Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Gedagtes maak of breek jou
12 Junie 2019

Bekommernis vat nie môre se vrese weg nie, dit steel net vandag se vrede . . .

Volgens die law of attraction trek dieselfde energie mekaar aan. So, bekommernis trek meer bekommernis aan.

Dít wat ons voed, sal groei. Hetsy dit ’n positiewe of ’n negatiewe gesindheid is. Die Cherokee-stam in Amerika het ’n storie van twee wolwe wat in elkeen van ons lewe. Die een wolf is donker en hy lewe van woede, jaloesie, leed, selfbejammering, vrees, arrogansie, verwyt, skuld, minderwaardigheid, leuens, valse trots, hoogmoed en ego.

Die ander wolf is lig en hy lewe van liefde, vreugde, vrede, geluk, aanvaarding, nederigheid, vredeliewendheid, empatie, vrygewigheid, waardigheid, waarheid, deernis en geloof.

Dié twee is in ’n voortdurende innerlike geveg met mekaar. Watter een wen? Die een wat jy voed . . .

Ons is so geneig om altyd eers na die donker kant van ’n saak te kyk. Hier is ’n eenvoudige voorbeeld van hoe bekommernis vinnig spin en meer negatiewe gedagtes aantrek of positiewe gedagtes meer positiewe gedagtes aantrek:

Jy hoor jy kan dalk afgedank word by die werk as jy nie ’n sekere kwalifikasie voor ’n spertyd verwerf nie.

Donker wolf: Jy klim op die hamster-wiel van bekommernis wat net in die rondte tol en geen uitkoms bied nie. Wat as ek my werk verloor? Dan gaan ek nie my verband kan betaal nie. Ek gaan my huis verloor. Ek gaan my mediese fonds verloor. Hoe gaan ons vir my man se medikasie betaal? Ek gaan my kar verloor. My kinders se skoolfooie moet betaal word. Daar gaan spanning wees. Wat van die rekeninge? Die kos . . .

Ligte wolf: Jy klim die leer van positiewe gedagtes. Wow, wat ’n geleentheid!

As ek bevorder word, kan ek begin wegsit vir iets groots.

Ons kan die huis gouer afbetaal en dan kan ons vir vakansies gaan met die ekstra geld. Hierna is daar ’n moontlikheid vir nog verdere bevordering. Ons kan meer gereeld my ouers gaan besoek en dalk finansieel bydra. Ek kan uiteindelik daai stokperdjie betaal. Dit kan ’n ekstra inkomste word, ek kan moontlik ’n entrepreneur word.

Dink ’n bietjie: Watter een van die twee denkpatrone gaan jou help om jou werk te behou én nog verdere hoogtes te bereik? Jou gesin se lewenstandaard te verbeter? Jý kies watter wolf die beste vir jou gaan werk.

Behalwe hiervoor, moet jy ook bewus wees van die tipe mense waarmee jy jouself omring. Hoe dra mense rondom jou by tot watter wolf jy voed? Wanneer jy jouself met mense deel, dan kies jy om hulle in jou energiespasie te nooi. Selfs al post jy net jou probleme op sosiale media, gee jy mense ’n kans om insae te hê op jou lewe. Dis so eenvoudig as om ’n comment te druk vir hulle om iets oor jou te sê. Of as jy ’n negatiewe status sien, kan dit ook ’n invloed op jou het.

Sommige mense wat reeds in selfbejammering-mode is, sien ander se negatiewe status as ondersteuning van hul saak of hulle sien die “ag, shame jy verdien dit nie”, wat iemand op jou post comment, as empatie. Dit kan hulle dan interpreteer as om maar so in sak en as te sit en dat dit nie nodig is om iets aan hul situasie te doen nie. Dieselfde geld vir iemand wat gedurig by almal oor alles kla. As jy daardie persoon ondersteun sonder om vir hulle die lig te wys, voed jy ook hul donker wolf. Boonop smeer hul negatiewe gedagtes aan jou af.

Jy moet verantwoordelikheid vir jou gedagtes neem en ook hoe dit jou lewe beïnvloed. As jy besef hoe jy ’n situasie sien, jou plan van aksie kan verander, sal nuwe deure vir jou oopgaan.

Onthou, alles waarmee jy jou brein voed, die programme wat jy kyk, die mense met wie jy interaksie het en praatjies waarmee jy jou ophou, beïnvloed jou denkpatrone en bepaal watter wolf jy voed. Dit word deel van jou onderbewussyn en jou aksies word omtrent 95% van die dag deur jou onderbewussyn bepaal. Om jou denkpatrone te verander en om die ligte wolf in jou te voed, moet jy jou denke herstruktureer sodat dit ’n meer positiewe gesindheid weerspieël.

Die kragtigste maniere om teen negatiewe denke en kommer te werk, is liefde en dankbaarheid.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.