Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuier-tydskrif keer media op sy kop!
4 September 2019
ivor price
Ivor Price
Kuier Verskaf

Tien jaar gelede was dit ondenkbaar dat ’n tydskrif vir bruin vroue sou kon oorleef. Maar vandag is Kuier nie net Suid-Afrika se grootste vrouetydskrif nie, maar ook die naasgrootste tydskrif in die land met ’n diverse lesersprofiel.

Wat Kuier se herdenking van 10 jaar soveel meer merkwaardig maak, is die feit dat soveel ander tydskrifte in dieselfde tydperk weens markdruk gevou het. Van die 70 Media24-tydskrifte wat in 2009 – die jaar van Kuier se stigting – op die rakke was, is daar nou net die helfte oor.

Kuier is aanvanklik meestal in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap versprei omdat dit volgens destydse navorsing die provinsies met die meeste bruin Afrikaanse vroue was. Die tydskrif is in die afgelope 10 jaar stelselmatig na elke ander uithoek van die land (en Namibië) uitgerol.

Prof. Johannes Froneman, ’n onafhanklike mediakommentator, sê daar is vandag wêreldwyd minder tydskrifte, onder meer weens die opkoms van digitale media soos Facebook, Twitter en Instagram “waar baie mense nou vinnig en gerieflik hul nuus kan kry en hul menings kan deel. Die tweede rede is dat die sosiale media en Google ’n groot hap van die advertensie-inkomste vat wat vroeër na koerante en tydskrifte gegaan het. ’n Derde rede is dat die ekonomie wêreldwyd sukkel en dat daar net nie soveel geld beskikbaar is om te adverteer of vir lesers om tydskrifte mee te koop nie.”

Gegewe dié faktore is Kuier se wegholsukses soveel meer besonders. Johannes sê: “Daar is by lesers steeds ’n behoefte aan stories wat hulle direk raak en wat handel oor mense wat na aan hulle is. Dit laat die deur oop vir ’n tydskrif soos Kuier wat ’n spesifieke behoefte aanspreek vir ’n heel spesifieke deel van die mark. Kuier se redaksie fokus baie skerp op dié behoefte en maak haar lesers gelukkig met stories wat opbouend is en wat hulle nie elders te lese kry nie.”

Die skrywer en akademikus Anastasia de Vries, wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland verbonde is, glo Kuier het die uitbeelding van vroue in die media ingrypend verander. “Ineens kry jy ’n vrou wat nie lyk of sy kwaaivrinne met haar kos is nie; wat haar met meer dinge bemoei as die nuutste lipstick... Nee, sy kom in all shapes en sizes, soos in die regte lewe, en die beste van alles, sy lyk net soos ek ook. En soos ek het sy ’n mind en ’n lewe, ’n real, geleefde lewe van haar eie.”

Dit beteken egter nie alle Kuier-lesers is dieselfde nie. “Ons lewensomstandighede verskil dalk, ons smaak, ons ingesteldheid, inkomste, kanse in die lewe, noem maar op, dis oukei. Wat belangrik is, is dat jy, ek, connected voel aan daai vrou; of iets in haar wat sê ‘not just a pretty face’; ’n vrou, ’n suster, ’n ma, ’n koptjommie. Stylvol, natuurlik, maar nie uitgelewer aan bepaalde voorskrifte wat bepaal hoe ’n vrou moet lyk of wees nie. Dis ’n vrou wat comfortable is met wie sy is – nie ’n honger klerehanger of prulpop nie.”

As ’n gesoute joernalis het Anastasia in die verlede al male sonder tal gehoor dat daar nie ’n wesenlike mark vir mediaprodukte in die bruin mark is nie. “En toe kom Kuier en bewys al die doemprofete verkeerd en vat sommer ’n groot hap uit die gevestigde wit mark ook. Want Kuier het oorwegend ’n bruin lesersmark, maar die nasie lees almal saam. Kuier is soos daai struggleliedjie waarvan ek die woorde nie kan onthou nie, maar dis ook in ’n titel van ’n kortverhaal deur Jeanette Ferreira: ‘Die mammies, die pappies, die hondjies’, hoor’ie almal lees Kuier. Want Kuier maak van iets so kommersieel soos ’n lesersmark ’n community. Jy voel jy behoort. Maak nie saak watter kleur jy is nie, jy behoort.” 

Want Kuier maak van iets so kommersieel soos 'n lesersmark 'n community. Jy voel jy behoort
Anastasia de Vries

Eie aan die lesers

Die TV-persoonlikheid Doreen Morris, wat haar 35ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf vier, het in haar wildste drome nooit kon dink dat daar eendag ’n tydskrif soos Kuier sou wees nie. In die 1980’s toe sy die eerste swart vrou in hoofstroomtelevisie was, het die media dikwels bruin en swart mense as spotprente uitgebeeld.

“Daar was nie destyds ’n publikasie wat my geleefde ervarings eerlik weerspieël het nie. Ons mense was in die verlede altyd gemarginaliseer en selfs as karikature uitgebeeld waarmee daar graag die spot gedryf is. Daarom is die groei en sukses van Kuier in slegs 10 jaar so ’n besonderse prestasie.”

Destyds was dit vir bruin en swart TV-bekendes dikwels ’n bittere stryd om blootstelling en erkenning in Afrikaanse media te kry, en wanneer hulle dit wel gekry het, was dit met allerhande bepalings en voorwaardes.

Doreen sê: “Ek het van my heel eerste dag op televisie onderhoude met die Afrikaanse publikasies van die dag begin doen, maar ek het besef dat hulle my slegs akkommodeer, en nie werklik my suksesse vier vir wie en wat ek is nie. Trouens, ek het maar altyd aan die buitewyke van die tyd-skrifte se teikenmark gestaan. Ek was vir die Afrikaanse media ’n uitsondering op die reël en voorgehou as uitsonderlik, maar ek het hulle altyd daarvan probeer bewus maak dat dit nie die geval was nie.”

Vandag speel Doreen ’n instrumentele rol in die VIA-televisieprogram Kuier-mense wat in samewerking met Kuier aangebied word. Die tydskrif se teikenmark kan hulself nou as’t ware in die spieël sien – nie net in tydskrifte nie, maar ook op TV. “Dis hoekom dit vir my so ’n plesier is om saam met Kuier hande te kon vat en ons mense se stories in ’n eerlike TV-reeks te kon vertel.”

Doreen is daarvan oortuig dat Kuier die gesig van die plaaslike medialandskap verander het. “Kuier bied ’n nuwe platform vir al ons gemeenskappe waar ons stories uiteindelik met eerlikheid en egtheid vertel kan word. Vir veral bruin vroue het Kuier ’n belangrike stem geword wat hulle nooit werklik vantevore in die hoofstroom-Afrikaansmedia gehad het nie. Ons kan ook nou mekaar se loopbane en suksesse vier, maar Kuier bied ook noodsaaklike lewenslesse wat bydra tot positiewe groei in ons gemeenskappe.”

Dié boorling van Elsiesrivier in die Wes-Kaap is vandag ’n bekende sakevrou wat dit haar werk maak om ’n meer verteenwoordigende medialandskap te help skep. “Meer as ooit vantevore is dit belangrik dat mense hulself in die media kan sien. Dit is van kritiese belang dat elke vrou – of sy nou in Olifantshoek, Heidedal, Gelvandale of Bonteheuwel woon – se ervaring en realiteite in die media weerspieël word.”

Volgens Doreen is die soeke na identiteit en die wete dat jy iewers behoort ’n vraagstuk wat gereeld nog by veral die jeug opduik.

Die lewensafrigter Sydene Cloete, wat die KuierCoach-rubriek skryf, stem hiermee saam en onthou dat sy in haar kinderdae in Namakwaland altyd tydskrifte gelees het en “vroue met blonde, Gouelokkies-hare” as die maatstaf van sukses gesien het. Selfs in die kinderboeke wat ons gelees het, het ons selde onsself gesien. Al die boeke, al die verhale, al die illustrasies, selfs die feëverhale het altyd net tekeninge van wit mense gehad. As ’n tiener was dit ook só met die Trompie-reeks. Die heldin het altyd blonde hare en blou oë gehad met ’n bruingebrande vel.”

Kuier het saam met Son en talle TV-programme sedertdien ’n leidende rol gespeel om dié narratief te verander, sê Sydene. “Kuier vier veral sterk die bruin vrou en inspireer ook dié wat sukkel om moed te skep. Die tydskrif skep ’n amper heilige gevoel van sisterhood, van behoort en gee. Dis ’n platform waar óns mense, óns mense kan ondersteun en inspireer.”

In ’n perfekte wêreld moet ons volgens Sydene eintlik net as deel van ’n menseras identifiseer, maar ons woon nie in ’n perfekte wêreld en dit is ’n ope vraag of ons ooit eendag die ideaal sal bereik.

“Alle mense moet hulself in die spieël kan sien en ook in die media wat hulle verbruik. Ons moet, soos Kuier, kan identifiseer met suksesstories en rolmodelle van mense wat soos ons lyk. Dit help ons om geleenthede vir onsself te sien, en om ons toekoms te struktureer en te vorm. Die media skep ’n waarde-identifikasie wat met ons ras en kultuur verband hou,” verduidelik Sydene. 

Ons moet, soos Kuier, kan identifiseer met suksesstories en rolmodelle van mense wat soos ons lyk.
Sydene Cloete

Carryn-Ann Nel, ’n joernalis en Rykie van Reenen-genoot by die Universiteit van Stellenbosch, stem saam. “Ons sien elke dag die impak daarvan, van hoe jong meisies opkyk na leiers wat soos hulle lyk. Kuier het vir ons die platform gebied om te sien hoe sterk bruin vroue uit alle vlakke van die samelewing – en veral dié wat in kleiner gemeenskappe ystervroue is en so min blootstelling in die hoofstroommedia kry – ’n verskil maak. Hulle is rolmodelle vir ander. Verteenwoordiging maak saak omdat dit ons bemagtig as ons sien wat ander mense bereik het wat soos ons lyk. Dit maak saak omdat jong meisies hul rolmodelle in die media moet sien. Dit moedig hulle aan om hul rolmodelle te wees.”

Van krag tot krag

Die tydskrif het in die afgelope dekade bygebly met die nuutste tegnologieë en uitbreidings van die handelsmerk. Só spog Kuier reeds met meer as 120 000 Facebook-aanhangers terwyl die handelsmerk ook aktief is op sosiale netwerke soos Twitter en Instagram. Baie vroue lees ook deesdae hul Kuier op Netwerk24.

Om te sorg dat die tydskrif gedurig in voeling bly met haar lesers is daar ook jaarliks verskeie funksies waar vroue nie net ’n kans kry om met bekendes skouers te stuur nie, maar ook met die Kuier-span en ander getroue lesers. En dan is daar die TV-programme: Kuier-mense op VIA en Op Seer Se Spoor op kykNET&kie waar die tydskrif se artikelredakteur, Ernusta Maralack, lesers se stories vertel.

Prof. Lizette Rabe, ’n mediahistorikus verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sê sy is nie verbaas oor Kuier se wegholsukses nie. Rabe was van 1994 tot 2000 die redakteur van die tydskrif Sarie, wat met sy ontstaan in 1949 op wit, Afrikaanse vroue gemik was.

“Toe Sarie 70 jaar gelede gestig is, het bruin Afrikaanse vroue in die Kaap onmiddellik met die tydskrif geïdentifiseer – selfs al is hulle daardie tyd, en ’n lang tyd daarna, nie daarin uitgebeeld nie. Dis deel van die tragedie van ons land se geskiedenis dat ’n hele marksegment (bruin vroue) so uitgesluit was uit die hoofstroommedia.”

Kuier is vandag ’n onontbeerlike deel van die Suid-Afrikaanse tydskrifmark. “Ek dink dis ’n produk wat uiteindelik gehoor gegee het aan die versugting van ’n hele marksegment wat voorheen maar in Huisgenoot en Sarie iets van hulself moes vind. Bruin vroue was mos nog altyd eintlik eerste hier. En nou het hulle uiteindelik ook hul eie produkte, van Kuier tot TV-programme, afgestem op gewone mense.”

Volgens Lizette het Kuier in die laaste dekade die uitbeelding van vroue genormaliseer. “Met ander woorde, nie die geïdealiseerde beeld wat deur Hollywood geskep is van die perfekte lyf en gesig daarby nie, maar soos wat gewone vroue eenvoudig gewoonweg is.”

Maar is dit nog hoegenaamd in die 21ste eeu belangrik dat tydskrifte, soos Kuier, vir ’n spesifieke lesersmark uitgegee word waar ras nog ’n bepalende faktor is. Lizette sê: “Ek hou nie van die idee van produkte wat volgens ras uitgegee word nie, maar dieselfde fenomeen word op (die DStv-kanaal) VIA gesien: bruin vroue was nog altyd hier.

“Ek wil nie in rasterme dink as ek aan mediaprodukte dink nie. Ek sou hoop Afrikaanse mense sien hulself in al dié produkte, ongeag die pigment van hul vel.”

Hoewel Lizette dit jammerlik vind dat die land nog gesegmenteerd is, glo sy dat Kuier ’n kuierplek het vir almal wat tuis voel in haar geselskap. “Dis ’n produk sonder pretensie, wat die vreugde en verdriet van die gewone mens se bestaan weergee, wat sosiaal betrokke is, plus die glitz en die glamour waarsonder ’n tydskrif nou ook nie ’n tydskrif sou wees nie.”

Intussen sê prof. Barbara Boswell, ’n dosent by die Universiteit van Kaapstad, Kuier bly een van haar gunsteling-publikasies. “Die tydskrif vertoon ’n ryk verskeidenheid van wat dit beteken om ’n vrou in kontemporêre Suid-Afrika te wees. Uit Kuier leer ek oor vroue wat baanbrekerswerk doen, wat uitskieters in hul gekose velde is, en ook oor die persoonlike ervarings van vroue wat soos ek lyk. Dit is wonderlik om myself op dié manier verteenwoordig te sien.”

Hoewel Kuier se lesersmark nie homogeen is nie, kry die tydskrif dit volgens Barbara wel reg om die diversiteit van sy bruin teikengehoor akkuraat te weerspieël.

“Ons moet met baie stereotipiese voorstellings en uitbeelding van ons saamleef, soos byvoorbeeld, ’n paar jaar gelede, met die meningstuk van Kuli Roberts (waarin bruin vroue as tandeloos en gewelddadig uitgebeeld is). Dis goed om te sien dat dit skadelike mites ontbloot. Ek is ook mal oor die feit dat Kuier se redakteur, Kay Karriem, so ’n talentvolle en visioenêre vrou is,” voeg sy by.

As ’n gevierde joernalistiekdosent is Lizette boonop beïndruk met Kuier se wenresep. “Die inhoud is absoluut afgestem op die mark, van die klere tot die kos, en in so ’n kuiertrant dat ek hoop almal eenvoudig wil saamkuier. Dis duidelik dat die tydskrif se hart klop saam met haar teikenmark – soos wat dit ook baie duidelik is dat Kay amper letterlik haar vinger op daardie pols het.” 

Wanneer Anastasia die tydskrif lees, sien sy ’n sterk vrou. “Sy is versorg al knyp die lewe, gee om vir ander mense, is ’n vrygewige vrou, ’n real woman, soms sag, soms neer teen die aarde, maar nooit ’n slagoffer nie, want sy weet waar haar krag vandaan kom. ’n Vrou wat morsig kan huil oor die lelik en die onreg, maar een wat uit haar diepstes kan lag en kan deel in die lief en leed van ander. Eintlik sien ek al die vroue wat in my leef, wat my help vorm het.”

Volgens Barbara verskil die manier hoe Kuier bruin vroue uitbeeld steeds dramaties van ander tydskrifte se aanslag. “Gewoonlik in van die ander publikasies wat ek lees, word bruin vroue hoofsaaklik as slagoffers of as dwelmgebruikers uitgebeeld. Dit is goed om al die menings in Kuier te lees deur professionele mense wat in hul onderskeie velde uitblink, en om onsself te verteenwoordig as sterk vroue met baie invloed. Ons presteer in alle verskillende professionele gebiede, en dit is wonderlik om dit dan in Kuier uitgebeeld te sien.”

Die joernalis Roshé Taka het Kuier as deel van haar honneursgraadtesis bestudeer.

“Die tydskrif het beslis die narratief oor bruin vroue verander omdat sy ’n platform skep waar hulle vir die eerste keer ’n stem het en waar sy haar eie storie kan vertel. As ons kyk na die letterkunde, byvoorbeeld, is bruin mense se stories dikwels deur ander vertel. Hoewel die stories goed vertel word, is dit nooit regtig uit ons eie perspektief nie.”

Intussen vertel die skrywer-digter Ricardo Arendse, wat onder meer vir

Arendsvlei op kykNET&kie skryf, dat Kuier soveel meer is as net nóg ’n entiteit wat bekendes nóg meer bekend maak. “Dit stel jou voor aan die mens wie, soos ek en menigte ander, ook net mens is. En dís hoekom ek en baie ander die tydskrif koop.” 
Meer oor:  Mediakenners  |  Kuier  |  Kuier10  |  Rolspelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.