Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Vergewe & onthou
9 Julie 2020

Einde is soms net so pynvol soos ’n begin. Beide moet oorwin word om bymekaar uit te kom. Geen ontsnapping van die lewe en sy versteekte storms nie. Soms tref dit jou wanneer jy dit die minste verwag en neem dit die wind uit jou seile. Om te groet is swaar, dink Andrea met nat oë terwyl sy haar gesin groet voor hulle na die kerk se jaarlikse byeenkoms vertrek.

Gewoonlik is sy saam met hulle, maar vanjaar is kanker by haar gediagnoseer en sy herstel van ’n gedeeltelike mastektomie. Hershelle kyk sy vrou teer aan. “Andrea, ons kom Sondag terug. Ek is lief vir jou.”

Hy omhels haar sag. Noah, hul 18-jarige seun wat ontluik het in ’n aantreklike jong man, kom met ’n case uit die huis en glimlag vir sy ouers. “Hy is voorwaar ons engelkind, Hershelle.

Sy geloof verstom my,” sê Andrea vir haar man terwyl hulle hom dophou waar hy die laaste bagasie inlaai. Albei se harte swel van trots. Noah is ’n vegter. Hy het leukemie oorwin as ’n kind en daarna sy hart vir God gegee. “Is Mammie seker ek moenie bly nie?” vra Noah soos hy aangestap kom.

Andrea se hart vermurwe. “Ek sal fine wees, my kind. Gaan en verlustig jou in die Woord,” antwoord sy hom met ’n sagte kyk in haar oë. Noah gee sy ma versigtig ’n drukkie en soen haar op haar wang.

Carly kom uit die huis geloop, haal haar headphones af en skud haar hare reg. Die glimlag op haar lippe strek tot by haar oë. Carly is tans die beste tiener-ballerina in hul streek en het al in dansvideo’s verskyn. “Mammie moenie vergeet van Mammie se medisyne in die badkamerkassie nie. En onthou om genoeg vloeistowwe te drink. Ek . . . ,” wil sy nog verder praat, maar Andrea omhels haar en plak soene op haar wange.

Carly is haar sonskynskind. Die een wat altyd seker maak hul almal is versorg. “Mammie, ek gaan weer terugkom,” lag sy en stap saam met haar ma na die motor waar haar pa en Noah al wag. Nadat hulle in die motor is, klim Hershelle uit en soen sy vrou.

“Kyk mooi na jouself en onthou ek en die kinders is lief vir jou. En ons is onmiddellik hier as jy ons nodig het,” groet hy haar nogmaals. Sy waai soos hulle wegry. Die dag bring sy in pajamas op die rusbank deur en besluit om hulle nie te pla nie. Die rit is lank en om ’n geestelike byeenkoms te lei, is ’n groot taak vir Her-shelle.

Sy kruip vroegaand in. Die nag skrik sy wakker van die dringende gelui van hul deurklokkie. Sy kyk deur die loergaatjie en sien die polisie daar staan.

“Vader, wat soek hulle die tyd hier?” fluister sy vir haarself en haar hart ruk in haar bors. “Jammer om te pla, mevrou Stevens. Mag ons asseblief binnekom?” vra een van die twee polisievroue. Andrea se bene voel swaar en sy knik verdwaas al voel sy in haar binneste sy moet hulle nie inlaat nie. Nadat almal sit, merk sy haar hande bewe.

“Mevrou Stevens ons kom na u met ’n slegte tyding. Ek is jammer ons moet u inlig dat u familie omstreeks 2:00 vanoggend in ’n ongeluk was. Al drie is op slag dood. Die ander bestuurder was vermoedelik dronk,” kom die woorde wat haar lewe vir ewig verander. Andrea voel asof sy sweef en êrens hoor sy ’n vreemde stem skree. Die stem raak al harder en sy besef dit is haar eie stem.

“Nee! Julle is verkeerd. Hulle is al in Natal! Nee, nie my familie nie!” skree sy, en die polisie ontbied ’n ambulans. Andrea voel deurmekaar en roep na haar gesin uit: “Hershelle! Noah! Carly!” terwyl hulle haar verdoof en dadelik hospitaal toe vat. Die dokter besluit om haar daar te hou vir verdere observasie, veral omdat sy nog herstel van ’n gedeeltelike mastektomie. Sy skud soos sy huil.

“Ek is hier en hulle is weg! Here hoekom my gesin? Vat my ook asseblief! Ek wil ook gaan!” Naderhand gaan sy so erg aan dat die dokter haar met ’n kalmeermiddel moet inspuit. Sy word die volgende dag ontslaan en Elna, haar man se sekretaresse, vat haar huis toe. Sy het nie ander familie nie. Hershelle en Andrea is weeskinders wat mekaar in ’n kinderhuis ontmoet het. Hulle het net mekaar gehad. “Andrea, ek is so jammer,” verbreek Elna die stilte toe hulle in Andrea se voorkamer sit.

“Ek verstaan jy wil seker alleen wees, maar die begrafnis moet gereël word en ek sal jou help,” sê Elna na aan trane. Andrea hoor wat sy sê, maar antwoord nie. Sy staan op en tel een van hul gesinsfoto’s op die TV-kas op. Die gesigte wat daaruit na haar staar, lyk so gelukkig en sy vryf oor die lyne van ’n vergete tyd.

“Elna, sal jy asseblief alles reël? Ek sal vir jou ’n program in ’n e-pos stuur. En as jy nie omgee nie, ek wil ’n bietjie alleen wees. Dankie vir alles,” sê sy uit die bloute en Elna knik instemmend. Lank nadat Elna weg is, sit Andrea nog met die foto. Lig word skemer en skemer word donker sonder dat sy dit agterkom.

“Ons is orraait, Mammie. Kyk na jouself,” sê Carly vir haar in ’n droom en sy skrik wakker met natgehuilde oë. Sy het op die bank aan die slaap geraak. Dis 23:00. Sy gaan badkamer toe en die koue water waarmee sy haar gesig was, stuur rillings deur haar lyf. ’n Vreemdeling staar terug toe sy in die spieël kyk. Een sonder ’n familie.

Die Andrea wat sy geken het, is weg en in haar plek staan daar ’n vrou met rooi, dik oë en ’n leë hart. Die volgende oggend lui die deurklokkie aanhoudend, maar Andrea ignoreer dit. Sy is nie lus vir mense nie. Die dae en nagte vleg inmekaar en al die herinneringe in hul huis begin haar druk.

“Kom, Mams. Kom pose hier vir ’n pic vir Instagram!” het Carly nog laas gesê voordat hulle ’n pragtige ma-en-dogterfoto geneem het. Hershelle sou saggies intree en seker maak hy kom ook daarin. Noah het foto’s gehaat en hulle moes met hom sukkel om selfs ’n familiefoto te neem. Een van daai kere wat sy hom gesoebat het om te doen, is nou hul begrafnisfoto.

Die Saterdag van die begrafnis besluit sy om ’n groot, donkerbril te dra vir die nuuskierige oë. “Ek is so jammer. Jy moet sê as jy hulp nodig het,” is van die simpatieke woorde wat sy ontvang by hul begrafnis, maar dit beteken niks vir haar nie. Sy voel om te skree. Niemand weet hoe ek voel nie, raas dit binne haar.

Haar traankliere is leeg. Ná die begrafnis sluit sy haar deur agter haar en gaan lê op die bank. Die moegheid oorweldig haar en sy sluimer in. “Andrea, belowe ons jy sal ons nie vergeet nie . . .” fluister Hershelle in haar oor. Sy skrik wakker en gaan na hul kamers. Êrens vind sy Hershelle se top en trek dit aan om sy geur te ruik. Noah se gehekelde kombers neem sy van sy bed af en gaan lê op Carly se bed daaronder. Die voorgeskrewe antidepressante waarmee sy uit die hospitaal ontslaan is, is op.

Om só te lê, word ’n patroon en dit help haar om rustig te word. Drie weke ná die begrafnis lui die deurklokkie en die herinnering aan daardie pynlike tyding laat haar trane meteens vloei. “Here, help my om sterk te bly asseblief,” uiter sy ’n stille gebed. Die dringendheid van die deurklok laat haar haar oë afvee.

Die oomblik toe sy oopmaak en die polisie sien, is dit soos déjà vu vir haar en haar oë blink van die ingehoue emosie. Dit voel asof haar moed haar wil begewe, maar sy se nietemin: “Kom in.” “Mevrou, ons kom u in kennis stel dat ons die beskuldigde vandag formeel aangekla het. Hy was in die hospitaal, maar is vandag gearresteer en is in aanhouding. Die hofverskynings sal binnekort begin,” sê die polisievrou. “Die gemors! Hy sal sien wat ek doen!” skree Andrea.

* Lees die slot in die uitgawe van 23 Julie 2020

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.