Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: ’n Pa soos Dawid
12 Junie 2019

Elizabeth en Dawid Lakey luister afwagtend na dokter Bester: “As Craig nie baie gou ’n nieroorplanting kry nie, gaan hy sterf.”

Skok en hartseer hang soos ’n dik onweerswolk in dokter Bester se spreekkamer. Hy kan die verslae ouers se pyn aanvoel en staar met medelye na hulle. Die stilte druk swaar. Hy wag vir hulle om eerste te reageer. Hy gee hulle kans sodat die nuus behoorlik kan insink.

Elizabeth snik saggies. Dawid staar na die mediese lêer op die tafel asof dit sy anker is. Asof die antwoord op die doods­vonnis van hul enigste seun daarin lê.

Craig is maar net sewentien. Sy hele lewe lê voor hom. Dis sy matriekjaar. Hulle het reeds begin met voorbereidings vir die matriekafskeid. Net die beste vir hierdie dierbare, gehoorsame, nederige kind van hulle, wat hulle nog nie een dag se sorge gegee het nie.

Nou dít. Nierversaking. Craig moet dringend ’n nier kry of hy sterf. Net dít. Finish en klaar. Dawid veg teen die emosies wat oor hom spoel. Woede, verslaentheid en vrae. Hoekom hulle? Hoekom Craig? ’n Kind wat nie soos ander seuns van sy ouderdom rook en drink en op straathoeke uithang nie. Hoekom nié hulle nie?

Hy onthou die vraag van ’n ou bekende storie oor ’n ander persoon se swaarkry en verdriet. Dawid sug swaar en neem Elizabeth se hand in syne. Dis yskoud en nat van die trane. Hy druk dit vertroostend en trek haar teen sy skouer.

“Is daar niks wat ons kan doen om ons kind se lewe te red nie, Dokter?”

Dokter Bester knik. Geduldig begin hy aan Dawid en Elizabeth verduidelik van die prognose en wat vir Craig gedoen kan word.

“So ons kan vir hom ’n nier skenk!” Dawid se oë blink van verligting. Daar is lig aan die einde van die tonnel. Hul kind het nog ’n kans op lewe.

“Ja, Meneer Lakey, maar slegs as een van julle geskikte skenkers is.”

“Goed, Dokter. Wanneer kan ons met die toetse begin. Ek gaan vir my kind ’n nier skenk.”

Die mans spring geskok op toe Elizabeth diep sug en van haar stoel aftuimel.

“Elizabeth!” Dawid kniel by sy vrou terwyl dokter Bester haar vinnig ondersoek.

“Dis oukei, Dawid. Sy het net flou geword. Waarskynlik die spanning,” probeer hy die paniekerige Dawid kalmeer.

“Ek kry die suster sodat hulle haar iets kan inspuit, dan gaan julle huis toe. Sy het rus nodig.”

“Maar wat van Craig, Dokter?

“Hy sal oukei wees. Gaan rus julle en kom môre terug, dan sit ons die wiel aan die rol. Onthou as julle siek is, kan julle nie jul kind help nie, so probeer kalm bly. Ek weet dis moeilik in dié omstandighede, maar Craig het julle nou nodig.” Dawid knik.

By die huis vou Dawid die komberse om ’n slapende Elizabeth. Die kalmeermiddel het ingeskop en sy haal saggies en rustig asem. Hy gaan lê langs haar en slaan sy arms om haar middel.

Sy vrou en kind is sy lewe. In die sewentien jaar wat hulle getroud is, het hulle net geluk en vreugde geken. Die Here was goed vir hulle. Hy het ’n goeie werk, hulle lewe in ’n goeie buurt, hul kind is in ’n goeie skool . . . Ag hulle is sommer net gelukkig. Hulle het mekaar en dis al wat tel. En nou wil God hul kind wegvat! Dit kan nie gebeur nie. Dit mag nie. Dit sal hom en Elizabeth breek.

Dawid se lyf begin ruk. Hy staan saggies op en stap na die sitkamer. Op die mat val hy op sy knieë neer en druk sy kop teen die grond. Sy groot lyf wieg heen en weer terwyl verdriet deur hom skeur.

“Here, asseblief! Red ons kind,” huil hy pleitend.

Dit duur ure voor hy kalm raak. Sy spiere is styf en seer toe hy opstaan. Dis skemer in die vertrek. Hy stap kombuis toe en skakel die ketel aan. Hy maak twee koppies rooibostee.

Elizabeth lê oop oë en staar na die dak toe hy die kamer binnekom. Hy soen teer op haar voorkop en help haar regop teen die kussings. Sit die koppie tee in haar hand en gaan sit langs haar. Hulle drink in stilte.

“Dawid, daar is iets wat jy moet weet.” Elizabeth se stem klink doods. Emosieloos. Dalk die kalmeermiddel wat haar so afstomp, troos Dawid homself.

“Praat, my vrou. Ek luister.” Sy woorde is kalmerend. Elizabeth sug diep.

“Belowe jy sal my nie haat nie?” Dawid kyk geskok na haar.

“Haat! Nooit Elizabeth. My liefde vir jou is te groot.”

“Wees kwaad vir my. Ek sal dit kan verdra, maar haat . . .” Sy skud haar kop.

“Ek sal nie. Nooit nie,” verseker Dawid haar. Sy knik en leun terug teen die kussing. Sy maak haar oë toe.

“Craig is nie vroeg gebore nie.” Sy bly stil. Laat dit insink. Wag vir die vrae. Niks.

Sy maak haar oë oop. Dawid lê stil na haar en kyk. Sy oë sag soos altyd. Geen verwyte. Sy gaan voort.

“Ek was reeds swanger, Dawid. Twee maande al, voor ek met jou geslaap het. Craig is John Abrahams se kind.”

Elizabeth bly stil. Sy vee die trane wat oor haar wange stroom met haar vuiste af. Haar bors dein swaar op en af.

“Ek is so jammer, my man!”

Dawid beweeg tot teen die snikkende Elizabeth. Trek haar styf in sy omhelsing.

“Ek weet, my vrou.”

“Wat!” Elizabeth druk hom weg, verbystering oor haar traanbesmeerde gesig.

“Wat? Hoe? Hoekom het jy nooit . . .? Hoe weet jy?” Tuimel die vrae uit.

“Ek het ’n ongeluk gehad, Elizabeth. Ek kan nie kinders verwek nie.”

“Wat!” Roep Elizabeth verward uit.

“Ja, Elizabeth. Dis ook hoekom jy nooit weer kon swanger word nie. Ek het geweet Craig is nie my biologiese kind nie, maar die dag toe jy vir my sê jy is swanger, het ek geweet dis omdat jy my liefhet. Jy het my gekies om die pa te wees en ook daarmee saam die besluit dat jy die res van jou lewe met my wil deel. Jy het geweet ons sou moes trou?”

Elizabeth knik.

“Dit was vir my genoeg. Ek was toe reeds jare lank heimlik verlief op jou. Ek kon my nie ’n lewe sonder jou indink nie, so vir my was die keuse maklik. Ek kies jou en ons kind en dis dit. Ek was nog nooit spyt oor my keuse nie en daar is niks wat ek jou moet vergewe nie. Ons altwee het dinge vir mekaar verswyg.”

Elizabeth knik.

“Maar besef jy dat jy nie vir Craig ’n nier sal kan skenk nie? Dis hoekom ek so ontsteld was. Dat die toetse gaan wys jy is nie sy biologiese pa nie! Hy is nie jou kind nie.”

Dawid druk sy vinger liggies op Elizabeth se sagte lippe.

“My vrou, moet nooit weer sê Craig is nie my kind nie. God het hierdie kind vir ons gegee en ek glo Hy sal hom nie sommer netso van ons wegvat nie. Ons moet glo. Môre gaan ons vir daai toetse.”

’n Paar dae later voel Dawid se ooglede swaar. Die pyn in sy sy is ondraaglik. Hy beur sy oë oop. Dit duur etlike minute voor die beelde in fokus kom. Dokter Bester se glimlag is eerste wat hy sien, dan Elizabeth. Sy het só gelyk op hul troudag. Die glimlag, die oë wat blink. Die geluk en liefde op haar hele gelaat.

“Alles het goed afgeloop, meneer Lakey,” praat die dokter, maar Dawid het net oë vir Elizabeth.

“Hoor jy, Dawid? Jy het ons kind se lewe gered.” Dawid glimlag flou om te wys hy verstaan en wink Elizabeth nader.

Dokter Bester lag toe Dawid sy getuite lippe na Elizabeth uithou.

“Ja-nee, mevrou Lakey. As ’n man wat pas uit die operasiesaal kom, kans sien vir vry, dan is hy al klaar halfpad gesond. Julle het my beslis nie hier nodig nie.”

Later kan Dawid bars van blydskap om sy kind weer te sien. “Pa . . .” fluister Craig opgewonde toe Elizabeth vir Dawid in ’n rolstoel langs sy bed instoot.

“Dankie, Pa. Pa het my lewe gered.”

“Ja, asseblief, onthou dit net voor jy in die toekoms stront wil aanjaag.”

Albei kreun van pyn toe hulle lag.

“Ek belowe ek sal,” sê Craig.

“O, my jinne!” Elizabeth slaan geskok haar hand oor haar mond.

“Dis vandag Vadersdag! Ons het skoon vergeet!” Sy kyk verskonend na Dawid. Nog elke jaar het sy en Craig vir Dawid behoorlik getreat. Craig lyk ewe afgehaal.

“Ag, nee wat, my dierbare vrou en seun. Hierdie jaar het God my die grootste geskenk van alle geskenke gegee. ’n Tweede kans. Kom ons bid en sê dankie.”

Terwyl Elizabeth God bedank vir die gawe van lewe en onbaatsugtige liefde, bid Dawid: “Here, dankie vir my kind en sy lewe. Nou bedank ek U dat U dit wou hê dat ek deel van my myself aan hierdie kind van my moet skenk. Nou is hy onlosbaar deel van my nes ons onlosbaar deel van U is. Vandag besef en verstaan ek volkome die waardigheid van vaderskap. Amen.”

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.