Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: 'n Nuwe begin
11 Julie 2018


Lisa,” sê haar ma, Dawn, toe sy saggies aan die deur wat op ’n skrefie oop is, klop. Sy loer dan versigtig by die kamer in en vra: “Lisa, mag ek binnekom?” “Ja,” antwoord Lisa kortaf terwyl sy die wit kussing onder haar kop indruk. Sy lê met haar bene onder haar gevou. Haar hare staan in alle rigtings en haar gesig is bleek. Só lyk iemand wat leeggehuil is, dink Dawn.

“Ai, my Lisa, eet tog iets toe,” sê haar ma verleë terwyl sy die skinkbord met ’n toebroodjie en rooibostee langs die bed neersit. “Nee, dankie. Hoe laat is dit?” vra sy met haar oë toe. “Amper 12:00. Jy moet begin klaarmaak. David kom binnekort.”

Dawn staar na haar kind. Sy wens sy kon haar seer wegvat. Sy wil oor Lisa se voorkop vryf en haar liggies soen, maar sy los maar. Voor sy die deur toemaak, sê sy: “Alles sal weer orraait wees. Die Here maak mens heel.” Lisa het besluit om troos by haar ma te kom soek. Nie dat enigiets haar kan troos ná wat gebeur het nie.

Die feit dat David in KwaZulu-Natal vir so lank is, maak dinge erger. Al wil sy hom nie die heeltyd sien nie, sal dit beter gewees het as hy tog daar was. Al is dit net sodat sy op hom kon skree. Hy moes al verlede week terug gewees het, maar het laat weet hy kom ’n week later. Lisa kan nie begryp hoekom haar geloof elke slag so beproef word nie.

Sy wil net ’n ma wees. Vier weke gelede het haar hoop om ma te word wéér teen die binnekant van haar bene afgeloop.

Die tweede keer binne twee jaar. Hierdie een was moeiliker. Sy was reeds sewe maande swanger. Sy wou nie alleen by die huis wees nie, omdat die helderblou vertrek wat sy en David vir die kleinding reggemaak het, te veel hartseer en woede bring. Die seer om ’n kind te verloor, is ’n seer wat Lisa nie haar grootste vyand toewens nie. Stemme in die voorkamer bring Lisa terug na die hede. Dis David.

Kort daarna loop hy by die kamer in nadat hy twee kloppe gee. “Hallo, my vrou. Is jy reg?” vra hy onseker.

Hy is maar versigtig ingeval sy weer uitbars. Lisa gooi die laaste goed in haar sak. “Nou daar,” sê sy sonder om oogkontak met hom te maak. Dit voel die laaste ruk vir haar of hul huweliksbootjie besig is om te wankel. Sy weet hoe graag David ’n kind wil hê, maar hul lot word mos nie deur haar bepaal nie. Hy kan haar tog sekerlik nie verkwalik nie. Of altans hoop sy so. “Sterkte, my kinders,” groet Dawn haar dogter en skoonseun. Sy hou hulle albei vir ’n langer as gewoonlik vas.

“Mooi ry,” sê sy voor sy elkeen ’n klapsoen op die wang gee. In die kar verbreek Lisa die ongemaklike stilte: “Jy darem gewerk gekry?” Sy het haarself vir ’n oomblik of twee in die natuurskoon van die Cederberge verloor terwyl David die bergpas wat na Worcester lei, vinnig kafdraf.

“Nie so baie soos wat ek wou nie. My kop maal maar,” antwoord hy bedruk. Sy besef sy het haar wederhelfte gemis, maar as sy haar nie verbeel nie, lyk dit of iets hom pla. Sy ken hom immers al 20 jaar lank. “Als reg?” vra sy bekommerd. Hy hou sy oë gefokus op die pad.

Twee vragmotors ry voor hulle. “David?” probeer sy weer. “Ja.” Hy sug swaar en kyk na haar met ’n glimlag wat lyk asof dit sy gesig seermaak. Daar is duidelik nie veel te sê tussen hulle twee nie en Lisa draai maar die radio se volume harder.

Uit die hoek van haar oog sien sy David gee behoorlik ’n droë sluk terwyl die treffer van The Manhattans “Hurt” deur die motor pols. Voor Lisa by hul huis ingaan, stap sy om na die bure om vir Lucy, hul driepoot Chihuahua, te kry.

Jy het jouself onttrek van die wêreld en ek was alleen. Ek het nie geweet hoe om te rou nie.

Die bure kyk gewoonlik na haar as sy en David in Ceres oorslaap omdat haar ma deesdae ’n vreeslike allergie vir enige gedierte het. ’n Padvark het ’n paar jaar gelede vir arme Lucy getref, die dat sy vandag met drie bene oor die weg moet kom. Sy is vir Lisa soos die kind wat sy nooit gehad het nie.

’n Sonstraal en ’n lewende wese vir wie sy onvoorwaardelik voor lief kan wees. Iets wat darem nog lewensvreugde bring. Met Lucy in haar arms, maak sy haar oë vir ’n oomblik toe, haal diep asem en stap dan by hul huis in tot by haar kamer. Sy kry terugflitse oor daai Dinsdagoggend toe sy skielik, so uit die bloute sonder enige waarskuwingstekens, begin bloei het. Onophoudelik. ’n Trane rol oor haar wange.

Sy gaan sit op haar bed met haar hande in haar hare en begin dan te snik. Eers saggies en dan al harder. David kry sy vrou só. Hy vou sy arms om haar en druk haar styf teen hom vas. Hy probeer hard teen sy hartseer veg, maar sy oë skiet ook vol trane. Lisa skrik in die middel van die nag wakker.

David is nie in die bed nie. Sy klim uit die bed, gooi haar kamerjas oor haar skouers en stap na die kombuis. “David? Wat gaan aan?” vra sy bekommerd. Hy sit kaalbolyf met ’n glas in sy hand. Aan die hoeveelheid wat in die bottel oor is, besef Lisa dis nie sy eerste of sy tweede nie.

Sy neem versigtig die glas by hom. “David, wat . . .” Nog voordat sy enige woord verder kan sê, val hy haar in die rede. “Ek is ’n pa.” Sy woorde tref haar soos ’n ystervuis op die krop van haar maag. Sy sluk diep, hou haar hand op haar bors en loop stadig agteruit tot teen die toonbank in die kombuis. Sy is geskok. Geskok tot diep in haar binneste. “W. . . Wat sê jy?” hakkel sy.

Trane loop oor sy gesig. Hy probeer dit weer sê, maar hy kan dit nie oor sy lippe kry nie. Sy sak af tot op die vloer met haar rug teen die toonbank. “Maar, hoe? Wanneer? Waar?” vra sy verward. “Onthou jy Mark se troue?” vra hy terwyl hy vir die eerste keer werklik na haar kyk. Sy bly vir ’n oomblik stil. “Ja,” kom die antwoord. Haar stem klink anders. Uitdagend. Kwaad. “Jy wou nie gaan nie, omdat jy nog te seer was ná die eerste keer toe ons . . .”

Hy sug swaar, maar gaan moedig voort. “Ek het probeer om daar te wees vir jou, maar ek het van myself vergeet. Jy het jouself onttrek van die wêreld en ek was alleen. Ek het nie geweet hoe om te rou nie. Ek het vertroosting by iemand anders gaan soek.” ’n Oomblik van stilte oorval die kombuis, terwyl die volmaan deur die gordyne skemer.

Lisa sit steeds op die vloer met haar kop wat teen die kombuiskassie rus en haar hande op haar gesig. David sluk weer diep. Sy keel voel droog. “In Durban het ek ’n oproep gekry van ’n speurder. Hy’t gesê ’n vrou op ’n ongelukstoneel het ’n briefie in sy hand gedruk voor sy haar laaste asem uitgeblaas het. Daarop staan geskrywe dat ek die pa van haar kind is.” Hy vee sy trane met die palm van sy een hand af en dwing homself om verder te praat.

Hoewel hy vroeër tientalle glase whiskey gesluk het, voel hy skielik nugter. By sy volle positiewe. Sy oë lyk smekend. “Lisa, ek wou dit eers nie glo nie, maar die speurder het my laat kom vir DNS-toetse. Dis hoekom ek ’n week langer moes wegbly. Die uitslag was positief . . .”

Dis twee weke sedert sy vir David uit hul huis geskop het. Hy het egter so te sê sy hele klerekas agtergelos. Dit was ’n tyd van smart en ellende vir Lisa, wat gepaardgaan met soveel vernedering. Slapelose nagte. Nagte waar sy haarself styf tussen haar wit lakens toegerol het en gewonder het of sy haar man gedryf het na ’n ander vrou. Sy het hom innig lief, maar kan sy hom vergewe? Hy het iets op ’n ander plek gekry wat sy nie vir hom kon gee nie. Dit maak die seerste. So teister sy haarself tot sy skielik iets besef: Deur te vergewe, verander jy nie die verlede nie, maar die toekoms.

“Die lewe is die kosbaarste geskenk aan enige persoon,” hoor sy haarself sê en voor sy die foon kan optel om vir David te bel, hoor sy ’n klop aan die voordeur. Lucy trippel met ’n blaf nader. Sy erken onmiddellik die lang figuur buite die glasdeur. Toe sy die deur oopmaak, sien sy hy is nie alleen nie. “Lisa, ontmoet my seun. Ons seun,” sê David versigtig. Haar maag ruk. Haar hart klop vinnig. Haar keel is seer van groot knoppe sluk. Voor sy enige woord kan uiter, neem sy moederlik, met liefde die bondel vreugde by hom en met ’n sensitiewe soen voor sy kop, sê sy dankie vir ’n tweede kans op lewe.

WIL JY R750 VERDIEN?

E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer, kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.