SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Beweeg só aan sonder jou eks
27 November 2019

Wanneer jy en jou eks opbreek, is dit partykeer nie ’n “skoon breuk” nie. Julle het alles saam gedoen en saam gesosialiseer met familie en vriende en jul vriende het later mekaar se vriende geword. Daar is ook nie sogenaamde reëls oor of jou eks, sy familie of vriende nog deel van jou lewe moet wees wanneer julle besluit om jul verhouding te verbreek nie.

Wanneer julle saam kinders het, is dit egter onvermydelik dat daar ten minste ’n bedagsame verhouding tussen julle moet wees vir die kinders se onthalwe. Dit is ideaal dat ouers altyd hul kinders se belange bo hul eie stel. Netso moet ouers saam belangrike besluite neem wat die kinders aanbetref en albei belangrike geleenthede bywoon, saam ooreenkom oor wie waar gaan wees vir Kersfees en ’n verenigde front handhaaf oor reëls en waardes.

Kenners beveel egter aan dat julle nie in mekaar se sakke moet leef nie. Julle moet mekaar spasie en tyd gun om aan te gaan met jul lewens en afsonderlik te groei en selfs nuwe verhoudings aanknoop wanneer die tyd reg is. Jul hoofstuk saam is verby en in die verlede en julle moet nou nuwe identiteite ontwikkel waar die eks nie meer die middelpunt van jou lewe is nie.

Kenners sê dis die beste om ná die breuk vir ’n ruk lank geen kontak te hê nie, net die noodsaaklike as daar kinders ter sprake is. Moenie uitvra oor jou eks of sy familie besoek of saam met gemeenskaplike vriende sosialiseer nie. Raak ontslae van sosiale media waar jy sy doen en late kan sien en fokus op jou nuwe identiteit as ’n individu. Gesonde verhoudings kan net gekweek word wanneer jy jouself goed ken, fokus op jou onafhanklike ontwikkeling en jou individuele doel in die lewe verwesenlik. ’n Verhouding werk net wanneer julle totaal as gebalanseerde, onafhanklike individue kan funksioneer en mekaar kan help groei en ontwikkel.

Moenie jou vriende vra om te kies tussen jou en jou eks nie.

Wanneer julle gemeenskaplike vriende deel, probeer om afsonderlike sosiale reëlings te tref. Moenie jou vriende vra om tussen julle te kies nie. Sê duidelik dat jy nie alles van sy doen en late wil weet nie en nie wil skinder nie. Verduidelik hy is deel van jou verlede en dat jy sonder hom wil ontwikkel. Jy sal weldra sien wie in jou eks se kamp is en wie in joune.

As vriende se lojaliteit vir jou belangrik is, is ’n gedeelde vriendskap nie ideaal nie. Daar is mense vir wie dit gewerk het om vriende met hul ekse en gedeelde vriendekringe te bly. Solank jy net gereed is vir die dag waarop jou eks “aanbeweeg” en in ’n nuwe verhouding is.

As jy vriende met jou eks en sy familie bly, moet dit met eerlike motiewe wees. As jy in sy lewe wil bly omdat jy hoop op ’n hereniging terwyl hy aan wil beweeg, gaan jy seerkry. Gebruik eerder jou tyd om aan selfontwikkeling te werk.

Dit is beter om verhoudings wat geskiedenis is, in die verlede te laat. Konsentreer op ’n vol lewe vir jouself met mense wat jy voluit kan geniet in jou sosiale lewe en nie die hele tyd grense hoef te stel vir wat gesê en gedoen kan word in ander se teenwoordigheid nie.

Wanneer daar steeds interaksie tussen jou en jou eks is, moet jy besef dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie en dat sy familie se lojaliteit ook by hom en wie ook al hy voortaan kies om deel te wees van sy lewe, moet lê.

Verhoudings is juis verhoudings omdat jy met ’n lewensmaat eksklusiwiteit deel in alle lewensareas. Hoe sal jy voel as jou maat se beste vriendin sy eks is? In ’n gesonde verhouding is lewensmaats se vriendskap deel van hul vertrouensverhouding en netso belangrik, indien nie belangriker as hul intieme lewe nie.

Wanneer jy gedurig saam met jou eks en sy familie sosialiseer, kan dit ook valse hoop by jul kinders wek dat julle weer ’n gesin sal wees.

Gun mekaar ’n lewe waar ou wonde nie gedurig oopgekrap word nie en tyd gegee word om te genees. As jy of jou eks ’n nuwe lewensmaat en selfs ’n nuwe gesin het, moet jy alles in die stryd werp om as ’n nuwe eenheid te kan aangaan. Daar is nie plek vir ’n derde wiel aan die wa nie. Maak vrede met die verlede en hou jou oog op die toekoms deur hard te werk om jou eie lewe te geniet sonder jou eks. Gesonde grense in enige verhouding met ’n eks bly die wagwoord.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.