Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Nommer Veertien
27 Junie 2018

Help! Help!”

“Ag, bly tog stil, vroumens. G’n mens gaan jou hoor nie. Ons is alleen. Bly nou stil en doen wat ek sê dan sal jy niks oorkom nie.”

Die man wat uit die bloute in haar kombuis verskyn het, stamp haar verder die vertrek in. Colleen sluk haar skree en byt op haar tande. Sy kan hoor hoe klop haar hart en ’n groot knop woel in haar keel. Die man het haar nou aan haar hare beet. Die pistool teen haar slaap is koud. Die koue dring tot diep binne haar. Sy gesig, half verskuil onder sy hoodie, is ongemaklik naby. Gedwee bly sy staan, verstar van vrees.

“So ja, dis beter. Nou kan ons praat. Waar is die diamonds?”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” Colleen se mond is kurkdroog, maar sy wurg die woorde uit. “Waar is jou boyfriend?” “Ek het nie een nie.” “Ag, kom nou. Moenie met my speel nie. Ek weet en jy weet die diamonds is iewers in dié pozzie. Maak dit nou vir jouself maklik en wys my waar dit weggesteek is.”

Hy trek haar kop agtertoe aan haar hare en druk die pistool hard teen haar slaap. “Ek het regtig nie ’n boyfriend nie,” stotter Colleen vol angs. Trane loop oor haar wange en sy snik hard.

Colleen sluk haar skree en byt op haar tande. Sy kan hoor hoe klop haar hart en ’n groot knop woel in haar keel.

“Nou toe nou. Kyk wie draai die waterworks aan. Nee, Skattebol, moenie probeer slim wees nie. Ek weet jy het een en dis vir hom wat ek wag, want ek wil my share van die diamonds hê. Jy het ’n keuse. Jy gee my die goods en ek verdwyn of ons wag maar. Miskien kom my pêl huis toe. Hoe klink dit?”

“Ek het regtig nie ’n kêrel nie. Asseblief, gaan net. Ek sal vir niemand sê jy was hier nie.”

Hy kyk vir die eerste keer na die tafel Sy blik val op haar kos. Een glas wyn en ’n bord met hoender en slaai. Die man met die hoodie lyk vir ’n oomblik verward, maar sy een hand het steeds haar hare in ’n stewige greep vas. Sy aanraking laat Colleen ril. Sy het geen benul hoe hy ingekom het nie, sy het tog, soos elke aand, gesorg dat die deur ordentlik gesluit is. Dalk was hy reeds in die woonstel. Sy word nog kouer by die gedagte. Sy moet ’n plan maak om los te kom, maar haar kop staan stil van vrees. “Nee, so maklik is dit nie. Ek sal maar wag tot my pêl kom. Ons het hard gewerk vir daai diamonds en ek gaan nie my share opgee nie. Ek wil ook in so ’n pozzie bly soos dié.”

’n Gedagte flits deur Colleen se kop. Die woonstelblok is baie gewild onder jong mense. In nommer dertien bly juis so ’n deurmekaar jong man met lang hare, maar Colleen steur haar nie juis aan al die mense wat daar kom en gaan nie. Die ander woonstel langs hare, nommer vyftien, het onlangs ’n nuwe huurder gekry. Glad nie haar tipe nie al het sy skelm na sy groot spiere gekyk. “Watter nommer woonstel soek jy?”

“Nommer dertien.” “My woonstel is nommer veertien.”

Vir ’n oomblik is die man onkant gevang. Hy laat die pistool so effens sak. Colleen sien haar kans en trap hard op sy een voet. Die pistool wil-wil uit sy hand val, maar hy gryp dit dadelik weer ferm vas. Hy stamp haar dat sy teen die toonbank val. Die pyn skiet deur haar, maar sy byt op haar tande. Colleen se moed is nou laer as haar skoene.

“O, nee, Skattebol, so gaan jy nie wegkom nie en drop maar die slimpraatjies. Ek val nie daarvoor nie. Waar is die diamonds?” Sy gesig vertrek. “Laat my gaan, asseblief. Ek weet niks van woonstel nommer dertien nie, regtig.” Colleen se hande voel-voel op die toonbank agter haar. As sy net iets kan kry om mee te slaan . . .

Hy bekyk Colleen se gesig. Dit lyk asof hy vir ’n oomblik twyfel, haar dalk sal laat gaan. “Nee, jammer, Skattie. Jy het my gesien. Jy moet maar saam met my kom. Ons gaan in my pêl se pozzie wag. Netnou het jy rêrig ’n boyfriend wat hier opdaag.”

Hy sleep haar voordeur toe, probeer die slot oopkry, maar sukkel met een hand. Die pistool is nog stewig teen haar slaap. “Toe, maak oop jou dêm deur en maak gou!”

Colleen wonder weer hoe die man dan in haar woonstel gekom het as hy nie eens die slot kan oopmaak nie. Colleen steek haar hand na die deur uit, haal die skuifslot af en sluit die deur oop. Skielik vlieg haar voordeur oop. Colleen word uit die pad gestamp en sy val op haar sitvlak. In die deur staan haar buurman van nommer vyftien met sy pistool op die man in die hoodie gerig. Die skurk swaai vinnig sy pistool terug na waar Colleen op die vloer sit.

“So ja, Frankie, ek soek nou al lank na jou. Laat sak daai skietding. Die grappie is oor. Toe, laat sak dit of ek skiet jou vrek. Jy is nie eens werd om in ’n hof te verskyn nie.”

Frankie lig sy pistool hoër, rig dit op Colleen se held, maar dié het reeds met sy lang bene vorentoe gespring. Sy groot hand gryp Frankie se gewrig en gee dit ’n draai en Colleen verbeel haar sy hoor ’n kraakgeluid. Frankie se pistool val uit sy hand en sy bravade van ’n rukkie gelede is nou iets van die verlede. Haar oulike buurman sien die verwarring op haar gesig. Terwyl hy Frankie se hande agter sy rug boei, kyk hy na haar en knipoog. Vir ’n oomblik weet sy nie of dit regtig is wat sy gesien het nie.

“Toemaar, Juffrou, jy kan nou maar ontspan. Ek is van die SAPD se georganiseerde misdaad-afdeling. Ons is al lank agter hierdie mannetjie aan.”

Colleen voel of sy van verligting gaan flou word. Sy begin sommer huil. Sy kom nie eens agter dat Frankie deur ’n polisieman in uniform buitentoe gelei word nie. Sy is wel deeglik bewus van ’n paar groot hande wat haar versigtig aan die skouers ophelp. Sy kyk in sy gesig. Hy het die mooiste glimlag. Die man staan nou rustig na haar en kyk. Haar buurman met die groot spiere, het eintlik ’n onweerstaanbare glimlag ook.

“Toemaar, Colleen Pieters, jy kan nou ontspan, jy is veilig. Ek is jammer dat jy deur hierdie drama moes gaan. “Maar, hoe het jy . . . Julle geweet hy is hier?”

“Ons hou Frankie al ’n rukkie lank dop. Sy vriend het in nommer dertien ingetrek en ons het geweet dat hy een of ander tyd ’n besoek van Frankie sal ontvang. Wat ons nie op voorbereid was nie, was dat Frankie by die verkeerde woonstelnommer sal instap. Ek het ingestem om hierdie taak te aanvaar, want, sien, ek het al lankal ’n ogie op die nooi in nommer veertien.” Haar mond plooi in ’n tevrede glimlag. Lucky nommer veertien! Geen eensame etes meer vir haar nie! Sy kan haarself met hom sien. In sy sterk arms wat haar kan beskerm. Sy kan nou al sien hoe ’n diamantring aan haar ringvinger skitter.

WIL JY R750 VERDIEN?

E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn.

As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer, kry jy R750.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal  |  Lesersverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.