Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Kom só uit mishandeling
8 Augustus 2018


Wanneer iemand in ’n abusive verhouding bly, is daar baie redes, soos ’n gebrek aan selfwaarde, ’n gebrek aan selfrespek, geen eie plek in die samelewing nie of omdat sy ’n skadu van die man geword het. Hoe kan ’n vrou staande bly te midde van fisiese, emosionele of finansiële mishandeling en heel aan die anderkant uitkom? Die antwoord is, sommige kom nie heel uit nie.

Ander mense is nie noodwendig stukkend nie, maar sterker, broser, harder, kil en gestroop van vertroue. Nie stukkend nie, maar ook nie dieselfde nie. Wanneer ’n vrou genoeg gehad het en soos ’n leeuwyfie opstaan en brul met áls in haar om haarself, maar veral haar kinders te beskerm, dan is sy onkeerbaar! Wanneer is genoeg genoeg?

Genoeg het geen maatstaf nie. Vandag is dit ’n hoop sand en môre is dit net ’n korrel wat daai kameel se rug finaal laat breek. Genoeg! Stop! Nee! Ek weier! Nie meer nie!

So baie keer word die woorde gegil, maar die aksie of wil om tot daardie aksie oor te gaan, ontbreek. Dit verskil van persoon tot persoon. Vir een vrou is dit een of twee verbale woede-uitbarstings, vir ’n ander ’n gewelddadige pluk aan die arm en vir ’n ander is dit jare se klappe, skoppe, vuishoue, blou oë, gebreekte ribbes en leuens.

Elke situasie is anders Geen situasie is identies aan ’n ander nie. In elke situasie hanteer die mishandelde en die mishandelaar die situasie met life tools wat hulle in hul wêrelde opgedoen het. Persepsie en projeksie speel ’n groot rol vir hulle albei.

Ons is creatures of habit en ons vind selfs sekuriteit in die ongesondste situasies. As dit bekend is, vind ons ’n vals veiligheid in vrees, in plaas van veiligheid in die onbekende, al sê jou nugter brein vir jou dis beter om te loop.

Leaving for me was a process, not an event.

Dié gevaarlike situasie word dan ’n gemaksone. Wanneer jy in ’n gemaksone is, strem jy persoonlike groei en kan jy nie in die beste weergawe van jouself ontwikkel nie. Wat van die kinders?

Mishandeling speel ’n groot rol in kinders se karakter en menseverhoudings. Hierdie kinders het ’n versteurde beeld van wat ’n verhouding moet wees. Hulle kan voel dis hul skuld en met ’n ewige skuldgevoel saamlewe wat hul lewens op alle vlakke negatief beïnvloed. In baie gevalle is skoolboelies ook kinders wat by die huis mishandel word.

Dit gee hulle ’n gevoel van beheer en daarom sal hulle maklike teikens uitsoek. In ander gevalle herhaal die geskiedenis van gesinsgeweld homself wanneer die kinders wat slagoffers was, self in verhoudings ingaan. Dit weerspieël die teenoorgestelde van ’n liefdevolle en vredeliewende verhouding.

Jaloesie, verbale en fisiese mishandeling, onthouding van aanraking, belaglike strafrituele en besitlikheid vorm deel van só ’n stormagtige verhouding. In ander gevalle weer, kan kinders ’n beskermingsdrang teenoor hul ma’s ontwikkel dat hulle dikwels planne beraam oor hoe om van die mishandelaar ontslae te raak en dit dan ook probeer deurvoer. Angsaanvalle en nagmerries is ander tekens van hoe die kinders se lewens beïnvloed word.

Hoekom bly vroue? Om weg te breek, word fisies en emosioneel beperk. As gevolg van jare se mishandeling, ontbreek moed en selfvertroue.

Moontlike ander redes sluit die volgende in:

• Geen heenkome en ondersteuning.

• Finansieel afhanklik van mishandelaar.

• Glo nie in skei nie en glo dis beter vir die kinders om albei ouers in hul lewe te hê.

• Weet nie hoe om oor te begin nie.

• Skaam om veroordeel te word.

• Bang hulle word nie geglo nie.

• Hulle is bang, want hulle glo die mishandelaar sal hulle weer in die hande kry. Wat kan jy doen om weg te breek?

• Bemagtig jouself.

• Vind ondersteuningsgroepe.

• Neem iemand in jou vertroue.

• Vind ’n manier om te spaar sodat jy ’n nuwe begin kan maak.

• Gaan na die polisie.

• Doen aansoek vir ’n interdik of veiligheidsbevel.

• Reël met ’n familielid of vriendin vir tydelike verblyf. Dit is nooit te laat vir ’n nuwe begin nie. Solank as wat jy vandag ’n beter besluit as gister neem, beweeg jy vorentoe. 

Sydene Cloete is ’n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is ’n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out Of The Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus.
Meer oor:  Mishandeling  |  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.