Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuier-coach: Bou só beter verhoudings
23 Julie 2020
Michelle Bloem


Alle mense het dieselfde basiese behoefte aan liefde en om te behoort, daarom is goeie menseverhoudings een van die basiese boustene vir sukses in dié lewensareas.

Ons waardes – dit wat ons as belangrik ag in die lewe – is so uniek soos ons vingerafdrukke en wat jy as liefde of sukses beskou, mag verskil van die mense om jou. Een manier om hegter verhoudings te bou, is om uit te vind wat ander mense se waardes is en hoe hulle daardie waardes definieer.

In die boek The five love languages bespreek die skrywer hoe mense liefde verskillend vertolk: Party mense sien woorde en ander dade of geskenke as ’n liefdestaal. As jy dus kan uitvind hoe ander mense hul waardes vertolk, kan jy hul waardes op daardie vlak aanspreek om te wys dat jy insien wat vir hulle belangrik is en só ’n spesiale konneksie maak. Dit beteken nie jy gee jou eie waardes op nie.

As ons politieke, godsdienstige, morele en etiese sienings baie van iemand anders s’n verskil, sal ons sukkel om met hulle klaar te kom. Gewoonlik skaar ons ons dus by die mense wat soos ons glo en dink en kom ons die beste klaar met mense wie se waardes met ons s’n ooreenstem.

As jy egter ’n goeie verhouding met iemand moet kweek, byvoorbeeld iemand saam met wie jy in ’n span moet werk, is dit nodig dat jy weet hoekom daardie persoon glo wat sy glo, dink wat sy dink en voel wat sy voel. Iemand wat daarvan hou om definitiewe einddatums en duidelike riglyne te hê vir elke taak, het waarskynlik ’n behoefte aan sekuriteit omdat ander lewensareas onseker is of omdat hulle nooit goeie grense in hul ouerhuis gehad het nie.

Jy voel dalk meer aangetrokke tot ’n ongestruktureerde benadering en dit mag die ander persoon bedreig laat voel omdat jy inderwaarheid sy gevoel van sekuriteit “bedreig”. Hierdie verskil in benadering kan konflik tot gevolg hê.

Eerstens moet ons sensitief wees vir mekaar se waardes en behoeftes en ’n oplossing vind wat vir albei partye aanvaarbaar is. Om uit te vind wat vir ’n ander persoon belangrik is, moet jy regtig luister na wat hulle sê. As ons aktief luister na wat die iemand anders sê, kan ons in ons eie woorde die boodskap terug-kommunikeer en só uitvind of ons regtig verstaan het wat hul boodskap is. As ons dít regkry, kan ons dan voortgaan om ons denke met die ander persoon te deel op ’n manier dat dit aanklank vind by wat hulle vir ons wou sê.

Ons sensitief wees vir mekaar se waardes en behoeftes.

Wanneer ons ons tyd vir mense gee, moet ons ten volle teenwoordig wees en met aandag luister. Mense voel nie gewaardeer as jy op jou foon tik of een oog op die TV het wanneer jy met hulle praat nie. Gee jou volle aandag aan die persoon met wie jy in gesprek is, mense weet as jou gedagtes nie by hulle is nie.

Moet ook nie jou maniere oorboord gooi wanneer jy tegnologie gebruik nie. Selfoonmaniere en respek is belangrik. Antwoord ’n belangrike boodskap so vinnig as moontlik en wees hoflik. Besin ook voordat jy ’n e-pos stuur en maak seker dat jy jou woorde reg gekies het. As ’n e-pos jou ontstel het, moenie dadelik reageer nie. Gaan koel eers af voordat jy terug-antwoord en besin mooi oor elke woord wat jy terugskryf. Wanneer die “send”-knoppie gedruk is, kan jy nie die e-pos weer ongedaan maak nie.

Wees ontvanklik vir konstruktiewe terugvoer en kritiek. Eerlike raad is nie altyd maklik om te hoor nie, maar mense wat werklik vir jou omgee, gaan soms vir jou uitwys waar jy ’n “blinde kol” het.

Dit is raadsaam om hul opinie te oorweeg en te werk aan jou tekorte soos uitgewys. Konstruktiewe kritiek bied vir jou ’n geleentheid om te groei en verhoudings te kweek wat wedersyds voordele inhou. Mense wat nie die moed het om jou aan te vat waar jy verkeerd is nie en jou net vlei, is nie ware vriende nie.

Die beste verhoudings is gebou op eerlikheid en kan jou help om die regte perspektief op sake te kry. Goeie verhoudings is ook fundameenteel gebou op wedersydse vertroue. Jy kan nie werklik ‘n diep verhouding hê met iemand wat jy nie vertrou nie.

Laastens bou empatie ’n konneksie tussen mense. Wanneer jy ander mense se gevoelens en behoeftes in ag neem sonder om hulle te oordeel of blameer, voel hulle dat jy hulle verstaan. Dan kan julle ’n goeie verhouding bou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.