Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KORTVERHAAL: Omgee kos niks
11 Julie 2018

Dawn lê en luister vir enige teken van beweging van Kim se kamer af. Dis Woensdag, die eerste dag van die nuwe skooljaar en sy moet al agter Kim staan. Dít gaan nie deug nie. In Kim se kamerdeur roep sy na haar en draai om as Kim haar oë traag oopmaak.

“Dis tyd vir opstaan.” Sy wag nie tot Kim beweeg nie. Die feit dat sy graad tien moet herhaal, is natuurlik nie ’n lekker ding nie. Dawn kry egter die gevoel daar is meer as die druipery wat Kim pla. Sy het maerder geword, glimlag min en nie meer met haar oë nie.

Dan onthou Dawn iets. Een aand het Kim voor die televisie aan die slaap geraak en deurmekaar geprewel. Alles het eers onduidelik uitgekom, maar toe het sy vasgehaak by ’n naam Z Emily. Wie is die Emily? Is dit ’n ou skoolmaat of was daar meer tussen hulle? Dawn druk benoud haar oë toe. ’n Goeie ma sal haar dogter ondersteun. Faal sy vir Kim dat sy nog nie opgemerk het dat sy dalk in meisies belangstel nie? Toe sy later in die motor sit en Kim en die jongste, Kaylee, inklim, bedaar Dawn se gedagtes. Hulle laai vir Kaylee af. Dis stil in die motor toe hulle hoërskool toe ry. “Dit sal nie so erg wees nie,” moedig Dawn vir Kim aan.

“Hou op vir Mammie oor my bekommer. Ek is orraait.” Hoe kan sy wat Dawn is, nie bekommerd is oor haar oudste nie?

Wie is Emily? wil sy vra, maar swyg.

“Lekker dag,” skree Dawn agterna toe hulle stilhou en Kim na die skoolhek stap.

Met aandete is dit Kaylee wat nie uitgepraat kan raak oor haar skooldag nie. Kim kruip klein langs die tafel weg en Dawn se man, George, is in sy eie wêreld.

“Ons begin môre te swem, te oefen,” sê Kaylee met towerliggies in die oë.

“Nou al?” kreun Dawn. “Ek wil môre

rekeninge gaan betaal.”

“Ek sal na Kaylee by die swembad kyk,” bied Kim onverwags aan.

Dawn is verras. “Wonderlik! Jy red my.”

Kwart voor drie die Donderdag laai Dawn hulle voor ’n besige swembad af.

Twee ure later hou sy weer by die swembad stil, maar daar is geen teken van Kim en Kaylee nie.

’n Ambulans hou agter haar stil. Met ’n beklemde hart wonder sy of Kaylee dalk iets oorgekom het. Sy storm voor die paramedici by die ingang in. Verder langs die swembad staan ’n bondel kinders. “Laat dit net nie Kaylee is nie,” bid sy, maar dan kom Kaylee na haar toe aangehardloop.

“Mammie, Henry het in die swembad geval en Kim het hom gered!”

Eers dan merk sy vir Kim op in haar nat jeans en T-hemp. Henry se ma staan daar met rooigehuilde oë en kan nie ophou om vir Kim te bedank nie. Dawn prys haar kind sag.

In die motor soek Dawn gretig na ’n lig in Kim se oë. Sy is mos die heldin van die dag, maar sy sê niks. Miskien is sy te haastig, troos Dawn haarself, maar sy kon nie help om te hoop nie.

Dis net voor Dawn se etenstyd die Vrydag, dat sy ’n oproep by die werk van Kim se skool kry. Kommer kom sit haastig in ’n knop op haar maag. Sal sy so gou moontlik tot by die skool kom en vir Kim kom haal? vra ’n baie saaklike sekretaresse. Op pad skool toe wonder Dawn wat nou verkeerd kan wees. Die skool is rustig toe sy daar kom. In die voorportaal tref sy vir Kim en ’n ander leerder aan. Een van die leerder se oë is blou en pienk en dik opgeswel. Die sekretaresse kyk haar stuurs aan en sy weet onmiddellik Kim is die skuldige een.

“Die skoolhoof sal u nou sien,” sê die sekretaresse. Dawn is so kwaad vir Kim dat sy niks kan uitkry nie. Ná vyf minute maak die hoof sy verskyning en hulle almal gaan in die kantoor. Die hoof gee die leerder die geleentheid om te vertel wat gebeur het en sy skets ’n situasie waarin Kim nie eens behoort te gewees het nie.

“Hoekom het jy haar geklap, Kim?” vra Dawn ontsteld.

Dan vaar Kim uit: “Dis nie verlede jaar dat julle so vir Emily . . .” Sy stop skielik in die middel van die sin asof sy haar bedink.

“Emily. Wie is Emily, Kim?” vra Dawn, maar Kim kruip weer in haar dop. Die drif van ’n oomblik gelede daarmee heen.

“Aangesien daar geen onsekerheid is oor Kim se rol in die hele ding nie, sal ek u aanraai om haar eers huis toe te neem. Ek hoop dat Rolene se ouers nie ’n klag by die polisie sal maak nie. Ek sal u later laat weet oor Kim se straf nadat ek met die dissiplinêre komitee vergader het.”

“Hoekom, Kim?” vra Dawn toe hulle in die motor sit. Ons maak jou mos nie groot om ander mense se kinders te boelie nie.” Sy kry nie ’n reaksie nie en besluit dat dit beter is om dinge eers met George te bespreek.

Sê nou net dit was ek wat nie kon opstaan teen Rolene-hulle nie en die skool het dit netso gelos?

Ná aandete praat George ernstig met Kim. Dit lyk of sy na hom luister, maar sy wend geen poging aan om haarself te verontskuldig nie. Dawn is doodseker dit het alles met die Emily te make. Maar hoekom wil Kim nie net praat nie, dan sal sy kan verstaan hoekom sy nie meer belangstelling in die lewe het nie en ander mense se kinders aanrand.

“Ek moet môre iets wegneem. Gaan jy saam?” vra Dawn huiwerig en dink Kim gaan sekerlik nee sê.

“Jip,” antwoord Kim.

Miskien sal die tydjie saam maak dat Kim begin praat en haar vertrou.

Kaylee is ook oorgehaal om die Saterdagoggend saam te gaan. Dawn is bly oor haar gretigheid en op pad sit sy die radio hard en sing hulle Kaylee se gunstelingliedjies na hartelus saam. Kim sit met oorfone oor die ore.

Ná sy die dokumente afgee, stel Dawn voor dat hulle gaan vir roomys. Die idee is so reg in Kaylee se kraal en sy hardloop opgewonde vooruit in die mall toe hulle daar kom. Kim volg haar. Dawn kom agterna, want sy moet eers haar beursie soek. Maar dan staan Kim onverwags stil, want haar aandag is by ’n jongmeisie, ongeveer haar eie ouderdom, en ’n seuntjie wat pas by die skuifdeure uitgekom het. ’n Middeljarige vrou kom agter hulle aan met sakkies in die hand.

“Emily,” roep Kim na die meisie, wat haar rustig aankyk en met ’n vinnige

“hello” agter haar broertjie aanhardloop.

Dawn spits haar ore en gee meer aandag aan die onbekende mooi meisiekind met ’n brons velkleur en ligte hare in ’n poniestert. Ná ’n paar minute staan en kyk Kim hulle steeds agterna tot hulle tussen die motors in die parkeerterrein verdwyn. Ongeloof staan op haar gesig geskryf. En dan glimlag sy, maar dié keer bereik dit haar oë en dis asof haar hele gestel oortrek is met lig. Dawn trek liggies aan haar arm en hulle stap saam agter Kaylee aan.

“Wie was dit?” wil sy versigtig weet as hulle by ’n tafel in die restaurant sit.

“Rolene en haar kliek het vir Emily geboelie. Eendag het sy baie emosioneel na die meisietoilet gehardloop. Iets het net vir my gesê ek moet haar agtervolg. Ek het onder die deur die bloed op die toilet se vloer gesien. Sy was besig om haar polse te sny. Ek het teen die deur gehamer dat sy moet oopmaak. Sy wou nie. Ek het die opsigter geroep wat daar naby was en hy het haar sover gekry om oop te maak. Toe het ek vir die hoof en die sekkie vertel. Die sekkie het haar ma gebel en sy was baie vinnig daar. Emily se bloed het in ’n rooi streep van die toilet af tot by die hek gelê.”

Dan haal Kim eers asem.

“Ek was so ontsteld en het vir Rolene-hulle by die hoof verkla. Die bloedstreep is skoongemaak asof niks ooit gebeur het nie. Emily het nooit weer skool toe gekom nie. Daar het niks van die saak gekom nie. Toe Rolene nou die dag ’n nuwe leerder boelie, het ek so vinnig kwaad geword en haar geklap. Dié keer kon ek nie net weer toekyk nie,” vertel Kim.

Dawn is verras deur haar passie.

“Maar jy behoort te weet geweld los nie geweld op nie, Kim,” sê Dawn sag.

“Ek weet, Ma. Ek was bekommerd oor Emily. Sê nou net dit was ek wat nie kon opstaan teen Rolene-hulle nie en die skool het dit netso gelos?” pleit sy met glimmende oë.

Maar dan belowe sy vinnig: “Maar dit lyk asof sy orraait is. Ek sal volgende keer beter doen.”

“Moet nooit verskoning maak vir die empatie wat jy vir ander voel nie, Kim.”

Dan onderbreek die kelnerin hulle.

As hulle later terugry en Kim en Kaylee mekaar takel met die room van hul roompoffertjies, sê Dawn niks, want sy is net bly sy het haar kind teruggekry.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.