Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kos oor kole: Maak disse uit Jan Braai se boeke
17 September 2020

GRIEKSE BRAAIBROODJIE

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 1 sopie olyfolie (plus ekstra om die brood mee te bedruip)
  • 1 groen soetrissie, gesny
  • 1 rooi-ui, gesny
  • 8 snye witbrood
  • ½ koppie olywe, ontpit en gehalveer
  • 2 skywe fetakaas, gekrummel
  • 1 koppie beleë cheddarkaas, gerasper
  • 2 groot tamaties, gesny
  • Varsgemaalde sout en swartpeper
  • 1 sopie vars origanum

METODE

Verhit die olie in ’n pan en soteer die soetrissie en ui totdat hulle sag en gekaramelliseer is. Dit sal omtrent 15 minute neem, so wees rustig.

Bedruip al die snye brood aan die een kant met olyfolie (die geoliede kante sal die buitekante wees). Sit die helfte van die snye brood, geoliede kant onder, op ’n bord en pak die olywe, gebraaide uie en soetrissie, fetakaas, cheddarkaas en tamatieskywe in lae daarop.

Geur met sout en peper en origanum. Bedek met die ander snye brood, die´ keer met die geoliede kant na bo, en braai in ’n toeklaprooster oor medium hitte tot die brood gerooster en die kaas gesmelt is.

WENK:

Al is komkommer deel van ’n Griekse slaai, is hy nie welkom in dié braaibroodjies nie. Bedien dit eerder as garnering langs die broodjies. ’n Regte Griekse slaai het ook nooit slaaiblare in nie, so jy hoef nie daarvan in die braaibroodjies of langsaan te sit nie.

Behalwe vir die komkommer bevat die braaibroodjies al die bestanddele van ’n braaibroodjie e´n ’n Griekse slaai. Dit smaak baie lekker, is veeldoelig en steek ’n selderystokkie voor daardie onaangeraakte slaaibakke by die braai.


HOENDER MET JAMAIKA JERK-MARINADE

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • Omtrent 1,3 kg hoenderstukke (of varktjops)
  • 2 sopies plantolie
  • 2 sopies vars lemmetjiesap (of suurlemoensap)
  • 2 sopies donker rum
  • 3 Scotch bonnet chillies (of habaneros), stingels uitgehaal en fyngekap
  • 4 sprietuie (spring onions), fyngekap
  • 1 sopie vars knoffel, fyngekap
  • 1 sopie vars gemmer, gerasper
  • 1 sopie vars tiemie, fyngekap
  • ½ sopie gemaalde wonderpeper (allspice)
  • 1 sopie donkerbruinsuiker
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel swartpeper

METODE

Sit al die bestanddele (behalwe die vleis) in ’n marineerbak en meng deeglik. Voeg die vleis by en vryf dit met die marinade. Maak seker al die stukke is ordentlik bedek.

Maak die bak toe en sit dit vir ’n paar ure in die yskas. Haal die vleis uit die marinade en braai oor medium-warm kole tot dit reg is. Varktjops sal 10 tot 15 minute neem oor medium-warm kole.

Vir hoender moet jy die rooster effens hoër stel. Hoender neem tussen 20 en 25 minute. Die marinade wat ons gebruik laat die vleis nogal donker raak al brand jy dit nie, so moenie skrik nie. Braai nogtans versigtig, want daar is ’n risiko dat die marinade kan brand.


T-BEEN-STEAK MET BRANDRISSIEBOTTER

Genoeg vir 10

BESTANDDELE

  • 250 g botter teen kamertemperatuur, sag, maar nie gesmelt nie
  • 2 vars brandrissies (of 1 teelepel brandrissievlokkies), fyngekap
  • 1 teelepel rooipeper (of peri-peri-poeier)
  • 1 teelepel paprika
  • 1 sopie pietersielie, fyngekap
  • 1 teelepel suurlemoensap
  • 1 teelepel growwe sout
  • ’n Draaisel swartpeper
  • 1 T-been-steak per persoon

METODE

Vir die speserybotter gebruik jy ’n elektriese klitser, voedselverwerker, of ’n houtlepel en jou spiere om al die bestanddele (behalwe natuurlik die steak) te klop/klits/verwerk tot deeglik gemeng.

As jy deftig voel, kan jy die mengsel op ’n lagie kleefplastiek of olievaste bakpapier uitskep en in ’n staaf rol. Draai die punte toe (soos ’n Kersklapper s’n) en bêre in die yskas tot jy dit nodig het.

As jy minder deftig voel, kan jy bloot die sagte botter in die bak los waarin jy dit gemeng het en dit later met ’n teelepel uitskep. Braai die T-been-steaks vir tussen 8 en 10 minute oor baie warm kole; draai hulle net een keer om.

Onthou, as jy wonder of jou kole warm genoeg is, is hulle nie! As jy wonder of jou steaks te dun gesny is, is hulle! Voeg sout by voor, tydens of ná jy braai, dis jou keuse.

Al behoort jy die steaks net een keer om te draai, kan jy, danksy ’n T-been se vorm, nog een toertjie met hom doen: Jy kan hom regop neersit sodat hy vir die laaste paar minute oor die kole op die plat been staan.

Die agterkant van die been skroei nogal maklik swart, maar dis nie ’n probleem nie, want jy gaan nie die been eet nie. Sodra die steaks klaar gebraai is, sit jy hulle op ’n opdienplank of sommer dadelik op elke gas se bord.

Sit ’n skyf koue brandrissiebotter (of ’n teelepel van die sagte brandrissiebotter) op elke steak sodat dit kan smelt en intrek terwyl die steak ’n paar minute lê voordat julle weglê.

WENK: As jy van harde brand hou, gebruik meer fyngekapte brandrissies of brandrissiepoeier in die botter.

GEBRAAIDE SOETRISSIESLAAI

Genoeg vir 4

BESTANDDELE

  • 3 soetrissies (1 rooi, 1 geel, 1 groen)
  • ½ koppie pampoensaad
  • 200 g baba-spinasieblare (dis nie ’n eksakte wetenskap nie; gebruik meer blare as jy van groenigheid hou)
  • 1 blikkie kekerertjies, vloeistof afgegooi en onder koue water afgespoel
  • 1 rooi-ui, dun gesny
  • 1 koppie ontpitte olywe
  • ’n Paar basiliekruidblare (basil), opgeskeur
  • 200 g fetakaas, vloeistof afgegooi
  • 2 sopies olyfolie
  • 1 suurlemoen se sap
  • 2 sopies balsemieke asyn
  • Varsgemaalde sout en swartpeper

METODE

Pak die soetrissies op ’n rooster, of ryg hulle op ’n sosatiepen en hou hulle oor die kole totdat hulle alkante swart is. Jy sal hulle elke nou en dan moet draai om al die kante aan die vlamme bloot te stel. Sodra hulle alkante swart is, sit die soetrissies in ’n plastieksak, maak hom toe en los hom vir 20 minute om af te koel.

Terwyl jy wag, rooster die pampoensaad in ’n droë pan op ’n warm vuur vir ’n paar minute. Jy sal ’n paar van hulle hoor spring. Haal hulle dadelik uit die pan en laat hulle iewers veilig rus, soos in ’n bak, bord of beker.

Trek die skille van die soetrissies af (hulle sal maklik afkom) en sny hulle oop. Krap al die grillerige binnegoed en pitte uit, en sny dan die vleis in groterige stukke. Hier en daar sal ’n stukkie geskroeide skil op die vleis agterbly. Dis heel aanvaarbaar en is deel van die uiteindelike geur.

Sit die spinasie in ’n bak en gooi die soetrissiestukke, kekerertjies, ui, olywe en basiliekruid by, en meng alles saam. Strooi die geroosterde pampoensaad en die gekrummelde feta-kaas oor die slaai.

Gebruik goeie Suid-Afrikaanse olyfolie, suurlemoensap en balsamiese asyn as jou slaaisous, en geur met sout en peper.


GEVULDE BOTTERSKORSIE

Genoeg vir 2

BESTANDDELE

  • Botterskorsies (butternuts)
  • Vulsel van jou keuse (sien hieronder)
  • ’n Rol foelie

Vulsel (kies een)

  • Roomspinasie en sampioene (braai sampioene en spinasie liggies in ’n pan en meng dit met roomkaas)
  • Knoffel- en kruiebotter (meng knoffel, kruie en botter)
  • Uie, soetrissie en feta (braai uie en soetrissies in ’n pan en meng dan met gekrummelde feta)
  • Suikermielies (sny net die blikkie oop)

METODE

Moenie die botterskorsies skil nie! Halveer elke botterskorsie in die lengte met ’n groot, skerp mes. Vat ’n lepel en krap die pitte en draderigheid uit die binneholte. Laai die holtes met die vulsel van jou keuse.

Draai elke gevulde botterskorsiehelfte styf in foelie toe en pak hulle op die kole aan die rand van jou vuur se hittesone. Pak ’n paar kole om of bo-op elke botterskorsie.

Om hulle eweredig gaar te kry, draai die botterskorsies elke nou en dan om sodat die ander kante kole toe kyk, of skuif die kole rond. Hulle is gaar wanneer die botterskorsie se vleis onder die foelie meegee as jy met ’n braaitang daarop druk.

Dit behoort omtrent 40 minute te neem. Anders kan jy ’n mes deur die foelie steek; as hy maklik ingaan, is hulle reg. Elke gas kry ’n halwe botterskorsie en kan self die foelie oopvou om te sien en te ruik hoe die aromatiese stoom ontsnap.


VARKTJOPS MET PRUIMSOUS

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

  • 2 sopies botter
  • 2 uie, fyngekap
  • 500 g pruime, in die helfte gesny en pitte uitgehaal
  • 1 kaneelstokkie
  • 1 steranys (heel)
  • 2 naeltjies
  • 2 koppies rooiwyn
  • ½ – 1 koppie suiker (afhangend van hoe soet jou pruime is)
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel swartpeper
  • Varklendetjops (2 per persoon)

METODE

Sous:

Verhit die botter, voeg die uie by en braai tot sag en blink, maar nie bruin nie. Voeg die pruime, kaneel, steranys, naeltjies, wyn, suiker, sout en peper by.

Sit die deksel op en laat prut oor medium-lae hitte vir omtrent 1 uur. Roer elke 10 – 15 minute.

Die pruime behoort heeltemal sag te kook en in ’n dik sous te verander.

Hou die vuur dop, want die potjie sal droogkook as die hitte te erg is. Jy hoef nie die sous warm te bedien nie, so jy mag dit tot kamertemperatuur laat afkoel.

Tjops:

As dit jou pla, sny die oortollige vet van die tjops af, maar los ’n dun, eweredige vetlagie. Vryf die tjops in met tuisgemaakte braaisout of geur met sout en peper. Maak hulle toe en los in die yskas tot jy reg is om te braai.

Braai oor warm kole vir omtrent 12 minute totdat die tjops medium is.

Draai die rooster gereeld om. Varklendetjops behoort medium bedien te word. Wanneer jy op jou bord daaraan sny, moet net deurskynende sap uitloop, niks pienk of rooi nie. As die interne temperatuur van die dikste dele 70 °C is, dan is die vleis medium.


PERSKES IN PORT

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

  • 8 vars perskes, geskil, maar heel met die pit nog in 
  • 8 swartpeperkorrels 
  • 2 kaneelstokkies
  • 2 steranys

METODE

Skil die perskes. Gooi al die bestanddele, behalwe die perskes en roomys, in die potjie. Verhit en roer totdat al die suiker opgelos het. Voeg die heel perskes (wat klaar geskil is) by die potjie, sit die deksel op en kook vir 30 minute totdat die perskes sag en soet is.

As dele van die perskes bo die port-mengsel uitsteek, kan jy jou skoon braaitang gebruik om hulle ná die eerste 15 minute om te draai. Skep die perskes uit in poedingbakkies. Met die pot oop, gee die potjie meer hitte en laat kook en verdik tot jy net genoeg sous het om tussen die 8 poedingbakkies te deel. Sit die perskes saam met roomys voor en giet die sous daaroor.


WILDSOSATIES

Genoeg vir 8

BESTANDDELE

Marinade

1 sopie olie

2 uie, fyngekap

1 sopie matige kerriepoeier 

1 teelepel borrie 

1 koppie gewone bruinasyn 

450 g fyn appelkooskonfyt 

1 bottel blatjang (standaardgrootte) 

8 wonderpeperbessies (allspice)

3 naeltjies

½ sopie sout

1 heel kaneelstokkie 

Samestelling 

2 kg ontbeende wildsvleis (koedoe, gemsbok, springbok, ens.), in blokkies gesny 

250 g gedroogde perskes 

250 g gedroogde appelkose 

1 pakkie streepspek, in vierkante so groot soos die vleisblokkies gesny 

METODE

Marinade: Verhit die olie in ’n potjie op die vuur of ’n pot op die stoof en braai die uie ’n paar minute daarin. Voeg dan die ander bestanddele by. Roer deeglik, kry dit aan die kook en laat dit vir so 10 minute prut.

Haal die marinade van die hitte af en laat dit ’n uur of twee afkoel tot kamertemperatuur. Gooi dit in ’n groot bak en voeg dan die vleis by. Maak die bak toe en laat die vleis vir minstens 12 uur in die yskas marineer, maar verkieslik vir 2 of 3 dae. Roer die vleis elke 8 – 12 uur om seker te maak elke blokkie het alkant ordentlik kontak met die marinade gehad. 

Samestelling: Sit die sosaties aanmekaar deur die vleis saam met die blokkies spek, perskes en appelkose op sosatiepenne te ryg. Braai die sosaties vir omtrent 12 minute oor medium-warm kole en stel jou rooster redelik hoog. Die suiker in die marinade, perskes en appelkose kan gou brand, so vat dit rustig met die hitte.

Meer oor:  Braai  |  Jan Braai  |  Kuier  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.