Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Maak kinders só gereed vir skool
8 Januarie 2020

Skoolgaan is die begin van ’n nuwe avontuur vir jou kind. Jy kan alreeds in die vakansietyd voorbereiding begin tref om alles so glad moontlik te laat verloop vir wanneer sy na ’n nuwe skool gaan.

Ry of loop gereeld verby die skool en gesels met jou kind daaroor. Deur jou kind vertroud te maak met hul nuwe omgewing, sal dit haar die versekering gee dat sy ’n bekende en verwelkomende omgewing gaan betree. As daar nie reeds ’n ope dag was nie, vind soveel moontlik uit oor die skool of gesels met ander ouers wat reeds kinders het by die skool hoe dinge werk sodat jy weet wat die skool van jou kind en ook van jou as ouer verwag.

As ’n ouer kind reeds die skool bywoon, vra hom om sy sib te vertel hoe die skool en onderwysers is en wat sy kan verwag. Al die bogenoemde skep geleenthede om goeie kommunikasie tussen die huis en skool te kweek en die struktuur en sekuriteit te skep wat jou kind in haar volgende ontwikkelingsfase nodig het.

Reël speelkuiers met nog ’n nuwe leerder en reël dat hulle saam die eerste dag sal aandurf. Pas die nuwe uniform aan en maak ’n rolspelgeleentheid waar sy die skoolkind is en jy die juffrou of ander maatjie.

Dit is baie belangrik om alles wat skool toe gaan, te merk met haar naam!

Lees boeke wat relevant is oor karakters wat die eerste keer skool toe gaan. Gesels baie met jou kind – praat oor ’n boek wat julle gelees het of oor hoe sy voel oor haar nuwe avontuur en wat alles gaan gebeur op ’n informele manier.

In jou kind se eerste skooljaar sal baie tyd spandeer word aan hoe om te lees en sy moet besef dat dit lekker en waardevol is om te kan lees. Jou kind volg jou voorbeeld, so dit is belangrik dat sy jou sien lees eerder as om altyd tyd voor ’n skerm te spandeer. Maak lees lekker – geniet ’n boek saam, praat oor die prentjies en betrek jou kind deur vrae oor die storie te vra.

Moedig hulle aan om oor hul gevoelens te praat

Maak lees deel van haar bedtydroetine sodat dit vir haar ’n genotvolle en normale aktiwiteit word.

Kinders speel baie buite in hul eerste jare op skool, want dit is belangrik vir hul ontwikkeling. Moet dus nie skel as hulle vuil huis toe kom van die skool af nie. Laat jou kind toe om baie te rus en moenie te veel buitemuurse aktiwiteite reël nie. Hulle het tyd nodig om aan die nuwe roetine gewoond te raak. Beperk skermtyd tot ’n minimum en laat jou kind so veel moontlik speel, want dit is deel van die leerproses.

Dit is normaal dat jy emosioneel sal voel oor hierdie nuwe fase in jou kind se lewe. Reël miskien ’n koffiekuier saam met ’n mede-leerling se ouer sodat julle saam kan gesels oor jul gevoelens. Sien ook hierdie tyd wat jy nou beskikbaar het as tyd om aandag aan jouself te gee. As jy ’n tuisteskepper is, is dit dalk nou die regte tyd om daardie besigheid te begin, die oefen- of stokperdjieklas by te woon of in te skryf vir die kursus wat jy nog altyd wou.

As finansies knyp, kan jy aansoek doen vir kwytskelding van skoolfooie. Jy kan geld spaar deur klere by die skoolbank te koop. Jy kan die vorige jaar vra vir skoolbehoeftes as Kersgeskenke, want hulle sal netso opgewonde daaroor wees. In plaas van snoepiegeld kan jy gesonde lekkernye oor die naweek bak vir jou kind se kosblik.

Hoewel dit opwindend is, is dit ook ’n groot stap van laer- na hoërskool, maar net soos met die laerskool sal die verandering makliker wees vir jou kind as jy ’n entoesiastiese, positiewe gesindheid teenoor die verandering het. Woon oriëntasiedae by die nuwe hoërskool by, ontmoet die onderwysers en leer die nuwe fasiliteite en skooldagroetine ken. Vind ’n skoolmaat vir jou kind wat reeds die skool bywoon om hom te help. Sorg dat jou kind se uniform en skoolbenodighede asook buskaartjies of ander vervoer­reëlings vroegtydig uitgesorteer word.

As jou kind skool toe stap of publieke vervoer gebruik, doen oefenlopies saam met hom, totdat hy vertroud is met die roete.

Maak ’n sekuriteitsplan vir krisisse. Wees duidelik oor wie jou kinders moet kontak in ’n noodgeval en wat jy van hulle in ’n noodgeval verwag. Moedig hulle aan om oor hul gevoelens te praat en verseker jou kinders dat dit normaal is om onseker te voel oor die nuwe fase en om gemengde gevoelens te hê.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.