ek ook só gedink. Ek het gedink ek is die fout tussen my ouers. Die dag toe ek weggeloop het, het ek my ma gehoor sê, ‘God maak nie foute nie’. Al die jare klou ek vas aan daai woorde.”

Jasmine draai om en kyk Antie Liesbet in die oë. “God maak nie foute nie.”

“Ai, my kind, dis so waar. Onse Vader kan baie dinge maak, maar foute . . . Nee wat.”

Julle sal nooit weet hoe jul omgee en liefde, 'n roof oor kinders soos ons se harte kan sit nie.

Jasmine kyk met ’n glimlag terug na antie Liesbet. “Ek is die nuwe welsynwerker, Antie.”

Antie Liesbet spring op. “Wat?”

“Genade kind, hoe bly maak jy nou my moederhart. Kom hier, my kind.”

Antie Liesbet druk Jasmine teen haar vas en die trane vloei. “Jy maak my so trots, my kind.”

Jasmine glimlag hartseer. “Daar is nog iets, antie Liesbet. Ek en Dok sal nooit kinders van ons eie kan hê nie. Ons oorweeg dit om aan te neem.”

Antie Liesbet staan geskok. “Genade! Wat praat jy nou?”

Jasmine glimlag flouerig.

“Antie Liesbet . . .” Die klein seun van vroeër onderbreek hul gesprek. Hy kom in en loop reguit na haar.

“Ons gaan later speel, Juan. Antie is net gou besig om met die antie te gesels.” Maar Juan bly waar hy staan.

“Antie Liesbet, is sy ’n engel?” Hy wys na Jasmine. Hulle kyk gelyk na Juan.

“Hoe meen jy nou, my kind?” vra antie Liesbet en tel vir Juan op haar skoot. Hy haal nie sy oë van Jasmine af nie.

“Ek het gedroom Liewe Jesus stuur ’n engel om ons te kom haal.”

Jasmine gaan sit op die stoel regoor antie Liesbet en kyk na die pragtige seun.

“Hello, my naam is Jasmine. Gaan jy nou vir my sê wat jou naam is?”

Juan raak skaam en druk sy kop teen antie Liesbet se bors. Jasmine kry hom jammer en praat dan met antie Liesbet.

“Dalk was dit ’n fout dat ek gekom het in jul speeltyd.”

Skielik is Juan se aandag weer by Jasmine toe hy sê: “God maak nie foute nie.” Jasmine staar oopmond na Juan, maar dan glimlag sy. “Jy is doodreg, grootman.”

Juan kom staan voor Jasmine en dan vat hy aan haar hare. “Jy is ’n engel. Het God jou gestuur?” Jasmine kyk na antie Liesbet asof sy hulp soek.

“Ja Juan, my kind. God het Jasmientjie vandag hierheen gestuur,” antwoord antie Liesbet.

Hy lyk skielik opgewonde. “God het Sussie ook gemaak. Sy is baie soet.”

Jasmine kyk na antie Liesbet. “Kom saam dan gaan wys ek jou. Kom Juan. Loop jy voor,” sê antie Liesbet.

Hulle gaan by ’n kamer in en daar lê die pragtigste dogtertjie en sy glimlag sodat jy twee spierwit tande duidelik sien.

“Dis Nadia, Juan se sussie. Sy is nege maande oud.”

Juan kyk trots na sy sussie en dan na Jasmine. “Sy is mooi, nè Antie?”

Hy sit sy hand in Jasmine s’n. Jasmine glimlag af na hom en gee sy hand ’n sagte drukkie. Sy kyk dan weer na Nadia, wat haar vinger styf vasvat.

“Pragtig. ’n Engeltjie uit die hemel.”

Trane kom sit vlak in Jasmine se oë as sy na antie Liesbet kyk en haar oë dan oor Juan en Nadia gooi.

“Antie Liesbet, ek en Dok...” Jasmine kyk weer na Juan en Nadia.

Antie Liesbet weet wat sy wil sê. Sy loop met trane van geluk uit die kamer. Sy wil Jasmine alleentyd gee met hulle. Dit kan nog ure wees voordat hulle hul nuwe ma laat gaan. 

WIL JY R750 VERDIEN
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1200 - R2000 woorde) publiseer, kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.