Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KUIERCOACH: Afstand keer nie liefde nie
11 July 2018
Michelle Bloem

Langafstandverhoudings is deesdae baie algemeen. Dit is makliker as in die ou dae om kontak met mekaar te behou met goed soos video calling en sosiale netwerke.

Die vraag is of hierdie soort verhoudings suksesvol kan wees of onvermydelik ’n vervaldatum het? Is die gesegde “uit die oog, uit die hart” waar of kan afstand juis ’n paartjie nader aan mekaar bring?

Soos met alles in die lewe (en natuurlik elke verhouding) moet daar hard aan ’n langafstandverhouding gewerk word om dit te laat werk.

Al lyk die statistieke vir langafstandverhoudings nie wonderlik nie, is daar dapper paartjies wat deurgedruk het en dit maak werk het. Wat is die “reëls” vir ’n suksesvolle langafstandverhouding?

Die volgende dinge in langafstandverhoudings moet in ag geneem word:

1. Kommunikasie is die belangrikste in ’n verhouding waar daar ’n fisiese afstand tussen geliefdes is. Groet mekaar elke oggend en sê saans nag. Wees bewus van mekaar se werk- of studieskedules, sodat julle mekaar nie per ongeluk in ’n besigheidsvergadering of tydens klastyd kontak nie. Hoewel dit noodsaaklik is om te gesels op ’n daaglikse basis, moet dit nie ’n obsessie word nie.

2. Gee mekaar ruimte en vertrou mekaar. Moenie jou maat laat skuldig voel as hy of sy ná werk of klas saam met vriende uitgaan of geleenthede bywoon nie.

As julle altyd eerlik is met mekaar, is daar niks om oor jaloers te wees nie. Almal het ’n behoefte aan ’n sosiale lewe en om mekaar daarvan te probeer weerhou, gaan julle net uitmekaar dryf. Net omdat jou maat bietjie wil uitgaan, wil nie sê hulle wil nie met jou praat of tyd met jou deurbring nie.

3. Geniet alleentyd en tyd saam met familie en vriende. Die lewe draai nie net om jou lewensmaat of geliefde nie en daar moet balans wees in al jul lewensareas. Die tye wat jy nie by jou maat is nie, laat jou ook toe om op ander gebiede te groei en verhoudings met geliefdes te versterk. En as julle albei in alle areas ontwikkel, sal jul tye saam soveel meer spesiaal, interessant en opbouend wees.

Maak julle tyd saam werklik kwaliteittyd
Michelle Bloem

4.“Date” mekaar oor die internet: Video call mekaar gereeld op WhatsApp, Skype of Facebook, speel ’n aanlynspeletjie saam, doen saam aanlyninkopies en koop vir mekaar ’n klein geskenk.

As julle kan, bespeel instrumente en sing saam oor ’n video call. Stuur liefdesbriewe en poskaarte met gewone pos en laat blomme of sjokolade of iets spesiaals aan jou geliefde aflewer. Dit sal hom of haar laat weet dat jy graag fisies by hulle wil wees en dit gee hulle ’n tasbare herinnering aan jou. Julle kan mekaar ook iets spesiaals gee om te hou, byvoorbeeld ’n item waaraan jy sentiment het, ’n sekere parfuum wat jou aan die ander persoon herinner, ’n item wat julle aan ’n spesiale tyd saam laat dink soos ’n mooi gedroogde blaar wat julle opgetel het ten tye van ’n uitstappie in die park.

5. Fisiese kuiers wat goed beplan word, is natuurlik baie belangrik. Maak voor die tyd planne sodat julle jul tye saam optimaal benut en die meeste uit julle saamweestye kry. Maak julle tyd saam werklik kwaliteittyd.

6. Stuur gereeld foto’s, ’n kort video van wat in jou lewe aangaan of ’n voicenote. Dit maak ’n groot verskil in iemand se dag en gemoed om hul geliefde te sien beweeg of hul stem te hoor. Daar is ook oulike apps wat julle kan gebruik om foto’s en videos met stickers en motiewe te versier om dit spesiaal te maak.

7. Natuurlik is dit ook belangrik om te weet wanneer julle uiteindelik permanent saam kan wees. Hou hierdie einddoel voor oë en gebruik dit as motivering om aan julle verhouding te werk en korttermynopofferings te maak sodat julle oor die langtermyn saam gelukkig kan wees.

8. Maak seker dat jy en jou maat op dieselfde golflengte is oor die erns van jul verhouding.

Besluit saam oor wie die ander tegemoet gaan kom wanneer daar saam ingetrek gaan word. Om mekaar tegemoet te kom, is altyd ’n belangrike faset van enige ernstige verhouding en gaan altyd onvermydelik hand aan hand met opoffering.

Soos met alles in die lewe hang jou verhouding met jou wederhelfde ook af van hoe aanpasbaar julle is. Vir ons almal is daar net een ding waarvan ons altyd seker kan wees en dit is verandering.

KuierCoach
'n Life coach is bevoeg om jou te help om aan enige verhouding te werk waar jy voel jy 'n beter kwaliteit-verhouding kan hê en waaraan jy gereed en gewillig is om te werk.
Besoek gerus www.salifecoaching.co.za en e-pos my by michelle@salifecoaching.co.za.

Meer oor:  Michelle Bloem  |  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.