Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kos: Alles wat jy nodig het vir jou Kerstafel
27 November 2019

Gemmerbrood- rolkoek 

Lewer 1 rolkoek

BESTANDDELE

Koek

  • 4 eiers, geskei
  • ¾ koppie strooisuiker (castor sugar)
  • 1 teelepel vanilla essence
  • ¼ koppie ongegeurde jogurt
  • ¼ koppie stroop
  • 125 g koekmeel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • ¼ teelepel sout
  • 1 teelepel gemaalde gemmer
  • ½ teelepel fyn kaneel

Vulsel

  • 1 koppie room
  • 2 eetlepels strooisuiker (castor sugar)
  • 1 teelepel vanilla essence
  • ½ teelepel fyn gemmer
  • ¼ teelepel fyn kaneel

METODE

Koek:

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n rolkoekpan met bakpapier en spuit met kleefvrye kossproei. Klop die eierwitte tot stywe punte vorm en hou eenkant. In ’n ander bak, klop die eiergele en suiker tot dik en ligter in kleur.

Voeg die vanilla essence, jogurt en stroop by. Roer die meel, bakpoeier, sout, gemmer en kaneel by die eiermengsel.

Vou versigtig die eierwitte by die beslag in. Giet die beslag in die gesmeerde bakplaat en bak vir 8 – 10 minute.

Sit ’n stuk bakpapier op ’n kombuisdoek. Sprinkel strooisuiker op die bakpapier en keer die koek daarop uit. Rol versigtig die koek saam met die doek op. Laat koel af op ’n draadrak.

Vulsel:

Klits al die bestanddele tot dik.

Samestelling:

Rol die koek oop en smeer dit mildelik met die vulsel.

Rol die koek weer versigtig van die een kant af op. Maak seker jy verwyder die bakpapier.

Smeer nog van die vulsel op die buitekant en versier met vars frambose (raspberries).

Lamsribstuk

Genoeg vir 4 – 6

BESTANDDELE

  • 1 hele lamsribstuk
  • Sout en peper na smaak
  • 1 koppie broodkrummels
  • ½ koppie pietersielie, gekap
  • 1 eetlepel roosmaryn, gekap
  • 1 eetlepel tiemie, gekap
  • 2 teelepels knoffel, gerasper
  • 1 eetlepel volgraanmosterd
  • 2 – 3 eetlepels olyfolie

METODE

Geur die vleis met sout en peper aan beide kante en masseer dit deeglik in die vleis.

Meng die broodkrummels, pietersielie, roosmaryn, tiemie, knoffel, volgraanmosterd en olyfolie en geur liggies met sout en peper. As die krummels nog baie los is, voeg dan nog ’n klein skeut olyfolie by.

Plaas die vleis in ’n gesmeerde oondskottel met die velkant na bo.

Skep die krummels daarop uit en druk deeglik vas.

Bedek die oondskottel met foelie en bak in ’n voorverhitte oond by 180 °C vir 45 minute. Verwyder die foelie van die skottel en bak vir nog 30 – 45 minute totdat die vleis deurgaar en die krummelkors bros en goudbruin is. Laat rus die vleis vir ’n paar minute voordat jy dit sny en bedien.

Ham met whiskey-en-heuning-glaze

/

Genoeg vir 6 - 8

BESTANDDELE

  • 1 groot ham
  • 2 koppies hoenderaftreksel
  • 2 koppies kookwater
  • 2 lourierblare (bay leaves)
  • 1 wortel
  • 1 ui
  • ¾ koppie whiskey
  • ½ koppie heuning
  • 1 teelepel suurlemoenskil
  • 1 teelepel volgraanmosterd

METODE

Plaas die ham, aftreksel, kookwater, lourierblare, wortel en ui saam in ’n groot pot.

Bring tot kookpunt en kook oor lae hitte tot die vel van die ham sag is. Jy behoort ’n tandestokkie in die ham te kan druk.

Haal die ham uit die pot, koel effens af en sny kepe in die vorm van diamante oor die hele oppervlak van die ham.

Kook die whiskey, heuning, suurlemoenskil en mosterd saam totdat dit stroperig is.

Verf die hele ham mildelik met die glaze en rooster by 190 °C tot goudbruin en klewerig. Laat effens rus voordat jy die ham sny en opdien.

Slipperham is lekker in dié resep. Jy kan dit ook vervang met gammon of varkboud.
/

Appel-bessie-en-okkerneutslaai


Genoeg vir 6 - 8

BESTANDDELE

Slaaisous

  • 3 eetlepels heuning
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 3 eetlepels suurlemoensap
  • 1 teelepel growwe mosterd
  • ’n Knippie sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai

  • 200 g gemengde slaaiblare
  • 50 g wilde roketblare
  • 2 appels, in wiggies gesny, pitte verwyder en liggies bedruip met suurlemoensap
  • 1 koppie okkerneute
  • ½ koppie gedroogde bosbessies (cranberries)
  • ½ koppie matured cheddarkaas, dun gesny (opsioneel)

METODE

Slaaisous:

Skud die heuning, olyfolie, suurlemoensap, mosterd, sout en peper goed saam in ’n glasflessie. Hou eenkant.

Slaai:

Rangskik die slaaiblare en roketblare op ’n opdienbord.

Rangskik die res van die bestanddele, behalwe die kaas op ’n bord. Net voor opdiening kan jy die kaas liggies oor die slaai breek. Bedien die slaaisous apart dan kan elkeen oorgooi na smaak.

Dit verhoed ook dat die slaai staan en pap raak wanneer dit deurdrenk is van slaaisous.

Aarbei-trifle

/

 ’n Eenvoudige, treffende middelpunt vir ’n vrolike somer Kerstafel.

Genoeg vir 8 – 10

BESTANDDELE

Victoriaanse sponskoek

  • 230 g botter by kamertemperatuur
  • 1 koppie suiker
  • 2 koppie koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • ¼ teelepel sout
  • 4 groot eiers, teen kamertemperatuur
  • 1 teelepel vanilla essence

Samestelling

  • ½ koppie sjerrie
  • 2 koppies room en 1 eetlepel suiker, styfgeklop
  • 1 koppie aarbeikonfyt
  • 1 l klaarbereide vla
  • 400 g vars aarbeie, opgesny (hou ’n paar heel vir bo-op)

METODE

Koek:

Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer twee ronde koekpanne met botter en voer met bakpapier. Klop die botter en suiker tot lig. Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n aparte bak.

Voeg een eier en ’n groot lepel van die meelmengsel op ’n slag by die bottermengsel en meng. Roer die vanilla essence by. Vou die oorblywende meel liggies in met ’n metaallepel.

Die beslag moet ’n druptekstuur het. Indien dit te styf is, roer 2 – 3 eetlepels warm water by tot jy die verlang-de tekstuur bereik.

Verdeel die beslag tussen die panne en bak vir 25 – 30 minute. Laat dit afkoel vir 5 minute, keer uit op ’n draadrakkie en koel heeltemal af.

Samestelling:

Halveer die koeke in die breedte en smeer mildelik met aarbeikonfyt. Sit een koek in ’n trifle-bak wat groot genoeg is. Sprinkel sjerrie oor die koek, skep room op, die vla en dan die aarbeie. Herhaal die lae en eindig met ’n laag room. Versier met die oorblywende heel aarbeie en mintblare. Verkoel totdat jy dit gaan bedien.

Worsie-in-’n-degie-kerskrans

/

Genoeg vir 6 - 8

BESTANDDELE

  • 1 rol blaardeeg (puff pastry), ontvries
  • 24 snoepworsies van jou keuse (cheese grillers is baie lekker)
  • 1 eier, geklits
  • 1 koppie tamatiesous
  • Roosmaryntakkies vir versiering

METODE

Rol die deeg oop op ’n meelbestrooide oppervlak. Sny die deeg in die lengte in twee lang stroke. Sny dan weer in die breedte in die helfte en elke helfte in drie stroke, sodat jy 24 blokkies deeg het.

Plaas ’n worsie op elke stukkie deeg met die kante van die worsies op die skerp punte en vou die ander twee punte na mekaar toe en druk vas. Die worsie se punte sal beide kante oop wees en die middel bedek met deeg.

Herhaal met al die worsies en deegvierkante. Sit ’n gesmeerde sirkel bakpapier op ’n bakplaat.

Pak die worsies in die deeg in ’n sirkel daarop om ’n krans te vorm. Verf dit met geklitste eier en bak by 180 °C vir 25 – 30 minute. Koel effens af en pak dit mooi op ’n opdienbord. Gooi die tamatiesous in ’n bakkie en sit dit in die middel van die krans.

Versier die krans met takkies roosmaryn.

Lemoen-geroosterde eend

/

Genoeg vir 6 - 8

BESTANDDELE

  • 2 koppies lemoensap
  • 2 koppies hoenderaftreksel
  • 2 koppies kookwater
  • ½ koppie sojasous
  • 1 koppie bruinsuiker
  • 6 kruienaeltjies
  • 2 heel steranyssade
  • 1 heel eend

METODE

Kook die sap, aftreksel, kookwater, sojasous, bruinsuiker, naeltjies en steranys in ’n diep pot. Sit die eend in die sous en prut met ’n deksel op vir omtrent een uur. Haal die eend uit en plaas dit op ’n draadrakkie.

Kook nou die sous sonder deksel op hoog totdat dit begin verdik. Voorverhit die oond tot 190 °C.

Verf die hele eend, binne en buite, mildelik met die dikkerige sous. Rooster die eend tot goudbruin terwyl jy heeltyd die eend bedruip met die sous. Bedien met slaai van jou keuse.

Koekiekersboom

Vir die resep gebruik ek ’n stel van nege koekiedrukkers in die vorm van sneeuvlokkies. Jy kan ook sterretjies of sirkels gebruik. Vir kleiner boompies, doen drie of vier groottes. Dan kan elke persoon aan tafel hul eie boompie kry. Of maak ’n groot boom as middelpunt vir jou tafel.

Kleur die helfte van die versiersel groen en al die koekies bo-op ook om dit meer soos ’n boom te laat lyk.

BESTANDDELE

Koekies

  • 2½ koppies koekmeel
  • ½ koppie bruinsuiker
  • ½ koppie witsuiker
  • 2½ teelepels fyn gemmer
  • 1½ teelepels fyn kaneel
  • 1¼ teelepels bakpoeier
  • ½ teelepel fyn neutmuskaat (nutmeg)
  • ¼ teelepel fyn naeltjies
  • ¼ teelepel sout
  • ½ koppie botter
  • 1 groot eier, teen kamertemperatuur
  • ¼ koppie stroop
  • 1¼ teelepels vanilla essence

Versiersel

  • 1¹/3 koppies versiersuiker (icing sugar)
  • 1 eierwit
  • ½ teelepel suurlemoensap

METODE

Koekies:

Plaas al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker en pols liggies totdat die deeg bymekaarkom. Verdeel deeg in twee stukke, druk elke stuk plat en plaas tussen twee velle bakpapier.

Rol uit tot ½ cm in dikte en verkoel in die yskas vir minstens 30 minute. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bedek ’n bakplaat met bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei.

Gebruik koekiedrukkers in ’n reeks van groottes en druk minstens een van elke grootte uit. As die deeg dit toelaat, druk twee van elke grootte uit. Bak in die voorverhitte oond vir 8 – 10 minute.

Laat die koekies afkoel vir drie minute op ’n bakplaat en pak dit op ’n draadrakkie.

Versiersel:

Meng die bestanddele vir die versiersel en skep in ’n spuitsak. Knip ’n baie klein gaatjie aan die punt van die spuitsak.

Samestelling:

Bou nou jou boom. Begin by die grootste koekie, spuit versiersel in die middel en sit die volgende een bo-op. Herhaal totdat jy eindig met die kleinste koekie. Gebruik die versiersel as gom om jou boom te versier met balletjies of om patrone op die boompies te teken.

WENK : Dié gereg is ewe lekker warm of koud.
Meer oor:  Kersresepte  |  Kuier  |  Resepte  |  Onthaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.