Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Wonderwerke
19 Februarie 2020


Sandra se selfoon lui. Dis Ben. Haar vingers bewe terwyl sy antwoord en dit teen haar oor vasdruk. “Ben waar is jy? Wat het gebeur? Waar is Noah?” Sy was in die badkamer en toe sy uitkom, sien sy net Ben hardloop by die voordeur uit en ’n kar wat vinnig wegtrek. Daar is soveel goed wat deur haar kop maal, sy vra meer as wat hy kans kry om te antwoord.

“Sandra … Sandra … Kan jy my hoor?” Sy stem klink ver weg en hy klink uitasem. “Ja, ek hoor jou. Wat gaan aan?”

Sy hou haar maag vas. Sy draai om en kyk in haar ma, Elizabeth, se gesig vas. Elizabeth staan by die deur van die babakamer en wag benoud oor wat volgende gaan gebeur. Die sein is sleg. “Ben . . .”

Sy loop van een hoek in die kamer na die ander, lig die foon op, maar steeds geen sein wat ’n verskil maak nie. “Ben, waar is Noah?” Sandra se hart sit in haar keel. Sy vryf oor haar voorkop en wag angsbevange vir ’n antwoord. Hoe kon haar baba net verdwyn het? “. . . vir Noah gevat . . .” Ben se stem slaan weg. “Ha? Ek hoor jou nie lekker nie.”

Dan hoor sy ’n geklap wat klink soos iets hard wat op die grond val, ’n geskreeu van ’n motor se bande weerklink in die agtergrond. Die foon slaan af. “Wat van Noah? Ben!” Sy val op haar knieë langs Noah se cot.

“Die hele ding voel nie vir my reg nie, maar hulle sal huis toe kom.” Elizabeth vou haar dogter in haar arms en probeer haar troos. Sandra en Ben het jare lank gesukkel om swanger te raak. Sy het vriende raad gegee en húlle het swanger geraak. Soms het sy gewens sy kon net in ’n gat kruip en nooit weer daar uit kom nie.

Almal se vrae oor “wanneer word julle swanger?” het haar soms siek gemaak. Sy het begin voel haar liggaam is niks werd nie – dat dit stukkend is en hul huwelik het daaronder begin ly. Ben is lief vir haar, sy weet dit, maar dit was asof daar iets missing is in hul lewe.

Die een ding wat hierdie tien jaar lange verhouding verder kon bind, die geboorte van hul eerste en seker enigste kind, het hulle bly ontwyk. En toe die skaam, mooi en jong Bianca so twee jaar gelede in hul lewe kom, het hulle weer die lig aan die einde van die tonnel begin sien. Twee weke gelede was dit die gelukkigste dag van Ben en Sandra se lewe.

Dit is die dag toe Bianca as hul surrogaat geboorte geskenk het aan hul Noah. Almal het haar vertel hoe hul lewe vir beter sal verander. Hoe sy nooit weer dieselfde na die lewe gaan kyk nie.

Dat sy en Ben closer as ooit sal wees. Maar niemand het haar daarop voorberei dat sy nie met haar kind gaan bond nie. Dat hy soos ’n vreemdeling in haar arms sal voel nie. Dat sy so geïrriteerd met hom gaan wees en wens sy het hom nooit gehad het nie, al is dit al wat sy eens op ’n slag wou hê. “Dis mý skuld,” verbreek sy die stilte nadat haar ma laas gepraat het.

“As ek net ’n beter ma was, sou hy nog hier gewees het. As ek maar net ’n ma was . . .” Sy loop op en af langs Noah se cot. Sy is vreesbevange en wonder of sy ooit weer haar kind gaan sien. Haar ma gee haar ’n tweede koppie sterk koffie aan.

“My kind, moenie jouself so afdruk nie. Dit kon met enigiemand gebeur het.” Elizabeth kan nie help om haar dogter jammer te kry nie, en sy wonder hoe sy met haar lewe sal aangaan as Ben en Noah nie huis toe kom nie. “Dit ís my skuld! Ek wou hom nie hê nie!”

Sandra skrik vir die woorde wat sy vir die eerste keer hardop skree. Die afgelope weke se warboel van emosies voel asof dit haar verswelg. “Dis omdat ek ondankbaar was.”

Daar is soveel dinge wat in Sandra se gedagtes afspeel. Sy wou net van hom af wegkom, maar nou wil sy net haar kind sien en vashou. Sy wonder of Noah se winde reg uitgevryf word omdat dit so moeilik uitkom. Sy wonder of hy na haar soek. Sandra haal swaar asem. Die gewig op haar bors wil net nie padgee nie. Sy vat ’n sluk van die koffie en staar na Noah se cot asof hy uit die niet gaan verskyn.

Sy kyk rond in die babakamer. Haar mond trek effens skeef en sy forseer ’n glimlag. “Ek en Ben het omtrent twee dae gevat om die kamer te verf.” Sy sug swaar en haal weer diep asem terwyl sy kyk na al die skoenlappers teen die muur. Die wiegstoel in die hoek aan die regterkant van die deur het sy seker al meer as tien keer geskuif om die regte look te kry.

“En julle gaan nog die kans kry om baie meer vir ons Noah te doen. Hou net moed.” Elizabeth se stem slaan skielik weg. Sy sien uit om haar kleinkind te sien groot- word. Haar hart klop skielik vinnig en sy storm by die kamer uit asof sy wil weghardloop vir die trane wat rol. Sandra gaan sit in die wiegstoel en sluimer in. Sandra skrik en spring op toe sy ’n kar buite hoor.

Elizabeth is klaar buite toe sy daar kom. Daar is geen teken van Noah nie. Voor Ben uit die kar klim, kyk hy ook nie agter in die kar nie. Sandra se lippe begin bewe en dit voel asof die wêreld begin draai. Sy hou haar kop vas. Elizabeth staan nader en kom hou haar hand vas. Ben lyk woes asof hy heeldag op ’n rollercoaster was. Sy hare is deurmekaar.

Sy gesig is vuil. Hy kom na hulle aangestap en iets beweeg onder sy jacket. Sandra let op dat sy bors baie vet lyk. En toe begin die roering weer. Elke haar op haar liggaam begin orent staan. Sy snak na asem met die besef wat dit kan wees. Toe hoor sy haar kind kerm. Sy sug van verligting en trane van blydskap rol oor haar wange. Ben maak die zip van die jacket los.

Sy kan amper haar oë nie glo nie. Ben het die kind ge-kangaroe voor sy bors met ’n dun kombersie. Sandra loop vinnig na hulle en maak versigtig hul baba los van sy lyf af. Noah gly liggies in haar arms in. Sy kyk op na Ben wat baie moeg lyk. Haar sagte glimlag laat haar man en ma ook glimlag. Ben en Sandra hou mekaar vas en kyk na hul kind.

“Dit was Bianca. Sy het hom gevat. Die polisie het haar nou. Ons moet so gou moontlik daar uitkom.” “Sy kan wag. My sonskyn is terug,” sê Sandra saggies terwyl sy ’n soentjie op sy voorkop plant. Sy voel ’n warmte wat oor haar kom. ’n Gevoel van onvoorwaardelike liefde en dat sy enigiets sal doen om haar kind te beskerm.

Sandra vryf oor sy neusie, netso rond soos hare. Sy ligbruin oë laat dit voel asof sy in sy pa s’n kyk. Noah draai sy koppie ’n paar keer voordat hy rustigheid kry in haar arms. Sy glimlag weer. Dis die mooiste wat hy sy vrou al ooit sien glimlag het, dink Ben

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.