Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Koester ’n band met jou kind
16 Mei 2018

Ouers kry almal net een kans as dit by kinders grootmaak kom. Daar is geen oefenlopies nie.

Tog is daar vele ma’s wat voel dat hulle gefaal het as ouers. Hulle het skuldgevoelens oor wat hulle gedoen of nie gedoen het nie. Dit voel veral asof jy die toets gedruip het as jou kind die pad byster geraak het, aan dwelms verslaaf is of misdade pleeg.

Ek glo nie daar is ’n enkele ma wat eerlik kan sê sy was of is altyd die perfekte ma nie. ’n Ma is ook net ’n mens met tekortkominge, al word die bomens- like gedurig van haar verwag. As self ’n ma van twee jong grootmense, het ek ook dié les geleer.

Daarom wil ek jou daaraan herinner dat ’n mens nie tyd kan terugdraai en gedane sake ongedaan maak nie. Maar ek wil jou ook terselfdertyd bemoedig deur te sê elke mens het ’n keuse om elke dag ’n nuwe begin te maak. Elke dag bied jou die geleentheid om jou verhouding met jou kinders te versterk.

Dit is belangrik dat jy jou kind onvoorwaardelik aanvaar al stem jy nie altyd saam met hul besluite nie.

Kommunikeer met kinders

Die belangrikste wat jy vir jou kinders kan doen, is om so veel moontlik tyd met hulle te spandeer en om goeie kommunikasie te behou.

Ons geslag is grootgemaak met die idee dat ons ouers se woord wet is en dat hulle altyd reg is. Dit het vrymoedige kommunikasie baie gestrem. Jou kinders sal jou respekteer as jy eerlik is met hulle en erken dat jy ook foute maak en selfs om verskoning vra. Probeer konflik vermy deur kalm te bly en te dink voordat jy jou humeur verloor.

Andersins sê jy dalk dinge wat seermaak en ’n wrok kan veroorsaak. As so iets reeds gebeur het, probeer weer ’n oop kommunikasie-verhouding met jou kind skep. Sit elke dag tyd opsy om met jou kind te gesels. Stel opreg belang en luister na alles wat hy of sy sê. Een van die grootste komplimente vir ’n ma is as haar kind haar ’n vertroueling maak. Jy kan dit slegs doen deur jou kind te laat voel dat jy hulle onvoorwaardelik aanvaar en nie onnodig krities is nie, maar altyd opregte advies gee.

Om jul verhouding te versterk, doen gereeld spesiale dinge saam wat julle geniet. Dit is ook belangrik om sekere rituele te skep wat jul gesin geniet. Julle kan byvoorbeeld ’n spesiale geskenk- en ontbytsessie in die bed hou vir iemand wat verjaar. Selfs bordspeletjies en om saam kos te maak, kan bande tussen ouers en kinders versterk. As jou kinders uit die huis is, kan julle miskien een Vrydagaand per maand as ’n gesin saam braai en speletjies speel.

Probeer om kinders wat ver bly, gereeld te bel of skryf gereeld ’n e-pos of brief oor wat in jou lewe aangaan. Ek koester sulke e-posse van my ouers wat albei reeds oorlede is en lees dit gereeld as ek verlang. As jou kind ’n verslaafde of misdadiger is of ander ernstige probleme het, moet jy onthou elke mens is verantwoordelik vir die keuses wat hulle maak. Dis slegs in die uiterste gevalle dat owerhede kinders van hul ouers verwyder. Onthou ook dat kinders meestal hul ouers onvoorwaardelik liefhet.

Wat is belangrik vir jou?

In life coaching help ons mense om verantwoordelikheid vir elke lewensarea te aanvaar.

Een van die tegnieke is om te bepaal wat die waardes is waarvolgens jy wil leef en wat die waardes is waarvan jy wil wegbeweeg.

Vrae om jouself te vra om te bepaal wat vir jou as ma belangrik is:

1. Wat is vir my prioriteit in my verhouding met my kinders?

2. Watter tye is die lekkerste vir my met hulle?

3. Wat ontbreek in my verhouding met my kinders?

4. Wat is die lekkerste herinneringe wat ek van my ma-wees het?

5. Watter waardes sal ek graag aan my kinders wil oordra?

6. Hoe wil ek hê my kinders moet my onthou?

7. As ek nie vir mense vertel watter waardes vir my belangrik is nie, sal hulle dit steeds in my lewenswyse kan sien? Onthou, dis nooit te laat om ’n nuwe lewenswyse en waardes uit te leef nie.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


As jy sukkel met jou verhouding met jou kind of ander geliefdes, kan ’n life coach jou help. Jy kan my kontak per e-pos by michelle@salifecoaching.co.za of besoek gerus www.salifecoaching.co.za.
Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.