Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KUIERCOACH: Stel die regte voorbeeld
5 September 2018

Kinders leer aanvanklik alles oor die lewe en hulself by hul ouers en die mense rondom hulle en dít beïnvloed hul selfbeeld meer as wat ons dink. Dis hoekom ouers moet seker maak hulle stel ’n goeie voorbeeld, want kinders doen wat hulle sien en nie noodwendig wat aan hulle voorgehou word nie. Dit help dus nie om vir die kinders te sê, “moenie jou voete op die koffietafel sit nie” as jy dit doen nie.

Sal jy van jou kinders se gedrag hou as hulle soos jy optree? Ons leer hulle dalk van mededeelsaamheid, verdraag-

saam­heid, bedagsaamheid, selfliefde en liefde vir ander, maar lewe ons só?

Kinders word basies geprogrammeer deur die wêreld rondom hulle. Deur ons vind hulle hulself. Ons as grootmense is hul kompasse. Ons moet vir hulle die regte rigting wys, maar daarna terugstaan en hulle toelaat om binne hul ver­moëns dinge te doen.

Maar wat doen so baie van ons? Ons vat oor. Ons vertrou nie die kinders om vir hulself te ontdek, te dink, probleme op te los, op te staan en te besluit nie.

Hoe realisties is ons wanneer dit kom by ons kinders se ver­moëns in teenstelling met ons verwagtinge?

Die volgende vrae kan help: Watter eise stel ons aan hulle? Hoe hanteer ons teleurstelling as hulle nie aan ons verwagtinge voldoen nie? Aanvaar jy jou kind onvoorwaardelik?

Deel daarvan om ’n sterk en onafhanklike kind groot te maak, is dat jy ook jou kind moet vertrou. Dit maak nie saak of hulle klein of groot is nie.

“Moenie!” Só skree ons verbouereerd wanneer ’n kind iets nuuts probeer wat dikwels onskadelik is. Jy vertrou nie die kind kan daai glas alleen vashou of op hul eie voete staan nie. Verbeel jou ’n kind hoor 20 keer ’n dag “moenie” en “nee” wanneer hulle begin praat of iets probeer doen.

Hoe help ons hulle só om in ’n sterk, onafhanklike volwassene te ontwikkel?

Kinders doen wat hulle sien en volg ons voorbeelde

Kinders se selfbeeld spruit uit die reaksie van die mense rondom hulle. Hoe kinders komplimente of kritiek hanteer, spruit uit die voorbeelde wat hulle in hul wêreld ervaar.

Kinders doen wat hulle sien. Kyk byvoorbeeld na hoekom kinders mekaar afkraak. Kinders volg voorbeelde van mense wat veronderstel is om van beter te weet, maar steeds ander grootmense of kinders afkraak of beskinder. Kinders maak op grootmense staat om die regte waardes voor te stel.

Hoe help ons kinders om ’n positiewe selfbeeld te kweek?

  • Afbrekende kritiek teenoor jouself en ander is taboe. As jy selfbeeldprobleme het, nader iemand of ’n program om daaraan te werk.
  • Komplimenteer jou kinders opreg. Leer hulle om komplimente met grasie te aanvaar en te gee. Komplimenteer ook ander mense in hul teenwoordigheid.
  • Toon belangstelling in wat hulle doen.
  • Maak tyd om dinge saam as ’n gesin te doen. Kinders wil voel hulle behoort êrens.
  • Eet saam as ’n gesin sonder selfone en leer hulle om opreg in mense belang te stel en oogkontak te maak.
  • Vra hul mening oor sake wat hulle persoonlik raak.
  • Moedig onafhanklikheid aan. Sodra hulle oud genoeg is, laat hulle self besluit wat om aan te trek. Verskaf leiding en nie kritiek nie.
  • Weet wie hul maats is.
  • Moenie kinders met mekaar vergelyk nie.
  • Leer hulle om ferm en met respek vir hulself op te staan.
  • Leer hulle dat almal verskillende talente en vermoëns het en dat dit so moet wees sodat die wêreld gebalanseerd kan wees.
  • Laat elke kind, sodra hulle oud genoeg is, self hul beddens opmaak. Dit begin die dag reg en bevorder ’n gevoel van genoegdoening.

Ons moet ons kinders grootmaak om selfstandig te wees in ’n wêreld waar ons elke dag die moeilikste uitdagings moet oorleef.

Maar hulle moet ook weet jy hoef nie altyd te presteer nie. Dit is ook nodig om net mens te wees en te lag en te weet dat liefde en respek ewe belangrik is om gebalanseerd te fuksioneer as om ernstig te wees.

Meer oor:  Kuier  |  Raad  |  Kuiercoach  |  Verhoudings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.