Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Bou bande met stieffamilie só
28 Junie 2019

Die stories wat ons lees, die mense met wie ons die meeste tyd spandeer, die aktiwiteite waaraan ons tyd bestee en die TV-programme waarna ons kyk, het ’n groot impak op ons denk- en doenpatrone.

Tussen die ouderdomme van een tot sewe is ons programmeringsjare. As ons dan kyk na die kinderstories waarmee ons grootgeword het, wanneer jou brein ’n spons is, sal ons verstaan hoe ons so geprogrammeerd geraak het om ’n stiefma, stiefsusters en stiefbroers in ’n negatiewe lig te sien. In stories soos byvoorbeeld Aspoestertjie en Sneeuwitjie word die stiefma’s en -susters as mense met nydige bybedoelings uitgebeeld wat niks goedheid in hul hart het vir die kinders van die ander ouer nie. Dit is asof hulle jou anders behandel omdat jy nie bloed is nie. Die stories sus dalk ons bewuste brein aan die slaap wanneer dit gelees word, maar die lesse en suggestie daarin gaan lê in die onderbewussyn wat die dryfkrag van ons gedragspatrone is.

Die woord stief is stief opsigself. Wanneer ons praat van ’n stiefkind van die lewe, beteken dit die lewe gooi jou rond en hou vir jou geen goedheid en guns in nie. Stief is gelykstaande aan onregverdigheid en dít word die interpretasie wat ons daarvan het. Maar dit is moontlik om hierdie denkwyse te verander.Moenie jou kinders afskeep nie.

Wanneer jy jou nuwe maat ontmoet, het jou kinders reeds deur jou en jou eks se traumatiese egskeiding of verhouding gegaan. Dit is die ouers se verantwoordelikheid om steeds hul kinders goed te behandel en seker te maak hul nuwe maat doen dieselfde. Maak steeds genoeg tyd vir jou kinders as jy ’n nuwe maat met of sonder kinders in hul lewe bring. Kinders moenie voel hulle verloor hul ouers omdat hulle hulle moet deel nie. Moet egter nie jou eie kinders voortrek bo jou nuwe maat se kinders nie. Laat regverdigheid jou maatstaf wees. Ouers moet verantwoordelikheid neem vir aktiwiteite en gebalanseerde tyd en aandag gee aan individuele kinders. Teen die tyd wat stiefkinders groot genoeg is om bande te smee, is die fondasie reeds gelê. Die gesonde bande is dus gevorm of die skade is gedoen.

Hoe kan ons saam ’n verskil maak?

Ons moet nuwe stories skryf en ander stories vertel waar stieffamilie ook mooi is. Op dié manier sal daar ’n verskuiwing kom in ons verwysingsraamwerk van saamgevoegde gesinne.

Hoe kan die ouers dit hanteer?

Moenie die ander ouer slegmaak of toelaat dat die nuwe maat hul plek probeer inneem nie. Wees regverdig teenoor jou én jou maat se kinders. Waak daarteen dat jul kinders julle teen mekaar afspeel. Ouers is ’n span en moet saam in die beste belang van kinders optree, tog nie ten koste van jou kind nie en nie net ten gunste van jou maat of sy kinders nie.

Hoe bou stiefsibbe ’n verhouding?

Selfs eie sibbe het by tye uitdagings om ’n goeie verhouding te handhaaf in hul tienerjare. Moedig jul ouer kinders aan om dinge saam te doen of beplan uitstappies vir die hele gesin met aktiwiteite wat hulle sal help om aan hul verhouding te werk en meer geheg te raak aan mekaar. Beperk die kinders se gebruik van toestelle soos selfone en tablets waaragter hulle kan wegkruip. Hulle kan dit dalk gebruik om nie met die ander sosiaal te wees nie en dít is belangrik as hulle mekaar beter wil leer ken. Julle moet ook daar wees om na jul kinders te luister en om hulle te lei. Kinders bly kinders en hulle sal vassit. Konflik moet net reg hanteer word en dit begin by julle as ouers.

Hoe bly volwasse stiefsibbe in kontak?

Almal het vrye wil en niks behoort forseer te word nie. ’n Verhouding tussen volwasse stiefsibbe sal grootliks afhang van hoe stewig die fondasie van die verhouding deur die jare gegroei het. Ons moet erken dat ons nie met almal oor die weg kom nie en ook nie verplig is om dit te moet doen nie. Eie broers en susters is soms vervreemd van mekaar terwyl vriende soos broers en susters is. Sielsusters of -broers deel nie noodwendig bloedlyne nie, maar vind aanklank in mekaar se energie soos goeie vriende

As daar ’n band is, doen moeite, nes met vriende. Bel, maak afsprake om iets saam te doen of om familiedae saam te vier. Enige verhouding is ’n tweeringtingstraat, en selfs stief kan mooi wees.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.