Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Sterker saam
30 Oktober 2019
Kortverhaal

Dis nou ’n maand vandat Candice uit Bokvallei Palmsteen toe getrek het, maar sy voel nog altyd verlore en eensaam. Sy mis haar ma wat gereeld by haar kom inloer het en sy mis ook vir antie Rita wat enige tyd by die voordeur sou inval om skinderstories aan te dra. Destyds het Candice haar ’n bietjie daarvoor vererg, maar nou is dit waarna sy smag. Enigiets wat net soos huis voel.

Daar is ’n klop aan die deur. “Hallo, ek is jou neighbour, Linda, ek bly twee huise van jou af. Ek . . . “Hallo, Linda. Ek is Candice.” “Ek wou al so lankal kom hallo sê, maar ek kry net nie my draai met my gestremde klong nie.” “Haai, nee. Dis mos orraait.” “Ek wil nog vir jou ’n tert gemaak het soos die mense op die TV, maar Dillon het gehuil vir die tennis biscuits.” “Nee, wat. Ek moet eintlik vir jou iets aanbied. Kom in.”

Linda maak haar arms wawyd oop en gee vir Candice ’n stywe drukkie. Candice kan voel dié is ’n opregte mens – iemand met wie sy ’n lang pad sal kan stap. Dit voel asof ’n hele paar kilo’s van haar seer en verlange in die vreemdeling se omhelsing wegsmelt. “Waarvandaan kom julle? Die number plate wat hier kom stop het, het ’n bok opgehad,” vra Linda toe sy op die enigste ander single bank teen die muur gaan sit.

“Ek kom van Bokvallei af. Ek moes hiernatoe trek vir werk. Die kinders is nog daaronder. Hulle kom einde van die jaar,” antwoord Candice. “Oh, ek sien. Nadat die skool gesluit het? Dis nog lank. Shame.”

“Mmm,” bevestig Candice. “Haai, sorry,” sê sy asof sy uit ’n dwaal wakker word. “Wat sal my breins so wegraak?” “My antie het altyd gesê dis die duiwel wat inkomkans soek as jy so wegraak in jou eie kop. Sê my, ken julle mense hier?” vra Linda en verwonder haar aan Candice se bruin oë wat so blink. “Niemand nie. Dis . . . Dis eintlik net ek wat hier is. Ek het vir ’n privaat kliniek gewerk, maar omdat daar nou ’n daghospitaal is, is van ons mense retrench. Ek is nog lucky om ’n transfer te kry.

“Maar dis mos malligheid. Dis mos nie reg nie,” sê Linda met ’n uitdrukking op haar gesig wat wys sy is reg om enigiemand nou lekker in te sê. “Ja, maar ek het nie ’n keuse nie. Ons is nie in ’n union nie en die kinders moet na gekyk word. Vyf kinders wil gevoed wees, jong.” Candice vou haar hande mismoedig in haar skoot.

“Kyk waar staan die tyd. Ek gaan weer vir jou kom visit. Ek kan nie so lank wegbly van Dillon af nie. Dis net sy suster wat daar is.” Linda skuifel-skuifel uit die bank. “Dis oukei. Dankie vir die inloer.” “Ek sien jou weer.”

Linda loop by die deur uit en sit weer Candice se sekuriteitshek op sy knippie. Sy weet hoe belangrik dit is om dít hier te doen. Verlede maand was ’n hele gesin in hul huis aangehou terwyl hulle rot en kaal besteel is.

Die jongens het g’n genade of respek vir ander se goed nie. Candice let vir die eerste keer op dat Linda moeilik loop. Dit het seker iets met haar gewig te doen, dink Candice eers. Maar toe besef sy, nee, dis Linda se een voet wat heel skeef is.

Ná daardie ontmoeting kan niemand vir Linda en Candice uitmekaar hou nie. Dis asof hulle net mekaar aanvul. Linda is daar vir Candice om haar leemte te vul vir haar familie en Candice staan vir Linda by in alles. Dis asof hulle harde bene moes kou om bymekaar uit te kom. Om regtig vir mekaar iets te beteken. Op ’n Saterdagmiddag loop Linda oudergewoonte by Candice se voorhek in.

Sy is ’n uur laat, maar sy moes vir haar dogter, Mandy, wag om haar broer te kom babysit. Dis Linda en Candice se ding om Saterdae dieselfde tyd centre toe te gaan en bee stings by Shoprite te koop wat hulle dan op die stoep te sit en eet. Dis hul destresser vir die week en een van Linda se enigste blaaskanse wanneer haar dogter haar ’n uur of twee kan aflos. Maar anders as gewoonlik kom Candice nie uit om haar te kry nie. “Candice,” begin Linda al by die deur praat soos sy aan die hek vat om dit oop te maak, “Jy is seker al ’n papie gewag vir my. Laat ons . . .”

Maar die woorde sit in Linda se keel vas toe ’n jong met ’n Red devils-mussie en rooi bandana om sy mond en neus, haar skielik aan haar T-hemp gryp terwyl hy sy mes dreigend voor hom uithou en wys sy moet verder inkom en kom sit. Candice kyk haar met pieringoë en ’n mond vol opwaslap aan. “Candiiiiice,” panic Linda.

Die twee vriendinne het al hoeveel keer beplan wat hulle in só ’n situasie gaan doen, maar nou is haar kop net sop. “Hou jou bek,” sê die een jong wat besig is om ’n DVD in ’n rugsak te prop. ’n Mens kan net sy evil, maar senuweeagtige oë deur die balaklawa sien. Linda word ook vasgemaak en ’n lap gevoer. Daar sit die twee vriendinne soos kiepie.

Een van hulle ’n slagoffer van die skelm jongens soos dié oor wie hulle die afgelope tyd gelees het. Kort voor Candice ingetrek het, was dit weer stil, maar dis asof hulle hul prooi mooi dop hou. Candice kan sien Linda gaan iets oorkom. Toe begin sy maar een van hul gunstelingliedjies so goed as wat sy kan met ’n vol mond te hum. Candice dink dis nie die tyd of die situasie om “Jaloersbokkie” in te hum nie.

Maar sonder dat sy dit weet, kalmeer dit haar. Dan kry sy gedagte wat sy en Linda altyd beplan het as die jongens hulle sou aanval. Danksy hul close vriendskap is dit amper asof Linda haar gedagtes lees en ook weet wat om te doen.

Stap een: Kyk watter een is die swakste en gebruik hom. Linda maak kermgeluide en die jong wat besig in om CD’s in ’n Shoprite-sakkie te gooi, gee haar ’n vuil kyk. “Wassit,” sis hy, druk die mes teen haar nek en haal die lap uit haar mond. “Ek moet pee. Ek is diabetic.” “Nou kom,” sê hy. “Wat maak jy?” spoeg die ander een vuur. “Sy moet pee.” “Oukei. Ek gaan die goed buite gaan sit. Bel vir Donovan en sê hy moet omkom met die kar,” sê Balaklawagesig en loop uit.

“Help my op, toe man. Ek kan nie opstaan nie.” Hy trek nog so vir Linda op en toe sy kaplaks op hom val. Hy lê en spartel nog, maar sy gô is uit. Sy skiet hom met die kop en daar pass hy uit.

Stap twee: Raak ontslae van hom. Sy sukkel om op te staan, maar sy kan nie. Dís die een ding waaraan hulle nie gedink het nie. Nou is dit Candice se beurt om te panic. Wat as Balaklawagesig die tweede load kom haal!

Stap drie, bevry almal en kom by die wapen uit. Linda krap in die jong se sak en vat sy mes. Sy beweeg en sny die ribbon los waaraan Candice se agterdeursleutels hang. Die agterdeur gaan oop en dan toe en Candice probeer vir Linda opkry, maar sy kan nie. Candice besluit sy moet aangaan met die plan. Sy móét nou improvise. Candice haal hul “noodgevalwapen” onder haar nou leë TV-kas uit en staan gereed soos hulle hoeveel keer al geoefen het. Sy staan tussen die TV-kas en die deur wat na die gang van die kamers en kombuis wys.

Maar nou, anders as ander kere, kan sy haar hart in haar ore hoor, haar mond is kurkdroog en haar palms nat. Dis hul een kans. Dis niks meer oefensessies nie of ’n “wag, laat ek weer probeer nie“. Sy moet nou daai krieket-bat swaai en daai jong in sy hel in slaan. Linda probeer nog uit die pad kom sodat Balaklawagesig haar nie sien nie, maar dis te laat.

“Wat de . . .” storm hy nader, maar hy maak dit nooit tot by Linda nie. Candice slaan hom ’n helse hou in die gesig. Harder as wat sy al ooit het in ’n oefensessie. Hy slaan net daar om met ’n bloedstreep oor sy gesig.

Stap vier, raak ontslae van die ander gemorste en kry hulp. Die twee skelms lê uit pype op die vloer. Candice omhels haar vriendin op die grond en help haar op.

Die trane stroom oor hul wange. In daardie oomblik weet hulle hulle kan enigiets saam aanpak, want die band wat hulle het, sal hulle deur alles dra. Candice weet al mis sy haar familie ver-skriklik baie het die Here haar met iemand geseën wat altyd aan haar sy sal wees. Linda weet al gaan sy deur diep waters het sy iemand wat altyd bereid is om te luister en te help. Nou weet hulle verseker – soms is water net so dik soos bloed

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.