Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Luister so reg na mekaar
25 Julie 2018


In die gejaagde samelewing waar ons ook met tegnologie vir aandag meeding, lyk dit soms asof mense die vermoë verloor het om behoorlik na mekaar te luister en te verstaan. Mense praat verby mekaar, frustrasie bou op en kook oor. Niemand word uitgesonder nie. Dit gebeur met jou man of vrou, met familie, vriende en kollegas.

Wanneer mense nie behoorlik na mekaar luister nie, ontstaan daar misverstande. Hierdie misverstande veroorsaak soms selfs geweld omdat mense voel geweld is al hoe hulle “gehoor” kan word. Maar die belangrikste is dat hulle kan voel jy gee nie om nie. Om regtig te luister, is ’n vaardigheid wat net soos enige ander aangeleer moet word.

Wanneer iemand regtig na ’n ander persoon luister, is hul volle aandag by die persoon met wie hulle gesels. Wanneer mense plek-plek luister net om iets te het om te sê, is hulle nie regtig teenwoordig nie.

Hierdie mense gryp dikwels na strooihalms wanneer hulle jou antwoord en gee soms ’n antwoord wat nie eens pas nie. Hoe ons ander mense behandel, hang af van hoe ons die wêreld sien. Hoe ons die wêreld sien, hang weer af van wat ons glo, hoe en waar ons grootgeword het, ons opvoeding, die media se invloed en wat ons al ervaar het. Elkeen van ons het dus ’n unieke manier van hoe ons die wêreld sien en ervaar.

Elkeen kommunikeer dus vanuit hul eie perspektief van hul wêreld. Konflik ontstaan wanneer mense se siening van die wêreld bots. Dit bring ons tot by projeksie. Ons gaan selfs so ver as om te sê alle kommunikasie is projeksie, met ander woorde, alles wat ons sê, kom vanuit hoe ons die wêreld sien en beleef.

Elkeen kommunikeer dus vanuit hul eie perspektief van hul wêreld. Konflik ontstaan wanneer mense se siening van die wêreld bots.

Hoe werk projeksie?

’n Voorbeeld van projeksie is wanneer ’n vrou haar man van die werk af bel om te sê sy gaan laat werk. Haar man glo haar nie, want hy kan nie vroue vertrou nie. Hy glo só, want sy ma het hom as kind by sy ouma gelos en weggeloop. Sy ouma moes hom toe grootmaak toe sy ma nie meer kans gesien het vir haar omstandighede nie.

Sy definisie van liefde is dus dat as iemand hom liefhet, sal hulle baie tyd met hom spandeer en baie aandag aan hom gee. Wanneer sy vrou net laat werk omdat sy die volgende dag ’n deadline het vir ’n projek, “hoor” hy sy sê vir hom haar werk is belangriker as hul tyd saam en dat sy hom nie meer liefhet nie.

Dadelik is daar ’n misverstand as gevolg van hoe die man die wêreld en vroue oor die algemeen sien as gevolg van sy definisie of “reël” oor wat moet gebeur as iemand hom liefhet. Uit die voorbeeld kan ons sien elkeen van ons glo nie net dat die wêreld op ’n sekere manier werk nie, maar ons skep ook onbewustelik “reëls” oor hoe dinge vir ons werk. Dit is die geval al is dit dalk glad nie hoe dinge werklik is nie.

Die vrou in die voorbeeld weet haar man is bang hy verloor haar ook soos sy ma en weet hy heg waarde aan hul tyd saam. Sy kon dus die volgende aan hom gekommunikeer het: “Hallo, my skat, ek weet jy hou nie daarvan as ek laat werk nie, maar ek moet ongelukkig laat werk vanaand. Ek moet ’n projek klaarmaak, sodat ek vroeër op vakansie saam met jou kan gaan. Dan gaan ons soveel meer tyd hê wat ons saam kan geniet.”

Dit is te verstane dat daar misverstande en selfs konflik tussen mense ontstaan wanneer hul sienings van die wêreld en die reëls wat hulle vir hulself maak oor hoe die wêreld werk, nie ooreenstem nie. Om regtig te hoor wat ’n ander mens sê, moet ons dus bewus wees dat hulle die wêreld anders as ons ervaar. As ons regtig met aandag luister na wat iemand anders sê en in ag neem dat dit net hul manier is hoe hulle die wêreld vertolk, kan ons begin om op hul voorwaardes met hulle te gesels. Wanneer ons regtig met aandag luister, sal ons weet wat vir ander mense belangrik is en kan ons dus wat ons wil sê, oordra in terme van dit wat ons weet wat by hulle aanklank sal vind. Hoe jy iets sê, is dus belangriker as wat jy sê.


Die artikel verskyn in die 25 Julie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Kontak gerus ’n life coach om jou te help om effektief te kommunikeer.

Besoek Michelle se webwerf by www.salifecoaching.co.za of stuur vir haar ’n e-pos na michelle@salifecoaching.co.za.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.