Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Kry hulp as weer jou pla
7 Augustus 2019
Michelle Bloem


Elke jaar tref die sogenaamde “winter blues” talle mense, maar dit gaan oor baie meer as om net ’n bietjie af te voel. Dit kan baie ernstiger wees as wat jy dink.

Seisoenale gemoedsteuring (sea­sonal affective disorder of SAD) is ’n siekte wat mense, wat gewoonlik normaal funksioneer, elke jaar dieselfde tyd tref met depressie-verwante simptome. Hoewel die meeste lyers in die winter deur SAD getref word, is daar ook mense wat in die somer daaraan ly.

Wanneer SAD by mense voorkom, word daar baie keer na familiepatrone gekyk. ’n Familiegeskiedenis van gemoedsteuring, alkoholmisbruik en SAD in ander familielede toon dat dit dikwels ’n oorerflike sindroom is.

Die feit dat daar minder natuurlike sonlig in die koue seisoene is, is die hoofoorsaak van die winter blues en ook die meer ernstige SAD. Minder sonlig op ons vel (ons kry vitamiene D van sonlig en dis belangrik in die maak van die goedvoel-neurotransmitter, serotonien), het tot gevolg dat daar minder serotonien afgeskei word. Dit veroorsaak ’n versteuring in ons liggaam se slaap- en wakkerbly-siklusse en ’n verandering in melatonien, ’n hormoon wat geassosieer word met beide ons buie en slaappatrone.

Wanneer ons op hierdie gebiede probleme ondervind, beïnvloed dit ander areas in ons lewe negatief. Jy voel dalk minder gelukkig in jou lewe en jou werk en verhoudings kan daaronder ly.

As jy simptome van depressie ervaar, is dit tyd om met 'n dokter te gesels.

Tref só voorsorg: 

1. Ken die simptome.

Die algemeenste simptome is ’n algemene depressiewe gevoel en ’n tekort aan energie. Slapeloosheid, geen motivering om inisiatief te neem nie en om minder sosiaal as gewoonlik te verkeer, is ook tekens. Nog tekens is wanneer jy belangstelling verloor in aktiwiteite wat jy geniet; wanneer jy jouself van vriende en familie begin isoleer; as jy sukkel om tuis of by die werk te fokus en konstant moeg voel; geen hoop het vir die toekoms of selfmoordgedagtes het.

2. Moenie jou simptome ignoreer nie.

As jy simptome van depressie ervaar of net nie soos jouself voel nie, is dit tyd om met ’n dokter te gesels. Die dokter sal ’n bloedtoets doen om jou vitamiene D-vlakke te toets of selfs ’n volledige bloedtelling om vas te stel wat fout is.

3. Kies ’n behandeling wat vir jou werk:

* Die eerste stap is so eenvoudig soos om soveel moontlik sonlig te kry. Gaan stap in jou etensuur of speel met jou kinders in die park, maak tuin en doen soveel moontlik buite in die son. Deur jou lyf aan natuurlike sonlig bloot te stel, sal dit die serotonienproduksie in jou brein verhoog en jou bui verbeter.

* Probeer ligterapie. Dis waar natuurlike sonlig nageboots word. Dit kan help om melatonienvrystelling te reguleer.

* Oefening is ’n sterk teenvoeter vir depressie en navorsers verwys na oefening as die natuur se antidepressant. Oefening help om serotonien en endor­fien te vermeerder en sal ’n positiewe verskil in jou gemoedstoestand maak.

* Kognitiewe gedragsterapie is ook ’n effektiewe behandeling en behels dat jy oplossings vir jou probleme kry deur jou denk- en gedragspatrone te verander.

* Antidepressante is die laaste uitweg om chemiese wanbalanse wat deur depressie veroorsaak is, teen te werk.

4. Handhaaf ’n gesonde en gestruktu­reerde leefstyl deur ook ’n roetine in die koue maande te volg. Dit help om jou hormone te balanseer en jou buie te reguleer. Gaan slaap en staan elke dag dieselfde tyd op.

* Eet gereeld. Vermy te veel stysel en suiker. Eet genoeg proteïene, vrugte, groente, volgrane en gesonde vette.

* Maak planne met vriende en familie en hou daarby. Maak ook tyd vir jouself en die aktiwiteite wat jy geniet.

* Fokus op die positiewe dinge in jou lewe en skryf die dinge waarvoor jy dankbaar is, neer.

* Praat met mense wat vir jou omgee oor hoe jy voel en ruil stories en wenke uit met mense wat in ’n soortgelyke situasie is.

* Net omdat die winterweer veroorsaak dat ons meer tyd binne moet spandeer, beteken nie dat jy nie pret tuis kan hê nie. Beplan ’n fliekaand saam met vriende of begin ’n interessante stokperdjie. Maak ’n lys van dinge wat jy geniet om binnemuurs te doen.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.