Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kry waarde vir jou geld
17 April 2019

Verlede jaar sou ons reünie gehou het. Die matrikulante van Hoërskool S.A. van Wyk in Springbok se Klas van ‘98. Die logistiek was egter te moeilik om almal in diaspora op ’n gegewe tyd in Namakwaland te kry.

Dit is maar hoe dit gaan met plattelandse dorpe en hul kinders. Wanneer jy klaar is met die skool kies jy koers êrens waar daar werk is. Of jy gaan studeer in die hoop dat jy eendag kan teruggaan en terugploeg in jou gemeenskap, maar sommige, ek ingesluit, het nooit permanent teruggegaan nie. So my matriekafskeid was eintlik ook my afskeid van Namakwaland, sonder dat ek dit nou eintlik geweet het. Maar ek het so seker gemaak dit is die beste party wat ek, tot en met daai tyd, in my lewe gehad het.

Jy sien, dit het Desember 1997 begin. Omdat jy weet jy is volgende jaar ’n senior, besluit jy reeds waar jy die volgende jaar in die bus gaan sit. Dis eresitplekke, gereserveer net vir standerd tiens.

Die skooljaar het met verskeie struikelblokke begin. Diegene wat nie meisies gehad nie, moes begin planne maak om partners te kry. Dit was ’n senutergende proses vir baie, maar vir my was dit effens makliker, want my meisie Z vandag my vrou Z was saam met my in die klas!

Briewe is geskryf en herskryf, net vir die moed om die skrywer te begewe op daai oomblik wanneer die brief afgegee moes word. Een vriend van my het sy moontlike afskeidsmaat verloor omdat hy die datum vir hul eerste afspraak verkeerd gekry het. Hy was ten minste ’n week laat.

Die outfits was volgende. Ek kan nie eens onthou wat die styles was nie, maar as ek so na die foto’s kyk, moet ek eerder praat van die afwesigheid van styl.

Sonder om prekerig te klink, dink ek ouers sal beter doen om geld weg te sit.
Brenden Ruiter

In daai tyd het ek myself as kunstig gesien en toe die manne begin praat van by Markham en Edgars klere koop, het ek besluit ek gaan my eie baadjie ontwerp. Die idee was dat dit bietjie militêr lyk, maar ook sprankelend soos wat die aand vereis het. As ek nou daarna kyk, kan ek onomwonde sê ek moes nooit my hand aan ontwerp gewaag het nie. Die ouens wat hul klere gekoop het, het baie beter as ek gelyk. So erg was dit dat iemand gesê het ek lyk soos ’n Kersboom met die bottelgroen materiaal en die goue strepe.

En dít is waaroor ek eintlik wil gesels. Vandag wonder ek hoekom ek dit aan my ouers gedoen het om hulle te laat betaal vir sulke duur snert. Ek kan nie onthou wat die waarde was nie, maar vir daai tyd was dit seker ’n aardige bedrag vir ’n baadjie wat ek een keer gedra het.

Nou ek wil die volgende som doen vir laaities wat eersdaags op hul ouers se senuwees gaan werk oor duur matriekafskeidklere. Gestel my hele outfit Z dit sluit ’n paar diksoolskoene in (dit was glo fa­shion) Z het R3 000 gekos. As my ouers daai geld gevat en dit in ’n rentegewende rekening gesit het, sou ek vandag meer as R70 000 kontant gehad het. Met daai bedraggie sou ek voorwaar ’n paar gate kon toestop. Ek wil nie sê kinders moenie goed lyk op hul afskeid nie, maar ek dink dit raak belaglik as ek lees en hoor hoeveel ouers spandeer op matriekafskeide. Dis ontwerpersklere en -skoene, die huur van duur motors en die voorparty. ’n Kollega van my is tans besig om te beplan aan haar dogter se afskeid in Oktober en volgens haar berekeninge gaan dit haar R20 000 uit die sak jaag!

As gemeenskapsjoernalis in gebiede waar dit minder goed gaan, het ek al gesien hoe ouers hulself tekort doen om seker te maak hul kinders kry die beste afskeid. Dit is dieselfde ouers wat nie dieselfde moeite insit wanneer daar vir die eindeksamen geleer moet word nie. Sonder om prekerig te klink, dink ek ouers sal beter doen om geld weg te sit vir ’n matrikulant se studies as om geld op oorbodige afskeide te mors.

“Wat van groepsdruk?”, mag jy dalk vra. Ek erken dit is een van die grootste probleme wat tieners vandag in die gesig staar. Gaan ek koel genoeg lyk? Maar ek wil jou vandag waarsku dat jy 20 jaar van nou af nie so goed gaan lyk op daai foto’s nie. Vra vir my, ek het soos ’n Kersboom gelyk.

Meer oor:  Kuier  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.